Susanna M Lingua-keur 15. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua страница 7

Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

Nee, wag, besluit hy, Pieter ken sy storie.

      Dan hoor hy Pieter weer sê terwyl hy opstaan en na sy horlosie kyk: “Mense, ek het die aandjie baie geniet, maar ek moet nou regtig gaan. Dis al verskriklik laat en ek moet môreoggend ’n uiters ingewikkelde saak in die hof verdedig.”

      “Wel, jy moet gou weer kom kuier, Pieter,” nooi Jurie hom terwyl hy ook opstaan van die stoel se leuning.

      “En wat makeer julle dat julle nie ook vir my kom kuier nie?”

      “Kyk, Pieter, ek het jou reeds gesê dat my vrou …”

      “Luister, Jurie,” val hy hom goedig in die rede, “Brenda is nog glad nie ’n invalide nie, hoor. En dis verniet dat jy my dit wil probeer wysmaak net omdat ek ’n ongetroude kêrel is en veronderstel is om niks van sulke vroulike sake af te weet nie. Ek is seker die ritjie Waterkloof toe sal Brenda die wêreld se goed doen. Probeer dit gerus.”

      “Ons sal vir seker kom kuier, Pieter.”

      Hy bedank sy gasvrou vir die genoeglike aandjie en groet die twee dames voordat hy saam met Jurie die vertrek verlaat.

      5

      In die deftige kantoor met sy stinkhoutlessenaar, sagte tapyte en skilderye sit Pieter agter sy lessenaar. Hy het vanmôre vroeër gekom as ander oggende. Nou sit hy op Rista en wag.

      Dis tien voor nege. Dan hoor hy ’n sagte kloppie aan sy kantoordeur. “Binne!” roep hy uit.

      Geruisloos gaan die deur oop. In die oop deur staan Rista. Sy is geklee in ’n donkerrooi baadjiepak wat fraai afsteek teen haar raafswart krulle en besonderse roomwit vel.

      Haastig staan Pieter op van waar hy die afgelope halfuur al sit, groet haar vriendelik en sê duidelik verlig: “Ek is bly jy het gekom, Rista. Reken, ek was nogal bevrees jy kom straks nie!”

      “O, het jy gedink ek sal my eers in die namiddag kom aanmeld?” glimlag sy plaend.

      “Wel, om die waarheid te sê, ek het gedink jy gaan glad nie kom nie.”

      “En wat het jou so laat dink, Pieter? Is ek laat?”

      “Glad nie. Jy is nogal stiptelik. Dis net … wel, julle vroumense kan so gou en op so ’n ongeleë tydstip van opinie verander dat ’n mens nie juis op julle kan peil trek nie.”

      “Jou kennis aangaande die vroulike geslag is maar beroerd, Pieter. As een jou ’n streep getrek het, kan jy tog nie teenoor almal wantrouig wees nie. Of verwag jy miskien dat al wat vroumens is moet boet vir een se sondes?”

      “Glad nie. Vergeet gerus wat ek gesê het, Rista. Ek het dit darem werklik nie so erg bedoel nie. Ek was maar net ongeduldig om jou weer te sien, om te weet dat jy regtig in my kantoor is en dat ek jou voortaan elke dag by my sal hê.” Dan merk hy dat hy te veel gesê het en verander gou die gesprek deur te vervolg: “Maar kom, ek wil jou graag al die kantore gaan wys.”

      Al geselsend verlaat hulle sy kantoor.

      Eers neem Pieter haar na ’n klein kamertjie waar die mure feitlik net uit rakke bestaan en waar al die ou lêers gehou word.

      Dan neem hy haar weer na die aangrensende kantoor waar haar lessenaar staan en wat langs sy eie geleë is, met ’n glasdeur wat die twee kantore verbind.

      Op die hoek van haar lessenaar is daar ’n stapel lêers en langs die rekenaar staan die telefoon. Op die vensterbank pryk twee weelderige groen varings wat ’n bietjie kleur aan die vertrek verleen. Dan is daar ook ’n rusbank en twee gemakstoele wat besaai lê met tydskrifte. In die een hoek staan ’n klein kabinet wat veronderstel is om die tydskrifte te huisves.

