Geheim van die Erongoberge. Magdaleen Viviers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Geheim van die Erongoberge - Magdaleen Viviers страница 5

Geheim van die Erongoberge - Magdaleen Viviers

Скачать книгу

darem nou nie so mooi –”

      “Tertius Hougaardt! Moenie so vroeg met my sukkel nie. My senuwees is klaar op hol.”

      Hy sit sy arm om haar skouers. “Jy moenie jou so opwerk nie. Ek wil nie met ’n senuwrak opgeskeep sit nie. Geniet hierdie rit na die vreemde land. Miskien ry ons deur groot stede voordat ons by die berge kom. Dalk vertoef ons by ’n inkopiesentrum of iets.”

      “Stede? Inkopiesentrums? Moenie dat ek lag nie. Ek het gehoor daar is nie sulke goed in Namibië nie, net klein ou dorpies. Miskien nog gehuggies.”

      “Hoe weet jy? En by wie hoor jy dit? Jy was nog nie in Namibië nie, en geen land het net gehuggies nie.”

      Sy skud haar kop ontkennend. “Nee, ek was nie, maar ’n mens kan –”

      “Nee, jy kan nie. Wag eers totdat jy self daar is, dan kan jy oordeel. Kom, ons moet gaan.”

      Toe hulle ’n rukkie later na die betrokke adres ry, merk hy op: “Hmm, hy moet beslis geld hê as hy in hierdie buurt woon.”

      “Is jy seker dis die regte adres?” vra Simoné senuagtig. Sy werk haar behoorlik op.

      Tertius wys na ’n man wat duidelik ongeduldig met sy hande in sy broeksakke op die sypaadjie staan. “Ja, en ek wed jou dis ons man daardie en hy wag beslis al op ons. Lyk my ons oorring-vriend het nog nie opgedaag nie.”

      Sy hoor nie wat hy sê nie. Haar blik rus op die man op die sypaadjie. Hy lyk beslis nie soos ’n takhaar nie. Wat sy verwag het, weet sy self nie. Hy is groot gebou, met ’n paar breë skouers.

      “Hy moenie sê ons is laat nie, dan –”

      “Hokaai, jong. Dis te vroeg om te baklei. Gee hom eers ’n regverdige kans. Jy ken hom nie. Onthou, ek het nie kans gekry om ’n paar selfverdedigingslesse te neem nie.”

      Sy glimlag vir Tertius se verspottigheid terwyl haar oë nog steeds op die vreemde man rus, wat dadelik naderstaan toe Tertius stadiger ry.

      Hy nader hulle met besliste treë toe hulle stilhou. Simoné kyk hoe hy sy hand na Tertius uitsteek en hom voorstel. Sy stem is diep.

      “Ek dink jy moet jul bagasie in my voertuig en waentjie oorlaai en jou motor terugneem,” sê Wim Beukes. “Dit kan nie hier staan totdat ons terugkom nie, dan is hy beslis weg.”

      Stadig klim Simoné uit, baie bewus van sy sterk persoonlikheid, sy gespierde lyf en ligte hare.

      “Dis Simoné van der Walt, my verloofde, en dis meneer Wim Beukes, Simoné,” stel Tertius hulle aan mekaar voor.

      “Ek is net Beukes, of Wim. Jy kan self kies. Ek is bly julle is betyds.”

      “Môre, menéér Beukes,” sê Simoné nadruklik. “Ek is altyd betyds en –”

      Tertius val haar vinnig in die rede. “Hier kom die ander.”

      Simoné voel ongemaklik onder Wim se speurende blik. Sy trek haar skouers parmantig agteroor en lig haar ken uitdagend. Toe ’n glimlaggie stadig om sy sensuele mond krul en ’n glinstering in sy ligblou oë kruip, vervies sy haar hewig. Maar voordat sy aan iets kan dink om te sê, knik hy sy kop effens vir haar. Dan draai hy na die ander persone wat by hulle aansluit.

      Simoné hoor skaars toe Joan Vorster aan Wim en Tertius voorgestel word. Haar blik rus op Wim Beukes. Die man is heeltemal anders as wat sy hom in haar gedagtes voorgestel het. Sy sal definitief in haar spoor moet trap, want sy houding vertel haar dat hy geen nonsens van haar of enigiemand anders sal duld nie.

