.
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу - страница 6
Hulle drie is vir dié mense misdadigers, dink Liliane beangs toe hulle haar hardhandig stamp sodat sy vorentoe moet loop.
“Loop!” sê een vir Ignez en beduie dat sy moet aanstap.
Toe sy nog weifel, stamp hy haar dat sy struikel en op haar knieë te lande kom. Sy sukkel orent met trane in haar oë, maar hy bly koud en onverskillig.
Liliane voel hoe Ignez haar hand vat en hul vingers verstrengel krampagtig inmekaar, hoewel hulle nie praat nie. Miskien sal hulle later kan praat, miskien nie.
Op dié oomblik weet Liliane net dat hulle op ’n dun lyn tussen lewe en dood loop. As die papierrol by haar ontdek word, sal hulle haar daaroor doodmaak? Sy weet nie eens wat die rol beteken nie. Sy het die Arabiere se taal leer praat, maar kan hul skrif nog nie ontsyfer nie. Dit is vir haar onverstaanbaar.
Hulle word verby die stapel brandende huisraad geneem, verby die stalle en die binnetuine. Twee liggame onder ’n palmboom is bedek met ’n seiltjie. Liliane herken monsieur Laurent net aan die skoen wat onder die seil uitsteek.
Sy vrou en kinders is nêrens te sien nie.
Liliane knyp haar oë vir ’n oomblik styf toe voordat sy verder loop.
Sy is dankbaar dat hulle nog leef en voel hoe die warm trane oor haar wange loop. Skaars ’n week gelede was daar nog hoop vir haar en vandag … vandag raak sy aan die dood.
Hulle word by ’n sydeur in die huis ingeneem. In die vertrek waar die linne gesorteer word, word hulle ingestoot.
Oomblikke later gaan die deur weer oop, en stap sy hoogheid sjeik Jamal al Din in. Sy gesigsuitdrukking getuig van woede.
Die ander staan eerbiedig terug toe hy by die vertrek in kom. Hy is ’n groot man, effens aan die gesette kant en iemand wat daarvoor bekend is dat hy kort van draad is. Hy bekyk elkeen van hulle van kop tot tone en wys sy afkeuring vir Ignez wat nog steeds huil.
Dan draai hy om en blaf ’n bevel aan sy manne wat Margot hardhandig by die deur uitneem.
“Margot!” roep Liliane en strek haar hand uit om dié van die ouer vrou te neem, maar sy word teruggestamp.
“Liliane … ma fille!” roep Margot terug. “Moet my nie vergeet nie!” Vir oulaas kyk sy nog pleitend, beangs, na Liliane, maar dan is hulle buite sig, en staan net Liliane en Ignez nog daar.
Liliane kan haar hart in haar ore hoor klop.
Onderliggend aan die angs wat haar wil oorweldig, is die besef van hoe weerloos sy is. In die tyd wat sy by monsieur Laurent gewerk het, het sy nie veel met die werklike bewoners van die woestyn te doene gekry nie. Sy het gehoor van die woestynstamme, maar hul onderlinge politiek het haar nie eintlik geraak nie. Nou staan sy van aangesig tot aangesig voor hulle en sy weet heeltemal te min van hulle gebruike en gewoontes. Hulle taal ken sy redelik, dis al. Heimlik bid sy net dat hulle nie die papierrol aan haar sal ontdek nie. Sy het geen idee wat daarop geskryf staan nie, en dit kan selfs dalk inkriminerend teen haar wees.
Sonder om ’n woord met hulle te praat, draai sy hoogheid sjeik Jamal al Din om en stap uit. Buite die deur gee hy kortaf bevele aan sy manne en dan raak dit weer stil.
Liliane en Ignez word later weggeneem na ’n vertrek in die huis waar hulle toegesluit word. Wanneer sy hoogheid vertrek, sal hulle gehaal word en dan dieper die woestyn in geneem word tot daar waar die djins tussen die duine skuil.
Amper elke bekende gesig het vir hulle ’n bedreiging geword. En hulle slaap rusteloos deur die versengende hitte. Dit is reeds donker buite toe ’n vrou vir hulle kos bring.
