Ena Murray Keur 18. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 18 - Ena Murray страница 14

Ena Murray Keur 18 - Ena Murray

Скачать книгу

Sy sug en strek haar langs hom uit, heeltemal bewus daarvan dat die nat hemp wat sy uitgespoel het, aan haar mooi liggaam kleef en elke deining van vroulikheid volmaak beklemtoon. ’n Strelende hand lê meteens teen sy wang en sy draai sy gesig na hare.

      “Ek wil met jou praat, Mark. Ernstig. Vergeet nou van Willemien.”

      Woedend pluk Willemien die beswete klere van haar liggaam af toe sy by die rivieroewer kom. Eers spoel sy hulle uit en hang hulle oor ’n bos om droog te word. Dan gly sy af in die koel lafenis van die rivier, voel hoe die water die ergste onstuimigheid in haar tot bedaring laat kom.

      Maar tog wyk die ontsteltenis nie heeltemal nie en noudat sy terugdink, kan sy nie verklaar waaroor sy so hewig ontsteld geraak het nie. Sy moes hom uitgelag het, dink sy wrewelrig. Natuurlik moes sy hom uitgelag het. Hy laat haar mos koud. Dis Ian wat haar hart besit, Ian van wie hulle nog nie ’n enkele spoor kon kry nie … Ian wat in twee dae ’n groter vreemdeling geword het as die man wat haar enkele oomblikke gelede so ontstel het dat sy, sonder om links of regs te kyk, haar klere uitgetrek en in die water geduik het … en so een van Mark se gulde reëls verontagsaam het.

      Nie net is dit Mark se reël nie, dit is dié reël van selfbeskerming in die oerwoud – om eers, voordat jy dit in die rivier of selfs net dig teen die oewer waag, die wêreld om jou deeglik te bespied, veral die water …

      5

      Maar op hierdie oomblik dink Willemien nie aan reëls nie. Sy kyk nie ’n enkele keer om haar nie. Nadat sy haar hare deeglik afgespoel het, gaan lê sy op haar rug terwyl sy aan ’n oorhangende tak vashou sodat die stroom haar nie moet afdryf nie. Sy maak haar oë toe.

      Sy moet meer aan Ian dink, op Ian konsentreer. Sy voel skuldig dat sy die afgelope dae so min aan hom gedink het. Hy behoort elke uur, elke oomblik in haar gedagtes te wees as sy hom werklik liefhet. Maar natuurlik het sy hom lief, dink sy driftig. Natuurlik is hy nog die enigste man in die wêreld vir haar. Natuurlik is dit verskriklik om daaraan te dink dat hy miskien nie meer lewe nie, dat sy hom nooit weer sal sien nie …

      Om haar kabbel die rivier. Die stroom vloei egalig, want dit het nog nie werklik begin reën nie. Die stroom is op hierdie laatmiddag byna glad; so glad dat die geringste rimpeling duidelik gesien kan word.

      Maar Willemien sien geen rimpeling nie, want sy konsentreer met alle mag op Ian se gesig. Op die dierbare gesig wat sy so liefhet en wat telkens verdring word deur ’n ander gesig wat sy met geweld op die agtergrond moet terugdwing.

      Dieselfde rimpeling het Lucia ’n rukkie gelede vinnig uit die water laat padgee, want daardie rimpeling kan net een ding beteken … gevaar … dodelike, grusame gevaar.

      Waar Lucia en Mark op die gras ontspan ná die dag se uitputtende staptog, is dit rustig en vreedsaam. Bokant hulle kwetter die kleurryke voëls. Om hulle hang die rankplante soos groen gordyne en sluit hulle af in ’n intieme hoekie.

      Lucia se blou oë is donker van emosie. Nog nooit in haar lewe het sy ’n man meer begeer as hierdie vreemdeling nie. Aan haar maak dit geen saak wie en wat hy is nie. Die afgelope dae het die hartstog en verlange na hom haar byna rasend gemaak. Dit het ’n brandende vuur geword: hierdie man wil sy hê, nie net in wilde, ongetemde hartstog in hierdie tropiese oerwoud nie, maar ook wanneer hulle eendag hier uit is, wanneer hulle verplig sal wees om hulle weer by die beskaafde wêreld aan te sluit. Die onbekende Mark is die man wat sy vir die res van haar lewe aan haar sy wil hê, waar sy gaan, waar sy sit, waar sy slaap.

      Vir die eerste keer in haar lewe het sy ’n man ontmoet om wie se ontwil sy bereid is om Julius Cane se miljoene op te offer net om in sy arms te wees. Die afgelope twee jaar was daar baie mans in haar lewe – veral wanneer sy jaarliks oorsee ontvlugting gaan soek het. Sy het almal wat die lewe op haar pad geplaas het, met albei hande aangegryp, sonder gewetenswroeging.

