Susanna M Lingua-keur 15. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua страница 9

Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

dink hy weer aan die gesellige aand wat hulle vanaand in die stadsaal deurgebring het. Só het hy dan ook terselfdertyd al die vooraanstaande inwoners van Kroondal ontmoet.

      Môre sal hy maar vir eers net rondkuier in die hospitaal om gewoond te raak aan alles. Die dag daarna sal hy sy taak met alle ywer aanpak, sy lewenstaak wat hy eerste en bo alles stel, sy taak om die smartlike lyding van sy medemens te versag. Elke sieke wat die hospitaal gesond en vol lewenslus verlaat, is vir hom ’n pêrel in sy kroon.

      Vir die armes wat dit nie kan bekostig nie, lewer hy sy diens gratis, want ook húlle is sy medemens. En al kan hulle hom nie in klinkende munt vergoed nie, is hulle opregte dankbaarheid vir sy dienste vergoeding op sigself en voel hy terselfdertyd ook ryklik beloon.

      Die vertroue wat hy by kinders inboesem, is ook altyd vir die ouers verbasend om te aanskou. Ja, Chris is ’n liefhebber van kinders. Hulle sorglose bestaan was nog altyd vir hom ’n lus om te aanskou. Die bestaan van die mens was nog altyd vir hom die grootste wonderwerk van God.

      Die geneeskundige beroep is vir Chris ’n edel beroep wat skoon gehou moet word – dit is sy lewensideaal – en daarom streef hy dag en nag om dit na die beste van sy vermoë te beoefen, want dan alleen sal sy lewe vir hom bevredigend wees.

      In die operasieteater is daar ’n doodse stilte. Niemand praat ’n woord nie. Net ’n paar verpleegsters beweeg stilweg heen en weer terwyl die assistentgeneesheer en die suster aan weerskante van die operasietafel staan en wag, elk met ’n masker op die gesig en geklee in die gewone lang gewaad wat deur elke lid van die diensdoenende personeel in die teater gedra word.

      Aan die bopunt van die tafel sit die narkotiseur. Sy oë is stip gevestig op die apparate langs hom wat die pasiënt se asemhaling en bloeddruk aandui.

      Almal wag in spanning op die koms van dokter Myburgh, wat vandag ’n delikate operasie in Kroondal se hospitaaltjie sal waarneem.

      In die waskamer is Chris druk besig om sy hande te skrop. Hy is heeltemal kalm, want die geringste bewing van die hand wat die ontleedmes hanteer, mag noodlottig wees vir die pasiënt wat so oneindig baie vertroue in hom het.

      Hy besef wel deeglik dat dit ’n uiters gewaagde operasie is wat hy binne enkele minute moet gaan uitvoer. Maar hy deins nie terug nie. Hy moet net kalm bly. Dit mag nie misluk nie. Dit moet ’n sukses wees. Almal se hoop en vertroue is op hom gevestig. Hy sal met al sy krag veg om haar lewe te spaar. Sy is die moeder van drie kindertjies en daardie drie onskuldige kinders gaan nie moederloos wees nie – nie as hy dit kan verhelp nie. Hy moet haar gesond aan hulle teruggee. Daarom het hy die geneeskunde as lewensideaal aanvaar.

      Dan trek hy haastig die gesteriliseerde handskoene aan wat die verpleegster vir hom reghou.

      In sy groen gewaad en gemaskerde gesig gaan Chris die teater binne met vaste, veerkragtige tred. Hy merk die spanning op elke gesig teenwoordig, maar dit beroof hom nie van sy kalmte nie. Hy het al baie delikate operasies uitgevoer.

      Langs die tafel aan die regterkant van die pasiënt neem hy sy plek in.

      Etlike sekondes rus sy oë op die narkotiseur.

      Met ’n knik gee die narkotiseur te kenne dat die pasiënt heeltemal verdoof is en dat die operasie nou maar ’n aanvang kan neem. Hy self stel groot vertroue in hierdie jong spesialis wat hom tot dusver uitstekend van sy taak gekwyt het.

      Met ’n vaste hand neem Chris die vlymskerp ontleedmes van sy kollega en assistent. Dan maak hy die eerste insnyding vinnig en behendig.

