Ena Murray Keur 16. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 16 - Ena Murray страница 5
“Miskien is hy, ek weet nie. Maar Marlene is soos ’n moedswillige kind wat nie wil leer nie. Solank alles volgens haar sin en wil gaan, is dit goed. Sy ken nie teenkanting en dissipline nie … en Ben het sy eie siening van sake en hy sal nie daarvan afwyk nie. As iemand hier moet toegee, sal dit Marlene moet wees.”
In haar kamer bedink Marlene die saak egter heeltemal anders.
Hy sal nog sy fout uitvind, meen sy. Gee hom maar tyd. Binnekort sal hy na haar terugkruip. Hy het die kleinburgerlike platteland al afgesterf. Hy weet dit nog net nie. Laat die mistroostige stof maar eers oor die droë vlaktes begin waai. Laat hy maar eers begin sukkel met swak personeel en ontoereikende geriewe in die klein hospitaaltjie wat sy pa jare gelede begin het …
Sy was net een naweek saam met hom Rondekuil toe sy pa nog geleef het, en dit was genoeg vir haar. Hy sal haar nooit weer daar kry nie. Nee. Gee Ben net kans. Laat hy maar net ’n paar aande laat tuis kom sonder dat sy daar is om hom met liefdevolle arms te ontvang. Gee hom maar kans dat die verveling hom pak, dan sal hy onthou en terugverlang na die stad en sy geriewe. En na haar.
So gaan die dae verby, en soos hulle al meer word, moet sy haarself al heftiger moed inpraat. Maar soos die een posaflewering na die ander verbygaan en daar geen taal of tyding kom nie, word die oortuiging in haar al minder, verstil dit later. As die telefoon lui, verbleek sy merkbaar, en as dit dan iemand anders is, is dit of die bleekheid verder verdiep.
“Dis Laetitia. Sy wil hoor of jy nie vanaand saam met hulle na die Kuhns wil gaan nie.”
“Dankie, Mamma. Sê vir haar ek het ’n ander afspraak,” is die antwoord maar weer soos gebruiklik.
Die lewe waarvoor sy so lief was, het alle sin verloor. Aanvanklik het sy vol bravade meegedoen, maar haar entoesiasme het al flouer geword, tot dit geen aardigheid meer was om aan die sosiale lewe van hul vriendekring deel te hê nie. Sy het haar vriende begin vermy, altyd gereed met ’n verskoning wanneer die uitnodigings kom.
“Marlene, my kind, dit kan nie so voortgaan nie,” bars haar ma nou los toe sy van die telefoon terugkeer. “Dis nou al drie maande …”
“Ek weet.” Sal sy dit dan nie weet nie? Drie lang maande sonder Ben.
Die moederoë sien bekommerd hoe maer haar kind geword het. Daar is byna niks meer oor van die vrolike lewensvreugde wat haar altyd omstraal het nie. Sy het stil en afsydig geword. “Marlene, jou pa het my verbied om die saak met jou te bespreek, maar, my kind, ek kan nie langer stilbly nie. Jy móét besef dat Ben nie gaan kopgee nie. Teen hierdie tyd is dit baie duidelik. Gaan jy … gaan jy niks daaromtrent doen nie?”
Marlene kyk met onsiende oë deur die venster. As haar ma maar net weet … Drie maande is verby waarin dit so goed is asof die wye Noordweste haar man ingesluk het. Drie maande sonder taal of tyding. Nie eens een keer het hy probeer uitvind hoe dit met haar gaan nie. Hoe dikwels gedurende hierdie lange wagtyd het sy nie al haar hand op die telefoon gehad nie. Maar sy kan nie! Sy kan nie ’n man soebat om na haar terug te keer nie. Wanneer hy terugkom, moet dit uit eie oortuiging wees. Maar deesdae het die “wanneer” in “as” verander. As Ben terugkeer …
As Ben ’n fout gemaak het, moes hy dit teen hierdie tyd al agtergekom het. As Ben werklik vir haar omgee, sou sy verlange hom al teen hierdie tyd na haar teruggedryf het. As Ben al tot sterwens toe siek gesukkel is met swak personeel en geriewe, sou hy nou al die handdoek ingegooi het. Maar Ben is doodstil.
Maar daar is ’n ander rede, ’n rede waarvan haar ouers nie kennis dra nie, wat haar haar hand elke keer weer van die telefoon af laat terugtrek. Die kind waarna Ben verlang het en waarteen sy bly skerm het – sy is immers nog jonk, daar is nog baie tyd vir sulke dinge – is op pad. Benewens baie ander dinge wat sy die afgelope drie maande moes ontdek, was dié ontdekking die grootste en die skokkendste.
