In landsbelang. Quintus van der Merwe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу In landsbelang - Quintus van der Merwe страница 8

In landsbelang - Quintus van der Merwe

Скачать книгу

In Suid-Afrika word sy as Ms Clean beskou, die een wat al die korrupsie en bedrog kwansuis sou ontbloot en skuldiges aan die kaak stel. Nou word sy effektief gemuilband. Dit gaan regtig interessant word.

      “Ons weet nie. Daar is geen rekord dat hy die land verlaat het nie. Sorg jy net dat daar nie onwelkome inligting uit die Suid-Afrikaanse ambassade lek nie.” Daar is weer ’n lang stilte.

      “Daar is nog iets, ambassadeur Cloete.”

      “Sê maar.”

      “Ons het verneem dat daar foto’s van die staatspresident bestaan wat in Parys geneem is. Jy moet daai foto’s probeer kry. Dis in landsbelang. Niemand anders weet van hierdie opdrag nie.”

      Dan beëindig die man die gesprek. Johan hoor hoe Nerine haar gehoorstuk eers ’n paar sekondes later neersit. Hier kom pêre. Hoe gaan sy dít hanteer? Die onbekende beller is beslis een van haar seniors en die ou is nie baie diplomaties en taktvol nie.

      Johan gaan staan weer op die balkon. Sedert sy aanhouding het hy ’n konstante behoefte om in die buitelug te wees. Dit is 23 Augustus en die Franse hoofstad is lekker warm. Hy sien hoe mense langs die Seine drentel. Miskien kan hy bietjie in die son kom. Hy stap na Janet Naidoo se kantoor om te sê dat hy uitgaan, toe sy eie telefoon lui. Hy skrik ietwat toe hy die ambassadeur se stem hoor.

      “Johan, kan jy asseblief onmiddellik na my kantoor toe kom? Daar is iets wat ons dringend moet bespreek.”

      Johan Castelyn kan nie anders as om eers ’n slag in die spieël te kyk nie. Hy stap met ’n vonkel in sy blou oë na die ambassadeur se kantoor toe.

      “Die ambassadeur sal jou nou sien.”

      Die Suid-Afrikaanse buitelandse assistent, Charize, wat as sekretaresse en persoonlike assistent vir die ambassadeur diens doen, glimlag vriendelik. Sy staan effens terug om Johan die kantoor binne te laat. Johan is so bewus van Charize se borste dat hy oorkompenseer en in die deurkosyn vasloop. Charize bly diplomaties glimlag. Vir Johan het sy die selfversekerdheid van iemand wat gelukkig is met haarself en haar voorkoms. Daar is seker iemand wat haar gelukkig hou. Dit frustreer hom.

      Ambassadeur Cloete sit en skryf by haar lessenaar toe hy by die kantoor ingaan. Die vertrek ruik na vars blomme. Sy staan op en nooi hom na die sitkamergedeelte. Hulle gaan sit, ’n glas-koffietafel tussen hulle.

      “Johan, hoe gaan dit?” Sy glimlag vriendelik. “Is jy gelukkig met jou plasing hier?”

      Die oogkontak is gemaklik en kenmerkend van iemand wat gereeld en maklik met mense omgaan.

      “Ja dankie, ambassadeur.”

      “Jy is alleen hier, nè? Geen familie nie? Kan ek vir jou koffie aanbied?”

      “Graag. Dankie, ambassadeur.”

      Sy staan op en stap tot by die deur.

      “Charize, sal jy vir ons koffie bring asseblief?” Sy maak die deur toe en gaan sit weer by Johan.

      “Johan, ek het ’n opdrag vir jou.”

      “Hoe kan ek help? Is dit handelswerk of ander werk?”

      Nerine glimlag. Van die diplomatieke personeel by die ambassade is sy die enigste wat weet dat hy onder dekking werk.

      “Dis ander werk. Ek wil vir jou, eerder as jou kollegas, vra om my te help. Hierdie is ’n uiters geheime saak en ek vertrou dat dit tussen ons sal bly. Dit móét tussen ons bly.”

