In landsbelang. Quintus van der Merwe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу In landsbelang - Quintus van der Merwe страница 5

In landsbelang - Quintus van der Merwe

Скачать книгу

kyk na haar. Die oë reflekteer die groen van die see. Haar lang hare is opvallend rooi in die laaste sonstrale.

      “Die minister het my ingeroep om ’n e-pos uit Frans te vertaal. Hy weet ek het uiters geheime klaring, maar ek moes die vertaling verbatim daar in sy kantoor doen. Dit het vir my gelyk asof hy min of meer weet waaroor dit gaan, maar hy wou presies weet wat elke woord beteken.”

      ’n Groot brander breek onverwags oor die muur. Carla gil en hulle probeer wegspring, maar hulle is albei nat en staan vir ’n paar sekondes asof hulle gevries het. Hulle kyk na mekaar en raak aan die lag.

      “Wie het die teks geskryf? En waaroor gaan dit?”

      “Belowe jy gaan ons nie in die moeilikheid laat beland nie. Ek weet ek mag nie vir jou vertel nie, maar dit pla my regtig vreeslik.”

      “Dit hang af, Carla. Ek kan nie belowe nie.”

      “Dis ’n anonieme e-pos wat aan die minister van veiligheid en sekuriteit gerig is. Ek vermoed dit kom uit Europa, maar Dyantyi het die adresgedeelte afgesny. In die brief beweer die persoon dat hy oor baie sensitiewe inligting omtrent president Jackson Dube se besoek aan Parys beskik. Volgens die persoon bestaan daar eksplisiete foto’s van die president saam met ’n vrou. Erger nog, dis skynbaar geneem tydens die besoek aan Parys toe die president na bewering met wapenhandelaars onderhandel het.”

      “Eksplisiet soos in naak en in kompromitterende posisies?”

      “Wel, ek het nie die foto’s gesien nie. Ek neem so aan.”

      “Maar enige aap kan sulke bewerings maak. Waar is die bewyse?”

      “As jy sien hoe die minister gereageer het, is hier beslis rede tot kommer. Die probleem is dat die president ontken dat hy hoegenaamd daardie tyd in Frankryk was. Hy het blykbaar in die parlement gesê dat hy nie met die Franse oor wapens gepraat het nie. Maar hier is nou blykbaar foto’s.”

      “Maar dit kan nog steeds alles net valse bewerings wees.”

      Carla gaan staan en kyk stip na Bradley.

      “Bradley, die minister het na ek die vertaling gedoen het, die telefoon opgetel. Ek kon hoor dat hy in Xhosa iets in die lyn van “ontslae raak” gesê het. My eerstejaar Xhosa is genoeg om te kon verstaan. Terwyl ek nog in sy kantoor was!”

      “Hy het dus bevestig dat dit dalk wel gebeur het en dat die foto’s eg kan wees.”

      “En eers toe besef hy skynbaar dat ek nog in die kantoor is. Dis tóé hy met sy dreigemente teenoor my begin. Dat as dit ooit uitlek, ek so goed as dood is. Hy kan mos nie so met my praat nie. Ek kan nie meer so aangaan nie. Ek wil nie meer werk toe gaan nie. En ek dink iemand hou my dop. Ek sal nie verbaas wees as hulle ons nou dophou nie.”

      Bradley kan nie help om te kyk of daar inderdaad so iemand is nie. Daar is verskeie motors langs die see geparkeer en oral stappers en drawwers wat die laaste daglig gebruik.

      “Ons sal ’n plan moet maak. As die briefskrywer ernstig is en wel die foto’s pos of op die internet plaas, of die inligting lek uit, kan dit vir jou ook gevolge inhou.”

      “Hoe bedoel jy?”

      “Wel, minister Dyantyi kan vermoed dat jy dit aan iemand vertel het. Iemand soos ek byvoorbeeld, wat dit weer aan ’n mediakontak laat val.”

      Sy kyk vinnig na Bradley. Dit is asof die wind nou harder en kouer waai. Daar is boonop ’n groot, donker wolk bokant die see wat vinnig nader skuif stad toe.