Sy weet dit is baie maklik om Ben onmiddellik terug te kry. Sy kan hom maar net bel en vertel dat sy hul kind verwag. Soos sy Ben ken, sal hy dadelik terugkeer. Maar haar trots laat haar nie toe om hom uit plig terug te dwing nie. As Ben terugkom, moet dit wees omdat hy na háár terugkeer, omdat hy nie sonder haar kan lewe nie, en nié omdat sy sy kind verwag nie.
Daarom het sy haar ouers nog nie vertel nie. Want sy weet hulle sal dan hul taktvolle swye verbreek. Hulle sal Ben kontak. En Ben mag nie van die kind weet nie. Nie voordat sake tussen hulle reggekom het nie. Dán eers sal sy hom vertel.
Maar nou sien sy sake gaan nie meer regkom tussen hulle nie. Ben het werklik bedoel wat hy gesê het toe hy daardie oggend van die ontbyttafel af opgestaan het. Sy het werklik nie geglo dat hy dit ernstig bedoel nie, net so min as wat sy werklik bedoel het dat sy liewer haar huwelik tot niet sou laat gaan as om saam met hom Rondekuil toe te gaan.
Maar Ben het elke woord bedoel wat hy gesê het. En dit is nog ’n rede hoekom sy telkens by die telefoon verbygestap het. Hoe kan sy hom nou bel en soebat om haar terug te neem nadat hy haar gewaarsku het dat alles finaal tussen hulle verby is? Wie sê hy wil haar nog terughê? Was hy nie moontlik vreeslik verlig toe sy daardie oggend so beslis geweier het nie?
Al hierdie maande is die verlange draaglik gemaak deur die wete dat hy haar liefhet soos wat sy hom liefhet, en dat hy net so verskriklik na haar verlang as wat sy na hom verlang; dat hy haar net so vreeslik mis as wat sy hom mis. Maar nou … nou begin sy wonder. Met elke verbygaande dag raak sy al meer oortuig dat die prentjie op Rondekuil daar heeltemal anders uitsien as wat sy haar dit die afgelope maande voorgestel het.
Miskien mis hy wel die geriewe van die stad. Miskien verlang hy wel soms terug na die goed toegeruste stadshospitaal en sy bekwame personeel, maar liewer dít as om langer saam te leef met ’n bedorwe, spandabelrige, onvolwasse kind soos sy. Is dit nie miskien nader aan die waarheid nie?
“Marlene …”
Hartseer sien sy vir die eerste keer dat haar ma oud geword het en dat daar spore van kommer op haar gesig afgeëts is wat nie drie maande gelede daar was nie. Haar hart krimp. Sy was selfsugtig, besef sy skielik met nuwe insig. Haar ouers ly ook. Sy besef nou eers hoe bitter moeilik dit vir hulle moes gewees het om te swyg en net toe te kyk. Ook ter wille van hulle sal sy iets moet doen.
“Ek sal hom bel, Mamma.”
Sy sien hoe haar ma se oë vol trane skiet, trane van dankbaarheid en verligting, en haar hart krimp ineen. Haar ma glo nog dat sy maar net kan bel, en alles sal reg wees. Sy self het nie meer daardie geloof nie.
Tog is daar ’n opgewonde bonsing van afwagting in haar toe sy eindelik die bekende stem aan die ander kant hoor antwoord.
“Ben Roux hier. Wie praat?”
Sy formele stem slaan in haar ore vas. Sedert sy haar ma beloof het dat sy Ben sal kontak, het sy hom al ’n paar keer tevergeefs in die hande probeer kry. Elke keer moes sy net hoor dat dokter Roux in die distrik uit is en of daar nie ’n boodskap is nie. Sy het geen boodskap gelaat nie, en ook nie gesê wie dit is wat na hom soek nie. Maar vanmiddag, eindelik, hoor sy sy stem.
“Dis … ek.” Sy sluk, maar dis meteens baie stil aan die ander kant. “Ek … soek jou al twee dae lank.” Sy het nie bedoel om verwytend te klink nie. Die spanning laat haar keel toetrek sodat sy nie verder kan praat nie.
Maar al waarvan Ben Roux bewus is, is die verskriklike teleurstelling en leegheid in hom toe hy die verwyt in haar stem hoor. Sy het nie verander nie. Die vae hoop dat hierdie drie maande insig en volwassenheid sou bring, was tevergeefs.