      Nou begin die stryd in alle erns. Selfs met die tyd moet daar rekening gehou word. Groot sweetdruppels begin later op Chris se breë voorkop pêrel. Dan verwyder ’n verpleegster dit liggies sonder om hom in die minste te steur in sy groot taak, waarmee hy onafgebroke voortgaan en waarop al sy aandag toegespits is.

      Vinnig en behendig beweeg sy hande terwyl die horlosie bokant die deur se wysers stadig beweeg en die tyd aftik.

      Eindelik is die gevaarlike gewas verwyder en moet Chris weer eens ’n stryd teen die horlosie aandurf. Die pasiënt kan nie veel langer onder verdowing gehou word nie. Sy word elke minuut swakker.

      Chris begin ’n wedloop teen die tyd, maar ’n knap en ervare chirurg soos hy ken die tempo waartoe sy hande in staat is.

      Toe hy die laaste steek bind, slaak hy saggies ’n sug van verligting. Weer eens het hy die horlosie uitoorlê. Sy taak is suksesvol afgehandel en nou kan hy maar net hoop dat daar geen komplikasies intree nie.

      Nadat hy nog ’n keer in die rigting van sy pasiënt gekyk het, verlaat hy die vertrek sonder om ’n woord te sê om sy hande te gaan was en ook om van sy lang oorjurk ontslae te raak.

      Terwyl hy besig is om sy hande te was, kom sy kollega, dokter Leon, en die suster die vertrek binne.

      Toe dokter Leon sy stil en bedaarde kollega met bewondering aanstaar, merk hy trots op: “Geluk, dokter Myburgh, ek bewonder jou vernuf en knaphandigheid. Nou kan ek begryp hoe jy dit op so ’n jeugdige leeftyd so ver gebring en ook sulke roem oorsee verwerf het. Nogmaals geluk, hoor. Ek is baie dankbaar dat ons uiteindelik so ’n ervare en bekwame chirurg soos jy in ons midde het.”

      Met ’n opreg waarderende “Dankie, dokter Leon,” beskou Chris die gesprek as afgehandel en stuur dit dan ook dadelik in ’n ander rigting deur te vra: “Hoe gaan dit nou met ons pasiëntjie van gisteroggend, kollega?”

      “Nee, die kêreltjie lyk gaaf.”

      “Wel, ek sal hom graag eers wil sien voor ek my rondes in die ander sale doen.”

      “Die outjie sal vreeslik bly wees. Hy vra al juis die hele oggend by die verpleegsters of jy hom ook sal besoek. Die kind is gek na jou, dokter Myburgh.”

      Met ’n sweem van ’n glimlaggie stap Chris saam met dokter Leon die lang gang af na die kinderafdeling sonder om ’n woord te uiter.

      “En toe? Hoe gaan dit vanoggend met die grootman?”

      “As ek so stil lê, is dit glad nie seer nie, dokter,” sê die seuntjie. “Ek voel ook glad nie meer siek nie. Ek is so bly dokter het vir my ook kom kuier. Kyk hoe mooi het die suster my hare gekam, dokter.”

      “Dis mooi, Ronnie. En ek is so bly om te hoor dat jy beter voel. Probeer maar so min as moontlik rondspring, dan sal jy sien hoe gou jy gesond word. Voor jy nog daaroor dink, speel jy al weer met jou maatjies op julle grasperk. Jy moet die verpleegsters vra om jou hare elke môre so mooi te kam, hoor!”

      “Ja, dokter. En wanneer ek weer by die huis is, sal ek vir dokter my groot voetbal en my treintjie gaan wys. Dis ’n blou trein met agt trokke. Mammie sê ek kan nie hier in die hospitaal daarmee speel nie, ek sal net die verpleegsters pla.”

      “Dit sal gaaf wees, Ronnie. Onthou nou, sodra jy weer tuis is, moet jy my daardie treintjie wys, hoor! Ek is nou baie nuuskierig om dit te sien,” glimlag hy.

      “Dis ’n baie mooi trein, dokter,” eindig hy trots.

      “Ek sal dit graag wil sien, Ronnie. En onthou, jy moet jou nou mooi stil gedra, anders sal jy straks nie gou kan huis toe gaan nie en dan moet ek nog langer wag om die treintjie te sien. Soet bly en gou gesond word. Môre kom ek weer.”

      Só beweeg Chris van die een saal na die ander. Vir elkeen het hy ’n vriendelike glimlag, woorde van troos en bemoediging.

Скачать книгу