Geheim van die Erongoberge. Magdaleen Viviers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Geheim van die Erongoberge - Magdaleen Viviers страница 3

Geheim van die Erongoberge - Magdaleen Viviers

Скачать книгу

kyk weer na die verpleegster. “Sal jy my vriend kan laat weet waar ek is? Dis baie dringend. Hy bly in Suid-Afrika.”

      Sy glimlag vriendelik. “Sekerlik, meneer Brown. Gee my net al die besonderhede.”

      Nadat hy die inligting aan haar verstrek het, stap sy weg. Maar by die deur aarsel sy en kyk terug na die man in die bed. “Ek moet jou waarsku: die polisie wil met jou kom gesels. Hulle wil alles omtrent die ongeluk hoor.”

      Met ’n onrustige gevoel kyk hy haar agterna. Wat moet hy die polisie vertel? Hulle sal uitvind dat die vliegtuig nie aan hom behoort het nie en dat hy nie alleen daarin was nie.

      Toemaar, hy sal wel aan ’n plan dink en hulle op ’n dwaalspoor lei. Hy sal hulle beslis nie vertel van die diamante nie. Dit behoort aan hom. Hy sal sorg dat dit in sy besit kom, al moet hy weer moor daarvoor.

      1

      Met nougetrekte oë bestudeer Wim Beukes die effens gesette man voor hom. Daar is net iets aan die man waarvan hy nie hou nie. Hy luister nie veel na wat Charl Taljaard kwytraak nie, sy oë bly vasgenael op die lang oorkrabbertjies wat aan sy ore rondswaai.

      Onvergenoeg kyk Charl Taljaard na die man voor hom. Sy stem is effens ongeduldig toe hy vra: “Stel jy belang in my aanbod, meneer Beukes? Een van my vriende het jou aanbeveel, dis waarom ek hier is.”

      Beukes antwoord hom nie, en Taljaard frons vererg. Het die man nie gehoor wat hy gesê het nie? Waaraan het Beukes gedink terwyl hy hom so sit en bestudeer het?

      “Soos ek reeds gesê het,” vervolg hy, “my plan is om na die Erongoberge te gaan. Dis in Namibië, as jy miskien nie weet waar dit is nie.”

      Die sarkasme is duidelik hoorbaar in sy stem en Wim vererg hom, maar hy laat niks blyk nie.

      “Ek weet waar dit is, meneer Taljaard. Waarom juis daarheen? Enige spesifieke rede? Ek moet darem weet waarby ek my inlaat. Ek aanvaar ook net kontant.”

      Hy noem ’n bedrag wat Charl laat sluk. Beukes is glad nie redelik met sy prys nie, maar hy móét net by daardie berge uitkom. Eers by Tony waar hy nog in die hospitaal lê, en dan sal hy na daardie berge gaan. Beukes hoef ook nie te weet van Tony nie.

      “Goed,” stem hy in. “Verder is die redes persoonlik. Al wat ek verlang, is dat jy my daarheen moet neem. Jy is mos ’n gids of iets, nie waar nie?”

      “Ek is geen gíds of iets nie, Taljaard. Ek is ’n grootwildjagter en safarileier,” antwoord Wim Beukes duidelik geïrriteerd, sy stem kortaf. “Is dit net jy wat gaan, of is daar nog ander persone?”

      Charl Taljaard sug innerlik. Vir ’n oomblik het hy gedink Beukes se woede gaan die oorhand oor hom kry. Daardie snaakse ligblou oë van hom kyk koud en dwarsdeur ’n mens.

      “Daar is twee meisies en ’n man wat ons sal vergesel,” antwoord hy.

      “Wanneer wil julle vertrek?”

      “So gou moontlik. Dis dringend. Ek weet die Erongoberge is in Namibië, maar waar dit is, weet ek nie. My vriend het gesê dat jy die plek ken.”

      “Wie is hierdie vriend van jou? Ken ek hom? Is julle paspoorte in orde? Onthou, ek wil nie by die doeane voorgekeer word weens foutiewe paspoorte nie. Dan draai ek net daar om. Ek val ook baie vroeg in die pad en wil nie nog met vroumense sukkel nie. Sal Vrydagoggend tweeuur julle pas?”

      Met ’n sagte snork staan Taljaard op en stap na die deur. “Ja, dit sal, en nee, my vriend ken jou nie. Hy het net van jou gehoor, daarom het hy jou aanbeveel. Sy naam is Tony Brown. Hy’s ’n ingenieur wat ’n ruk lank in Angola gewerk het. Moenie bekommerd wees nie, Beukes, die meisies sal betyds wees.”

