Ena Murray Keur 16. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 16 - Ena Murray страница 8
Jan van Tonder sluk aan die knop in sy keel. Marlene weet nog nie hoe ver sy reeds in Ben Roux se soort lewe ingestap het nie. Sy het nou dáár gekom waar sy nie meer huiwer om van haar kant ook te gee nie; van haar kant haar offers te bring nie. Dit gaan van haar baie verg om van haar kind afstand te doen – die enigste pand wat sy van Ben Roux oorgehou het – en die moeilike kursus van verpleging te volg.
Of sy sal kan vasbyt, is ’n ander vraag, maar op die oomblik is dit nie so belangrik nie. In hom swel sy hart van trots, en sy kommer hou hy vir homself.
Vier jaar is kort, maar in sekere opsigte ook lank … lank vir ’n man in die veeleisende beroep van geneesheer, lank vir ’n man om alleen te bly, om saans tuis te kom sonder dat daar ’n vrou is wat hom verwelkom, wat vir hom ’n bord kos kan voorsit en die eise van die dag in haar arms kan laat versmelt. En Ben Roux is per slot van sake ’n man.
Maar hierdie gedagtes hou Jan van Tonder vir homself. As Marlene al so ver gedink het, laat sy niks glip nie, en hy gaan sy dogter se geesdrif en hoop nie demp nie. Weer val hy maar terug op die ou beproefde middel – tyd. Tyd, soos in die verlede, sal maar moet leer. Intussen is dit vir hom genoeg om te weet dat sy dogter eindelik rigting in die lewe gekry het, dat sy, as dit so beskore is, nog ’n volwaardige vrou vir Ben Roux sal kan word. En as die lewe anders besluit, dan gaan hy soos in die verlede in die geloof voort. Een ding weet hy: As daar teleurstelling vir sy dogter wag, sal sy nie ondergaan nie. Smart het haar volwasse gemaak. Marlene is eindelik die vrou wat Ben Roux begeer het. So jammer dat hy nog vier jaar sal moet wag voordat hy dit sal ontdek … as dit nie dan al te laat sal wees nie.
3
In die maande wat op hierdie dag volg, is dit dikwels net haar pa se aanmoediging en die feit dat sy weet hy hou dop of sy dit werklik in haar het om iets aan te pak en dit deur te voer, wat Marlene laat vasbyt.
Vir haar, meer as vir enige ander junior, is die aanpassing geweldig. Hoewel sy in die verpleegsterstehuis tuisgaan, bly sy effens eenkant, juis omdat sy soveel ouer, ook ouer as haar jare, voel.
Baie dikwels rus haar oë vol weemoed op haar maats as sy na hul geskerts en vrolike gelag luister; hul praatjies oor kêrels en grappies aanhoor. Sy was ook eenmaal sewentien, agtien. Toe het haar lewe ook net gedraai om partytjies, kêrels, uiteet en gaan fliek. Nou is sy ’n vrou met die stempel geskei op haar afgedruk, ’n moeder met ’n kind. Daardie onbelemmerde jeug is verby. Dit het baie skielik verbygegaan. Tog, moet sy in alle eerlikheid erken, verlang sy nie terug na daardie jare nie. Sy kan na die jong verpleegsters luister sonder afguns, met ’n wyse glimlaggie en met die gedagte dat hulle hierdie tydjie van hul lewe maar moet geniet. Nie meer lank nie, en die lewe sal in alle erns begin – vol teleurstellings, eise en verantwoordelikheid. En dis gouer op jou as wat jy dit verwag.
Maar vir Marlene is die aanpassing ook erger as gevolg van die gemaksugtige lewe wat sy tot hiertoe gelei het. Baie dae moet sy eers stilstaan en wonder of dit regtig sý is wat panne ronddra en beddens opmaak; wat haar stilswyend moet skik na die grille en giere van dokters, seniors en pasiënte. Want dis een ding wat sy al gou moes leer: die dogter van Jan van Tonder het geen aansien in hierdie groot stadshospitaal nie.
Hier is sy verpleegster Roux, kort en klaar. Sy is net ’n paar hande wat moet werk, ’n paar bene wat moet hardloop. Hier is sy bloot ’n naam, ’n naam wat dikwels ongeduldig geroep word om die een of ander taak, heel dikwels nie so aangenaam nie, te kom verrig. Wie sy buite die wit mure van die hospitaal is, stel niemand in belang nie.