      In ’n paar oomblikke neem Rista die wanorde waar en besluit om gedurende die etensuur die vertrek ’n bietjie op te knap. Dat die kliënte nog nie verdwaal geraak het tussen die menigte tydskrifte nie, is vir haar ’n raaisel.

      “Ek is bevrees die vorige tikster het die werk laat ophoop,” hoor sy hom verskonend verduidelik terwyl hy die lêers op haar lessenaar deurblaai.

      Agter die lessenaar met die hoop lêers voor haar, voel Rista eers bitter ontuis. Op die oomblik kan sy nie besluit of sy maar eers die dagvaardings moet tik of eers die petisies aan die hooggeregshof nie.

      Toe Rista die opgehoopte werk byna voltooi het, hoor sy die klokkie wat haar na Pieter se kantoor ontbied. Natuurlik nog briewe, dink sy senuweeagtig. Nou is sy ineens bevrees dat sy dalk die regsterme en sekere Latynse woorde verkeerd mag spel, want sy het juis so lank laas briewe afgeneem. En om die naarheid te kroon, het sy Pieter vroeër met ’n ander man hoor praat van aktes waarvan sy ook geen kennis dra nie – sy begryp nie eens wat die woord beteken nie.

      Met potlood en aantekeningboek in die hand tree sy Pieter se kantoor binne waar hy doodkalm agter sy lessenaar sit, onbewus van die spanning waarin sy verkeer.

      Nadat sy haar plek op die stoel teenoor hom ingeneem het, met haar aantekeningboek voor haar, is hy oorgehaal om te dikteer.

      Terwyl hy dikteer, sit hy haar effens geboë kop met die golwende swart massa aandagtig en betrag sonder dat sy daarvan bewus is.

      Vinnig en met ’n sagte geskraap gly haar potlood oor die papier.

      Nou bewonder hy weer haar slanke vingers. Dan dwaal sy blik af na haar enkels en haar voetjies in die swart hoëhakskoene. Ja, alles wat die nooientjie Rista uitmaak, is fyn en delikaat.

      Haar fynbesnede neus, haar oulike skulpoortjies, haar sagte donkerbruin oë, haar rooi lippies wat soos ’n pas ontluikte roosknop vertoon, hou Pieter se aandag gevange waar hy haar van agter sy lessenaar betrag.

      Op die oomblik het hy net een begeerte – om daardie sagte, aanloklike lippies van haar teen syne te voel. En hy moet geweldig hard veg om dié drang te onderdruk. Hy kan dit nou eenmaal nie bekostig om hierdie sekretaresse te verloor nie, wat gewis die geval sal wees indien hy haar ineens oorweldig met sy liefkosings.

      Terug in haar kantoor hoor Rista in die verte bo die gedruis van voortsnellende verkeer vaagweg ’n horlosie slaan. Werktuiglik kyk sy af na haar polshorlosie en merk dat dit al eenuur is. Tyd vir middagete, dink sy.

      Dan maak Pieter ook sy verskyning in die deur en kuier langsaam in die rigting van haar lessenaar. “Gaan jy saam met my iets eet, Rista?” vra hy vriendelik.

      “Ek glo nie, Pieter. Ek wil graag eers die kantoor ’n bietjie opruim. Dit lyk of ’n orkaan hierdie vertrek getref het.”

      “Ja, dit lyk nie te netjies nie, nè?” sê hy effens verleë en ongemaklik. “Maar jy kan altyd later opruim, Rista. Wat op die oomblik van meer belang is, is dat jy nou jou inwendige moet versterk. ’n Mens se brein kan nou eenmaal nie reg funksioneer op ’n leë maag nie.”

      Met ’n tegemoetkomende glimlaggie besluit sy om maar sy uitnodiging aan te neem. Dis mos nie elke dag dat ’n sekretaresse deur haar werkgewer genooi word vir middagete nie. Sy kan maar net sowel daarvan gebruik maak. Hulle was immers vriende voor sy vir hom kom werk het. Waarom nou skielik minderwaardig voel teenoor hom?

      Pieter neem haar na een van Pretoria se deftigste restaurante. Net die allerbeste is goed genoeg vir haar, besluit hy.

      Terug in die kantoor spring Rista dadelik

Скачать книгу