Victoriavalle van liefde. Lizet Engelbrecht

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Victoriavalle van liefde - Lizet Engelbrecht страница 6

Victoriavalle van liefde - Lizet Engelbrecht

Скачать книгу

word. Sy gil, skreeu, vloek, maar niks help nie. Die hotel en almal daarbinne vat vlam en brand tot daar net ’n hopie as op die grond lê.

      Sy was so ontsteld toe sy presies dieselfde snert vir die derde keer droom dat sy geweier het om weer te slaap. Dit was drieuur vanoggend. Sy het gaan stort, koffie gemaak en toe haar roman nader getrek.

      Maar nou … Sy kyk in die lug op – daar is ’n rookwolk!

      Nou is daar nie uitkomkans nie! Daardie magtelose gevoel van haar droom oorweldig haar. Haar knieë raak lam, haar hartklop verdubbel en sy steek haar hand uit. “Nee, nee,” prewel sy terwyl ’n rilling haar skouers laat skud.

      “Ekskuus? Is jy naar?” dring Deon se stem tot haar deur.

      “Daardie … daardie rookwolk, waar kom dit vandaan?” vra sy, maar wil nie sy antwoord hoor nie.

      “Van die hotel af.”

      “Néé, néé.” Sy voel desperaat. “Ry, man, ry!”

      “Ek ry mos! Jy lyk bleek, voel jy siek? Ek gaan stilhou.”

      “Nee! Maak net gou, ons kan die hotel nog red. Ek het nie al die pad van Kaapstad af na Zambië gevlieg om te sien hoe die hotel afbrand en my toekoms vernietig word nie! En dit terwyl ek vooraf geweet het so iets gaan gebeur. Ek het dit sien kom!”

      “Wat het jy sien kom?”

      “Die brand, man, is jy blind? Ek het verlede nag daarvan gedroom, maar ons kan dit stop. Ek sal nie toekyk hoe my toekoms voor my oë verwoes word nie.”

      “Jou toekoms?”

      “Maak gou, asseblief tog, maak net gou! Ons moet die brand keer.”

      “Watse brand?”

      ’n Oomblik stol haar histerie. Iets voel nie reg nie. Hoe kan sy die brand so duidelik sien, maar die drywer sien kwansuis niks? Tog het hy nou net gesê die rookwolk kom van die hotel af.

      Onseker loer sy deur haar venster in die lug op. “Daar! Die rookwolk, kan jy dit nie sien nie? Dis so groot soos ’n rugbyveld. Ag, aardetjie, ons gaan dit nie maak nie.” Sy slaan haar hande inmekaar.

      “Daardie rook is nie as gevolg van –”

      “Hou op met ginnegaap en trap die petrol! Kan jy nie sien dat ons hulle moet red nie? Brandblussers? Waar sal ek die hotel se brandblussers kry? Ag, hemel, jy’s seker die laaste mens wat sal weet.”

      Sy wens sy kon uitspring en hardloop.

      Sonder om haar te antwoord begin Deon vinniger ry. Die motor skiet vorentoe. Dan het hy darem ook nou die rook gesien, dink sy verlig.

      “Demmit,” swets hy toe hy uitswaai vir ’n gat in die pad, maar deur die volgende een jaag. Die motor stamp hard en sy wip in die lug op.

      Sy sit op die punt van haar sitplek en slaan haar vingers in die voorste paneel terwyl sy sien hoe die rookwolk nader kom. Sy wil haar naels kou, maar pleks daarvan klou sy net stywer aan die paneel voor haar vas.

      “Pasop!” roep sy uit, maar dis te laat. Hulle is met die linkerwiel deur ’n gat so groot soos ’n krater.

      Iemand toet onophoudelik.

      Dis Deon, besef sy. Hy ry stadiger en toet dat ’n hek aan haar regterkant oopgeskuif moet word. Asof in stadige aksie sien sy die enorme naambord in die vorm van ’n olifant met die woorde Rhodes Inn daarop uitgekerf. ’n Hekwag in kakie geklee kom uit ’n hut met ’n boek onder sy arm en skuif die hek oop.

      “Daar’s nie tyd vir inteken nie, ek sal terugkom,” sê sy en skuif nog vorentoe op haar sitplek.