      Stadig dwaal haar blik oor hom. Hy’s gevaarlik aantreklik met daardie uitsonderlike ligblou oë van hom. Sy denim span styf oor daardie stewige agterstewe en gespierde bene van hom. Hy is so naby haar dat sy nie die spiere onder sy T-hemp kan miskyk nie.

      Kry die man dan nie koud nie? wonder sy en vou haar baadjie stywer om haar. Die luggie is koel so vroeg in die oggend. Aan sy sterk nek en die manier waarop hy daardie aristokratiese blonde krulkop van hom hou, dink sy dat hy baie befoeterd kan wees. Sy wonder of hy getroud is.

      Onverwags draai hy om en betrap haar blik op hom. Dadelik merk sy hoe sy een wenkbrou geamuseerd opwip. Ongemaklik draai sy weg. ’n Verleë blos kleur haar wange en sy is bly hy kan dit nie sien nie. Hoe kon sy die mansmens so staan en bestudeer het?

      Vererg, meer vir haarself as vir hom, haal sy haar bagasie uit. Sy kyk op toe iemand haar aan die arm neem. Beslis maak sy haar arm uit Charl Taljaard se hand los en kyk hom vies aan.

      Charl draai sy sjarmekraantjies vroeg oop. “Goeiemôre, meisie. Het jy lekker geslaap? Jy lyk pragtig so vroeg in die oggend. Ek dink –”

      “Verskoon my, maar ek dink Wim Beukes gaan nie vir ons wag indien ons nou staan en klets nie.”

      Sy draai om en stap na waar sy sien hoe Wim met gevoude arms teen sy voertuig aanleun en ongeduldig vir hulle wag. Daardie blou oë is beurtelings op hulle gerig. Waaraan dink hy? Die simpel mansmens sal nie eens aanbied om my te help nie, dink sy omgekrap.

      Hy lig die valdeur op van die waentjie wat agteraan sy Discovery gehaak is. Dan eers neem hy die bagasie by haar. “Hmm, hopeloos te veel as jy my vra,” lewer hy ongevraag kommentaar.

      “Luister, meneer … e … Dinges, ek het nie jou kommentaar gevra nie, en ek –”

      “Ek wonder nou met wie sy praat, Tertius,” vra hy aan Tertius wat by hulle aansluit. “Sien jy miskien ’n meneer Dinges hier rond, of praat sy nou met daardie oorring-vent? So terloops, ek merk hy dra nog sy lang oorringe. Ek wonder of hy dit gaan afhaal.”

      Tertius lag en slaan sy arm om haar skouers.

      Wim draai na Simoné, sy blou oë koud. “My naam is Wim. Ek hou beslis nie daarvan dat jy my meneer Dinges noem nie, verstaan ons mekaar?”

      Simoné trek haar asem hoorbaar in. So ’n … Sy gluur hom aan. Dadelik en beslis draai Tertius haar aan haar skouers weg en stuur haar na sy motor voordat sy Wim kan antwoord.

      “Jy het daarvoor gesoek, want ek weet jy het hom moedswillig so genoem. Ek dink jy ry saam met my sodat ek my motor by my woonstel kan laat, terwyl hulle ons volg.”

      “Miskien is dit die beste. Ek weet nie hoe ek dit gaan uithou nie. Hy’s ’n onuitstaanbare, arrogante mansmens. Ek sal nie verantwoordelik wees vir my dade en –”

      “Jou woorde nie, nè? Jy ken die man nog nie eens vyf minute nie. Hoe kan jy hom arrogant noem? Toe, in is jy.”

      Hy draai na Wim, wat geduldig in die Discovery wag. “Ons sien julle by my woonstel. Taljaard gaan seker ook sy motor terugneem?”

      Wim knik en wys sy duim na bo.

      Toe Tertius en Simoné ’n ruk later in die Discovery klim, sit Charl Taljaard reeds vol selfvertroue voor. Met ’n skouerophaling klim Tertius agter saam met Simoné by Joan in.

      Toe Simoné voor haar in die pad kyk, ontmoet haar blik die ligbloues in die truspieëltjie. Meesterlik hou hy haar oë gevange en sy is onmagtig om weg te kyk. Eers toe Tertius met haar praat, kan sy eindelik haar blik wegskeur. Verward probeer sy haar gedagtes terugbring toe sy sien hoe vreemd Tertius na haar kyk.

Скачать книгу