      Maar elke keer het sy terugkeer na Julius Cane wat nog altyd die troefkaart in sy bleek, maer hande vasgehou het. Hy het geld, die een ding wat die mans met wie sy roekeloos rondgeflerrie het, haar nie kon bied nie, altans nie soveel soos wat Julius Cane haar kon gee nie.

      Tot onlangs was geld Lucia se god. Selfs in die donker ure toe elke vesel in haar liggaam geroep het om ’n maat, het sy onthou van haar kinder- en jongmeisiedae, van die verskriklike armoede, die vernederings, die frustrasies, die verbittering en opstand. Nee, daar was geen man op hierdie aarde vir wie sy Julius Cane se miljoene sommer sou prysgee nie.

      En toe, op ’n dag, in die lughawegebou van Madrid, het haar blik toevallig op ’n man geval … En die noodlot het ingegryp … en vandag, terwyl sy na die sterk gesig hier langs haar kyk, weet sy: nie eens Julius Cane se miljoene sal haar kan weghou van hierdie man af nie. Sy is bereid om af te sien van die vooruitsig om een van die rykste weduwees in Suid-Afrika te wees.

      Maar heeltemal sonder geld sal sy ook nie kan leef nie. Want al het die vreemdeling niks anders as sy pragtige liggaam en sy jeug en sy hartstog om haar te bied nie, lê hier tussen die groen lower en baldadige plantegroei ’n bruin leersak …

      “Mark, ek …”

      “Netnou, Lucia. Ek moet eers gaan seker maak of alles veilig is by die rivier. Ek is nooit gerus as julle onder my oë uit is nie,” sê hy vinnig, en begin dadelik aanstryk.

      Lucia se blou oë, wat ’n sekonde gelede nog geskitter het, verkil, verys. Terwyl sy sien hoe hy uit haar gesigsveld verdwyn, trek haar oë saam en tussen die skrefies blink ’n verbete, vasberade lig. Haar planne is agtermekaar en sy gaan baie beslis nie toelaat dat ’n meisietjie van negentien dit omvergooi nie.

      Mark se houding teenoor Willemien is baie vaderlik, maar tog het sy al gesien dat hy na haar kyk met iets onpeilbaars in sy oë, iets wat haar ongerus maak. Sy het haarself al probeer wysmaak dat sy belaglik is om te dink dat Mark by ’n vrou soos sý sal verbystap na die kinderlike Willemien. Hy is tog ’n ervare, volwasse man. ’n Meisietjie soos Willemien sal hom tog nie aantrek nie. Nee, Willemien was heeltemal reg toe sy gesê het sy en Mark pas bymekaar; hulle is albei ervare, albei volwasse, albei mense wat die lewe ken …

      Natuurlik is dit belaglik om benoud te voel omdat sy netnou vir Willemien in Mark se arms betrap het. Willemien se reaksie was ’n groot gerusstelling. Sy is nog dolverlief op daardie kêrel van haar. Lucia se lippe trek smalend. Hoe belaglik om Ian bo ’n man soos Mark te verkies. Nie dat dit háár nie pas nie. Inteendeel. As Willemientjie weet wat goed is vir haar, sal sy verlief bly op haar Ian Crebbin …

      Maar Mark self … Sy roer onrustig. Dit het haar nog nooit so lank gekos om ’n man te oorwin nie. Teen hierdie tyd móét hy weet wat haar gevoelens teenoor hom is. Selfs Willemien, die klein snip, het dit al agtergekom. Hy weet dit dus, maar hy is besig om met haar te speel, besef sy met ’n skok. Ja, hy vermaak homself; hy kyk hoe ver hy haar kan dryf … en hy weet so goed soos sy dat dit juis sy effense terughouding is wat haar al sterker aanvuur, wat die vlam in haar al tot ’n hoogoond aangeblaas het.

      Die feit dat hulle selde alleen is, bemoeilik haar pogings, want gedurig is sy bewus van Willemien se afkeurende oë op haar. Miskien is dit ook die rede hoekom Mark tot dusver nie veel reaksie getoon het nie, want die veroordelende oë van Willemien is altyd by.

      ’n Wrede trek lê nou op die lippe wat andersins so aanloklik lag. Ian Crebbin moet gou opgespoor word sodat hy sy Willemien kan besig hou.

      Skielik bars die stilte om Lucia aan duisend skerwe, maar sy bly roerloos lê, ’n eienaardige uitdrukking van spanning en afwagting op haar gesig.

      Willemien word uit haar somber gedagtegang geruk toe ’n waarskuwende stem digby haar op die oewer opklink.

Скачать книгу