      “Carla, kom ons draai om. Dit gaan nou begin reën.”

      Wanneer hy Carla by haar motor groet, is daar weinig wat hy kan sê om haar gerus te stel. Bradley besluit op die ingewing van die oomblik om Carla te agtervolg. Hy wil vasstel of iemand hulle dopgehou het.

      Hy is redelik seker dat kontak met vreemdelinge of ongewone optrede gemonitor sal word. Hy het naby die restaurant parkeer en moet vinnig loop om by sy motor te kom voor sy te ver vorder.

      Vir ’n ruk lank kan hy haar nie sien nie, maar toe hy by die Waterfront se sirkel kom, sien hy die grys Polo regs, stad se kant toe, draai. Daar is ’n paar motors tussen hulle, maar hy ken die pad goed en weet hy kan haar voor die stad inhaal. Bowendien is die kanse goed dat die verkeerslig by die Buitengracht haar ’n paar minute sal ophou.

      Die suidwestewind het die Kaap nou behoorlik ingeval en slierte reën slaan hard teen die motor se ruite. Dit het vinnig donker geword en Bradley moet mooi kyk om die Polo voor hom op te spoor. Hy jaag by ’n paar stadige motors verby en sien tot sy verligting dat die Buitengracht-verkeerslig rooi is.

      Hy weet Carla woon in Tamboerskloof en dat sy regs sal moet draai. Hy ry stadiger en posisioneer hom dat daar ’n paar motors tussen hulle is. Hy sal betyds moet wegkom, want die lig bly net ’n kort rukkie groen.

      Bradley kyk na die motors tussen hom en Carla. Die swart Golf voor hom het ’n GP-registrasienommer en Bradley merk dat die bestuurder rondkyk. Dit sou ’n toeris kon wees, maar hy merk dat die bestuurder hom in sy spieëltjie dophou.

      Die lig verander na groen, maar toe Bradley begin ry, stop die Golf skielik. Bradley kan nie betyds tot stilstand kom nie en ry met ’n harde slag agter in die motor vas.

      “Wat de donner besiel die man?”

      Bradley is onmiddellik kwaad. Die volgende oomblik word ’n blou lig op die Golf se dak gesit en klim die bestuurder uit. Agter hom het ’n polisievoertuig gestop en Bradley weet dat hy nie verder kan ry nie. Intussen volg Carla niksvermoedend die pad Tamboerskloof toe.

      *

      Toe Bradley en sy prokureur die polisiekantoor in Buitenkantstraat kort voor middernag verlaat, is hy steeds kwaad. Die polisie het hom lank aangehou, eers met ’n aantyging dat hy onder die invloed van drank bestuur het, maar nadat hy ’n asemtoets gedoen het en daar geen teken van alkohol in sy bloed gevind is nie, is hy steeds nie vrygelaat nie.

      Hy het aangedring om die Kommissaris van Polisie te sien, maar hulle wou aanvanklik nie eers die stasiebevelvoerder laat kom nie. Eers nadat sy prokureur die provinsiale minister se kantoor geskakel het, is hy vrygelaat.

      Bradley het al soms vir die minister regsadvies gegee en John Dyantyi het goed geweet wie hy is. Hy was lank genoeg betrokke by politici en weet hoe hul koppe werk. Dyantyi sou nie nou ongevraagde publisiteit wou hê nie. Maar hoekom die onnodige ongeluk?

      Die volgende oggend bel John Dyantyi se kantoor vir Bradley.

      “Is dit advokaat Bradley Walters? U praat met die ministerie van veiligheid en sekuriteit in die Wes-Kaapse provinsiale regering.”

      “Dag, Ministerie. Kan ek help?”

      “Giggel. Dis Minki wat praat.”

      “My donner, Minki. Hoekom bel jy?”

      Bradley is nie lus vir staatsdiens-maniertjies nie.

      “Ekskuus, advokaat Walters. Ek skakel om te vra of dit u enigsins sal pas om ons minister te kom sien vanmiddag. Vieruur by die Wetgewer in Waalstraat.”

      “Dis reg. Ek sal daar wees. Ek weet waar sy kantoor is.”

      “Dis

Скачать книгу