En hier leer sy ook om in stilte baie te verduur. Die suster en die pasiënt is altyd reg. Sy, as junior, het geen sê nie. Hier is sy bloot ’n klein ratjie in ’n goed geoliede masjien, en die oomblik as sy nie saambeweeg nie, word sy nie gespaar nie. Die feit dat sy die gewilde dokter Roux se vrou was, maak geen verskil aan die enkeles wat bewus is van die feit nie. Sy wás Ben Roux se vrou. Sy ís nou verpleegster Roux.
Maar nie een keer hoor haar ouers van die trane wat in die dienskamer gestort word nie, van die gepynigde voete nie. As hulle soms die moegheid in haar sien wanneer sy van diens kom, ’n opmerking daaroor maak, is haar antwoord altyd baie ongeërg. Dat sy hulle nie heeltyd ’n rat voor die oë kan draai nie, toon hulle nie. Marlene is nie meer die ligsinnige meisie wat die maklike weg soek nie.
Hoewel haar ouers dit vermoed, weet sy en sy alleen watter verskriklike opoffering dit van haar verg om haar kind by hulle agter te laat wanneer sy ’n paar kort uurtjies vry was en weer na die hospitaal moet terugkeer. Dis of iets elke keer in haar wil breek as sy die warm bondeltjie moet terugplaas in haar ma se arms. Dis dan dat sy wonder of Ben Roux dit werklik werd is, want sonder dat haar pa dit vermoed, het sy ook al aan die moontlikheid gedink dat hy reeds iemand raakgeloop het wat hy waardig genoeg ag. Hy is ’n aantreklike man en aan aandag sal dit nie ontbreek nie.
Maar wanneer hierdie gedagtes in haar opkom, druk sy dit met alle mag van haar af weg en wy haar opnuut aan haar nuwe professie toe. Sy durf nie aan haar vrese en kommer toegee nie, dan sal sy verlore wees. Sy durf nie daaraan dink dat Ben miskien al iemand in haar plek gestel het nie.
Soos die maande verbygaan en Tinkie groter word, ouliker word en al dierbaarder, dien dit vir Marlene tot aansporing. Sy weet dat sy nie net om haar eie geluk stry nie, maar dat sy ook ter wille van haar kind moet volhard. Tinkie moet haar pa terugkry …
Soos haar studies vorder, word verpleegster Roux bekend as bekwaam en betroubaar. Waar sy haar aan die begin met alle mag moes teësit om nie siek te word wanneer sy bloed sien nie, is sy nou vasgevang in haar professie. Soos sy al verder in Ben Roux se wêreld instap, word dié wêreld onweerstaanbaar interessant. Sy raak al getrouer in haar studies, al gretiger om meer te leer en te weet. En juis omdat Ben ’n voorliefde vir die teater gehad het, is dit in die operasiekamer waar sy werklik haar verborge aanleg toon, waar sy Ben soms so naby voel dat sy dankbaar is vir die masker wat haar bewende mond bedek.
Dis ook hier waar sy Herman Henning leer ken. Dikwels trek haar hart saam as haar oë op die breë skouers en die swart kuif val. Iets in hom, in sy manier van doen, van praat, laat haar so geweldig aan Ben dink dat sy soms wens dat hy nie haar wêreld betree het nie. Dikwels betrap sy sy blik op haar in dieselfde peinsende houding as wat Ben haar soms beskou het, en dan voel sy haar hart in haar omdraai.
Toe hy haar een middag voorstaan in die gang, kyk sy onwillig na hom op. Sy sou liewer hierdie man net agter ’n masker wou ken. Nou, in sy gewone klere, is daar weer iets wat haar so intens aan Ben laat dink, dat sy noodgedwonge die sluiers oor haar oë moet trek om hom nie miskien iets van haar innerlike ontsteltenis te laat sien nie.
As sy oë meer raaksien as wat sy dink, laat hy niks blyk nie. Hy het reeds heelwat van haar uitgevind, en hoe meer hy uitvind, hoe meer intrigeer sy hom. Haar koel en afsydige houding trek hom aan. Hy weet dat verpleegster Roux nooit uitgaan nie, geen mansvriende het nie, en al haar vrye tyd aan haar dogtertjie wy.
“Ek het gewonder of jy nie miskien vanaand saam met my sal uitgaan nie, mevrou Roux. Ek is nog ’n redelike vreemdeling in die stad en die aande is maar eensaam. Jy kan self kies waarheen ons moet gaan.”
“Dankie, dokter, maar …”
“Voordat jy nee sê … Ons hoef nie uit te gaan as jy nie so voel nie. Ek is heeltemal bereid om my aand in die geselskap van jou ouers en dogtertjie deur te bring, as jy dit so verkies.”