      “Is dit jou vrou en jou vriend wat jou vergesel?” vra Wim Beukes weer.

      ’n Oomblik aarsel Taljaard by die deur. “Nee, weens omstandighede kan my vriend ons nie vergesel nie. En dis net ’n vriendin. Die ander mense is die oorlede vlieënier se suster en haar verloofde.”

      “Ons sien mekaar dan Vrydagoggend tweeuur hier onder voor die woonstelgebou. Ek sal net ’n halfuur wag. Indien julle nie betyds opdaag nie, kanselleer ek die ekspedisie.”

      Taljaard loop uit sonder om te antwoord.

      Met nougetrekte oë staar die dertigjarige Wim Beukes die man agterna. Hy hou nie van hom nie. Taljaard se swart oë laat Wim aan ’n slang s’n dink. Koud en slu. Sy swart hare is glad agteroor gekam en in ’n poniestert in sy nek vasgevang. Oorkrabbers pronk aan albei ore.

      Wim gril liggies. Hy het niks teen ’n man wat oorkrabbers dra nie. Inteendeel, ’n paar van sy vriende dra dit ook. Maar dié man s’n hang lank teen sy ore af en diamante flits met elke beweging wat hy met sy kop maak. Met ’n stekelrige gevoel van irritasie wonder Wim of dit regte diamante is. Taljaard se arrogansie en sarkasme steek hom ook dwars in die krop.

      Ingedagte druk Wim die deur van sy woonstel toe. Tony Brown? Nee, die naam klink nie bekend nie. Hy kyk met ’n frons terug na die toe deur toe hy gaan sit. Waarom voel hy so onrustig oor hierdie ekspedisie? Gewoonlik waarsku sy sesde sintuig hom teen gevaar, en hy ignoreer nooit daardie gevoel nie. Dit het al meermale sy lewe gered. Sy oë trek nou saam. Dis hierdie Taljaard wat hom onrustig maak, besef hy.

      Wim se gedagtes dwaal weg. Hy vergesel gereeld jagters op hul ekspedisies. Partymaal bly hy maande van die huis weg op een so ’n jagekspedisie. Hy onderneem ook gewone safari’s waar hy mense vergesel, soos die een wat hy so pas aanvaar het. Dis te sê indien die geld reg is.

      Andersins is hy op sy beesplaas in die Limpopovallei. Of op sy wildplaas in die Laeveld. Wanneer hy van so ’n ekspedisie af terugkeer, gebruik hy sy woonstel in die stad om sy besigheid eers af te handel, voordat hy na een van sy plase vertrek. Hy het net gister teruggekeer vanuit die noorde van Afrika, waar hy vir twee maande ’n safari gelei het.

      Moeg strek hy sy lang bene voor hom uit. Maandagoggend sou hy na sy beesplaas vertrek het, waar sy pa na sy plaas omsien. Sy ouers woon op Hoedspruit. Sodra die wanderlust Wim beetpak, kom bly hulle op sy beesplaas. Dan sien sy pa om na alles. Hy weet dat sy pa dit geniet om met die beeste te werk, al stry hy daarteen.

      Wim vou sy hande agter sy kop saam en grinnik skeef terwyl sy blik deur die vertrek dwaal. Hy’s ’n geswore oujongkêrel en ’n veldmens. Die stad sal hom doodwurg, dink hy. Selfs as hy te lank hier in sy woonstel in Johannesburg bly, voel dit later vir hom of die mure hom wil versmoor. As Charl Taljaard nie vanoggend sy woonstel binnegestap het nie, sou hy na sy plaas vertrek het sodra sy besigheid afgehandel was.

      Peinsend sit die groot man met sy blonde kop agteroor teen die stoelleuning. Ingedagte voel hy aan sy krullerige hare wat lank in sy nek en by sy ore omkrul. Hy het nog nie kans gekry om dit te laat sny nie. Met ’n skewe glimlag druk hy sy lang vingers deur sy bos hare, sy ligblou oë gerig op die televisie. Sy gedagtes keer terug na die man wat ’n rukkie gelede sy woonstel verlaat het.

      Met sy ondervinding deur die jare het Wim geleer om mense vinnig en deeglik op te som, en hy is selde verkeerd. Die voorgevoel wat hy nou het, het hom in die verlede geleer om dit nie te ignoreer nie. Dis waarom hy die gevoel van onrus nie van hom kan afskud nie. Charl Taljaard voer iets in die mou, hy is nie openlik met hom nie. Die selfversekerde houding van die man staan hom ook nie aan nie, en daardie oorringe!

      Hy hou net eenvoudig nie van Taljaard nie, besluit Wim.

      Simoné

Скачать книгу