      “Vertel my meer. Ek kan doen met ’n bietjie opwinding. Ek is reeds ietwat verveeld met die kantoorlewe.”

      “Dis ongelukkig nie so opwindend nie.”

      Sy swaai haar een been oor die ander en merk dat sy oë die beweging volg.

      “Johan, ek het opdrag gekry om alle rekords van ’n besoek aan die ambassade te vind en te vernietig. Dis van omtrent ’n jaar gelede. Jy sal miskien weet dat daar al in die parlement gepraat is oor die aankoop van die wapens en dat daar beskuldigings van omkopery is.”

      Sy kyk na die deur toe. Effens senuagtig.

      “Ek moet jou in my vertroue neem. Ek weet nie wat jou eintlike opdrag hier in Frankryk is nie. Ek wil ook nie weet nie. Maar ek weet jy is ook nog maar kort hier, en dat jy nie ’n tropdier is wat maar net saam met die stroom beweeg nie.”

      Johan vind dit moeilik om verbaas of geïnteresseerd voor te kom. Hy weet reeds wat sy gaan sê, maar nou moet hy toneelspeel. Nerine leun na hom toe en praat sagter.

      “Die hoofonderhandelaar in die wapentransaksie het verdwyn. Hulle vermoed hy is landuit. Die Geheime Diens is op sy spoor en ons is gevra om uit te kyk vir hom.”

      Dit wil vir Johan voorkom asof die geharde politikus nou ietwat versigtiger optree, asof sy raad wil vra.

      “Jy weet dat ek hierdie hele storie aan die publiek wou oopvlek. Die wapenaankope.”

      “Ek verstaan. Ek is bewus daarvan.” Hy kyk vinnig na haar en fokus dan op die blomme op die tafel. “Het gewonder hoekom hulle jou uit die land uit wil hê.”

      “Ek het nooit gesê ek gaan stilbly nie. Ek is die laaste een wat iets onder die mat wil vee, maar nou word ek beveel om bewyse te soek en daaroor stil te bly.”

      Haar stemtoon styg en sy praat al vinniger. Johan kan sien dis vir haar ’n gewetensaak en dat sy nie weet hoe om dit te hanteer nie.

      “Ek weet nie met wie ek daaroor moet praat nie. Die ander diplomate sien my as ’n politieke aanstelling en vertrou dat ek met die regering ingeklits is en ’n direkte lyn na hulle toe het.”

      Daar is ’n klop aan die deur. Charize verskyn met ’n silwer skinkbord met koffie. Johan se vinnige opstaan om die skinkbord te neem word met ’n mooi glimlag begroet. Hy moet konsentreer om nie die koffie te laat stort nie.

      “Maak weer die deur toe, Charize,” sê Nerine ferm. Nadat sy die deur toegemaak het, is dit asof Nerine sukkel om verder te praat.

      “Ambassadeur, jy moet doen waarin jy glo. Ons kan nie opdragte verontagsaam nie, maar ek dink jy moet met iemand daaroor praat as jy gewetensbesware het. Onthou net dat daar mense is wat om oorlewing veg en as Pillay dinge laat uitkom …”

      “Ek moet alle bewyse van ’n moontlike besoek deur die president vind, dit rapporteer en dan word dit miskien vernietig. Dit beteken seker notules, rekords van besoekers …”

      Sy word stil en kyk by die venster uit. Dan weer na hom.

      “Boonop is daar skynbaar foto’s van die president geneem toe hy in Parys was. Die opdrag aan my is dat ek moet vasstel of daar foto’s bestaan. Come hell or high water. Is dit nou wat ’n ambassadeur moet doen?”

      “Watse foto’s? Is hy ontevrede met hoe hy op die foto’s lyk? Ek neem aan dit was nie toeristiese foto’s voor die Eiffeltoring nie. Miskien was die beligting nie goed nie.”

      Sy kyk onthuts na hom toe hy dit met ’n glimlag sê.

      “Ek wil dit nie doen nie. Eers wil ek self uitvind wat die storie met die foto’s is, maar ek wil hê jy moet help om bewyse

Скачать книгу