      Deon klap sy tong en skud sy kop, maar sonder om tyd te mors is hulle deur die hek en in ’n kronkelpad af. Nog ’n draai en nog ’n kronkel in die pad.

      Hulle moet nou naby wees. Sy ruik, en ruik weer, maar besef verbaas dat sy nog geen rookreuk ruik nie. Interessant, flits dit deur haar brein, ’n brand teen die Hottentots-Hollandberge ruik sy myle ver. Selfs uit haar dupleks in Gordonsbaai kan sy byna onmiddellik ruik wanneer die berg brand. Sy haat die reuk van brand. Net die gedagte daaraan laat trek haar maagspiere saam.

      Wel, ongeag wat sy nou ruik of nié ruik nie, sy moet gereed wees, waarsku sy haarself en krap in haar handsak rond. Sy vind haar pa se sakdoek wat hy vanmôre op die lughawe vir haar geleen het en bind die punte agter haar kop vas. Dan skuif sy die sakdoek op tot net haar oë uitsteek.

      “Wat maak jy nou?” vra Deon, en dit lyk kompleet of hy wil uitbars van die lag.

      “Dit sal help vir die ergste rook,” sê sy en begin haar juwele afstroop. “Hoe minder goed ek aanhet wat my kan hinder, hoe beter. Daar’s ’n man daar binne, ek moet hom red,” mompel sy en probeer die rook sien. Maar hulle moet nou reg onder die rookwolk wees, want sy kan dit nie meer sien nie.

      “Hoe ver nog?” vra sy.

      “Waarheen?”

      “Waarheen dink jy? Kan jy nie die …” sê sy vererg, maar die geamuseerde glimlag om sy mond laat haar verward stilbly. Wat is dit met die man? Miskien is hy ’n psigopaat wat ’n sadistiese vreugde daaruit put om ander te sien doodbrand …

      Net na die volgende kronkel lê die hotel voor hulle, skaars honderd en vyftig meter weg, en hy verminder spoed. So moedswillig, dink sy. Dit voel asof hulle nooit by die hotel gaan uitkom nie. Nie betyds nie, in elk geval.

      Sy druk haar kop teen die voorste ruit en kyk in die lug op. Vreemd, sy sien nie die grysswart doodskleur wat normaalweg soos ’n kombers in die lug hang tydens ’n brand nie. En moes die reuk haar nie al oorweldig het nie?

      Dit kan net een van twee dinge beteken: óf sy’s te laat en die vuur het reeds uitgebrand óf sy is betyds en die vlamme het nog nie versprei nie. Sy het ’n belofte gemaak – sy moet die Fransman ontmoet, al beteken dit dat sy hom vandag uit die vuur moet sleep.

      Sy kyk na die spoedmeter: twintig kilometer per uur. Die man is mal om so stadig te ry, of wil hy haar senuwees uitmergel? Sy gaan dit nie maak nie, nes in haar nagmerrie. Sy móét iets doen!

      “Is jy aspris of is jy besig om te parkeer? Want die vet weet, jy’s nie besig om te ry nie!”

      “Die spoedgrens is twintig kilometer per uur.”

      “Nonsens, man,” sis sy en ruk die deur oop.

      “Hi, wat vang jy aan?” hoor sy Deon se uitroep. Maar dis te laat, sy is reeds aan die uitspring.

      Die motor ry ietwat vinniger as wat sy verwag het, besef sy die oomblik wat haar voete die teerpad raak. Sy sukkel om haar balans te hou en rek haar treë al groter, maar haar voete kan nie byhou nie. Vervaard gryp sy weer na die motordeur. In ’n vlugtige oomblik sien sy die drywer se geskokte uitdrukking, hoe sy wenkbroue saamtrek, hoe hy die stuurwiel los en oor die sitplek na haar gryp.

      Hy is selfs meer aantreklik wanneer hy ontsteld is, is haar laaste gedagte voor haar voete nie meer kan byhou nie en sy deur die lug trek. Asof in ’n droom sien sy hoe die drywer vloek en rem. Sy sien hoe die hotel se deur oopgaan en ’n portier uitstap, en voor sy die teerpad tref, wonder sy nog hoekom die portier by die

Скачать книгу