“Wat gaan hulle met ons doen?” vra Ignez. Die gewone ondeunde vonkeling in haar oë is weg.
“Ek het geen idee nie.” Liliane beduie na die kos. “Jy sal moet eet. Dit is nie meer monsieur Laurent wat ons baas is nie.”
Ignez staar na haar. “Wat het ons besiel om hierheen te kom?”
Liliane kan haar wanhoop aanvoel en moet veg teen die versoeking om ook daarin te verval. “Ek verstaan presies hoe jy voel, maar ek verkies om nie daaroor te praat nie. Ek verafsku dit om so weerloos te wees.”
Later sit hulle swyend by die opening wat as venster dien en kyk uit in die nag. Liliane weet monsieur Laurent is dood, maar sy weet nie wat van madame en die twee kinders geword het nie. En sy het geen benul waar Margot haar op hierdie oomblik bevind nie.
Die uitgebrande stapel lê nog daar voor die huis, terwyl sjeik Jamal al Din se handlangers oral is.
Al sou hulle kon ontsnap, waarheen sal hulle tog gaan? Hulle weet nie eens hoe ver dit na die naaste hawe is nie en dit is waar hulle sal moet uitkom.
Liliane voel-voel tussen haar klere na die hangertjie. Sy vat die voorwerp raak wat in ’n doek toegedraai is, maar haal dit nie uit nie. Sy sal ’n manier moet vind om dit by sjeik Dawud uit te kry, maar hoe gaan sy dit doen?
Twee ure later word hulle gehaal. Hulle word toegelaat om hulle goed in die huis te gaan haal, maar skaars tyd gegun om alles bymekaar te kry voordat hulle uitgeneem word na waar die kamele reeds wag.
Die helder maanlig verleen aan alles ’n vreemde gevoel van onwerklikheid. Die sandsteengeboue lyk bleker as gewoonlik teen die donker bosse en bome, terwyl die duine meer verlate as vantevore lyk. Oral brand daar lampe en is daar bedrywigheid.
Sjeik Jamal al Din is nog besig om die laaste bevele te gee voor hulle vertrek. Eindelik draai hy om en klim op sy kameel.
Net voor húlle op die kamele moet klim, vra Liliane vir een van die rasjids wat van madame Laurent en die twee kinders geword het. Die man aarsel eers, maar sê dan: “Hulle is terug na hul huis anderkant die water.”
Liliane snak na haar asem.
Kon hulle nie maar vir haar, Ignez en Margot ook teruggestuur het Frankryk toe nie? Dit bevestig net weer vir haar dat hulle niks meer as slawe is nie. Sy en die ander twee is sommer net so in Arabië gelos asof hulle niks meer as ’n sak dadels is nie.
Ignez het gehoor wat die man sê en kyk met verskrikte, wydgerekte oë na haar terwyl die besef dat hulle in die steek gelaat is, stadig insink.
Nog nooit tevore het Liliane, wat dikwels al verlate gevoel het, so verlore gevoel soos nou nie.
Vyf dae lank reis hulle snags en slaap hulle in die hitte van die dag. In hierdie tyd kry Liliane die geleentheid om die papierrol uit te haal en daarna te kyk. Sy kan Arabies nie lees nie en skielik het dit lewensbelangrik geword, besef sy. Sy draai dit weer in die doek toe en bind die koord vas. Sy sal dit saam met haar hangertjie veilig hou tot sy ’n manier kan vind om dit by sjeik Dawud bin Nazim te kry. Die man wat dit vir haar in soveel angs gegee het, het met sy lewe betaal. Sy het immers gehoor toe dit gebeur het en sal dit nooit in haar lewe vergeet nie.
Sy is natuurlik ook nie heeltemal onwillig om aan die versoek te voldoen nie, want dié klein papierrol sal haar na die een persoon neem wat sy nie uit haar gedagtes kan ban nie. Sy is halfbang en halfopgewonde daaroor dat die voorsienigheid die rol in haar hande geplaas het en haar na ’n herontmoeting met sjeik Dawud bin Nazim stuur.
Eindelik bereik hulle Ghazi na ’n vermoeiende reis en sonder enige voorval. Die sjeik se huis lê aan die buitewyke van