Ettie Bierman Keur 7. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman страница 12

Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman

Скачать книгу

niks nodig nie, net vir jóú.”

      Haar groen oë pleit en haar lang blonde hare, los oor haar skouers, is onweerstaanbaar. Verlede week sou Tinus haar teen hom vasgedruk het, sy vingers deur haar hare gevleg het en haar alles vergewe het, omdat Carrie hom liefhet. Maar Carrie het Carina geword. Hard geword, dinge gesê wat hy tyd nodig het om te verwerk. Hy het geglo sy is gelukkig, al wat sy verlang is om by hom te wees. Sáám … Al is dit saam swaarkry, saam opoffer. Nou verwyt sy en maak beskuldigings.

      “Ek het bedoel: brood en melk of tamaties,” antwoord hy stilweg.

      “Nee, niks nie, dankie.”

      “Dan ry ek maar …”

      “Ry versigtig en oppas vir lamppale,” maan sy.

      Maar hy is reeds weg en hoor nie.

      Carina soek in haar masjienlaai of daar êrens ’n paar knope rondlê. Maar daar is niks. Om te vergoed, sit sy ’n paar mansjetknope by die hemp waarvan die mou se knoop weg is. Dan, haar plig gedoen en met een oog op die horlosie, gaan sit sy by die eetkamertafel met Noordvlug. Dit is ’n goeie verhaal. Die skrywer verdien beter as ’n keurder wat geïrriteerd is en met huweliksprobleme sukkel. Sy moet vergeet en konsentreer.

      Sy sit so en werk dat sy heeltemal van die tyd vergeet. Drie uur sedert Tinus weg is. Net om sigarette te koop? Carina lees nog ’n paar bladsye, dan kyk sy by die voordeur uit of sy nie die Volkswagen sien nie.

      “Hallo daar,” groet tant Susie. “Vir wat lyk jy of jy ’n hamer wil vat, Karrietjies? Is jou man op die katerjag en die flerrie uit?”

      Carina het nie besef sy lyk of sy op die oorlogspad is nie. Sy probeer doelbewus ontspan. Tinus is in ’n omgekrapte bui hier weg. As hy terugkom en sy maak weer rusie, loop hy dalk ’n tweede keer. “Nee, tant Susie weet hy is nie só nie. Hy sal seker nou-nou kom.”

      “Waar is Tienie?”

      “Kafee toe.”

      “Ja, so sê almal, tot hulle die dag uitgevang word. Julle jonges het ook maar ’n swaar tyd. Tjops en kleingeld tot hulle die regte een kry.”

      Om met tant Susie te gesels, laat die tyd verbygaan en as sy in die deur staan wanneer Tinus kom, sien hy darem dat sy bekommerd was.

      “Of hoe sê die Ingelse? Chop en change,” vertaal haar buurvrou. “Trou en skei, tot jy jou deel kry.”

      “Tinus is my deel in die lewe.”

      “Vir wat het hy dan met die strykyster hier weggevlieg of hy ’n Boeing is?”

      “Die battery is pap, hy wou hom seker laai.”

      “As mans wil afwys en vrouens begin toesmeer, is daar rondflerrie-moeilikheid, sê ek altyd. Wil jy inkom, Karrietjies? Kom tee drink?”

      Carina wil nie. “Ek het te veel werk, tant Susie.”

      “Pasop dat jy nie altyd te moeg is en te veel werk het nie, hartjie. Mans wil hê hulle vrouens moet altyd vir hulle reg wees. Dit was mos my moeilikheid – hoekom my Bernie begin rondloop het en ek hom gelos het. Ek sal nie weer trou nie, sê ek jou nou. Ek het te swaar dae gehad, met die drank en die perde en die flerries …”

      Carina gaan liewer in en maak die deur toe. Arme tant Susie bedoel dit goed, maar selfs vir háár word hul inmengerige buurvrou soms te veel.

      Carina probeer nog ’n hoofstuk deurwerk. Sy weet sy oorreageer. Sy is waarskynlik neuroties, soos haar ma. Maar haar broer het met sy motorfiets verongeluk toe sy in matriek was en sy kan die trauma steeds nie vergeet nie. Die dae by die hospitaal, terwyl Wynand in ’n koma was … Hy kón nie herstel nie. En as ’n wonderwerk sou geskied en hy dalk wel eendag bykom, sou hy verstandelik gestrem wees. Die slag waarmee hy die lamppaal op die sypaadjie getref het, het sy nek gebreek …

      Soos verlede keer, dink Carina weer eerste aan ’n motorongeluk met die Volkswagen – veral nadat tant Susie gesê het Tinus het soos ’n laag vlieënde Boeing weggetrek. Sy oorweeg dit om kafee toe te loop, maar daar is ’n keuse van dosyne en sy weet nie waarheen hy gegaan het nie. Sy dwaal van venster tot venster, hardloop deur toe met elke motor wat verbyry. Sy gooi Tinus se koue koffie uit en maak varses. Wat doen sy as Tinus ook verongeluk? Hy is die enigste kind en sy ouers is nie meer jonk nie. Hoe bring sy die tyding aan sy pa en ma? Hoe troos sy hulle?

      Wie troos háár?

      Teen die tyd dat Tinus uiteindelik die voordeur oopmaak, het Carina haarself in ’n toestand opgewerk en al aan boedels en testamente begin dink. Haar naels is stomp afgekou. Sy huil histeries en sy kan nie normaal dink nie.

      “Waar was jy?!” roep sy uit.

      Tinus is gedaan. Die verkeer was druk, hy kon nie parkeerplek kry nie en die battery het weer gepla. Al wat hy wil doen, is afskakel en ontspan.

      “Hallo, lief.” Hy steek sy arms uit en wil Carina met ’n soen groet, maar sy ruk weg.

      “Waar wás jy?” herhaal sy skril. “Ek is al byna rasend. Tant Susie ook. Waar het jy die hele dag ronfgeflerrie?”

      “Gewát?”

      Carina weet sy is onredelik en dis nie woorde om ligtelik te gebruik nie. Maar sy huil so, sy kan nie helder dink nie. Sy is oorspanne en tant Susie het te veel idees in haar kop ingeprent.

      “Rondgeflerrie. Dink jy net aan jouself? Nie aan Wynand en my en my ouers, of aan jou eie pa en ma nie?”

      Tinus het Wynand geken. Hoewel haar broer ’n jaar ouer was, was hulle op skool vriende. Dit was Wynand wat hom aan sy kleinsus voorgestel het, wat albei goed genoeg geken en geweet het dit sal liefde met die eerste aanblik wees. As hy geleef het, sou Wynand seremoniemeester op hul troue gewees het, peetpa van hul eerste baba … Sy dood was vir Tinus net so ’n skok as vir haar. Hy het begrip vir Carina se nagmerries en haar vrees vir motors en motorfietse.

      Tinus sit sy hande op haar skouers. “Bedaar, Carrie. Ek is terug. Ek is veilig,” sê hy rustig, in ’n poging om haar te kalmeer.

      Sy stoot hom weg. “Drie uur laat! Ek dag jy lê ook iewers op ’n sypaadjie.”

      “Ek is veilig, my lief.”

      “Waar was jy? Tant Susie sê dis hoe mans maak – rondloop, vir tjops en kleingeld.”

      “Vir wát?”

      “Vir kleingeld en kwaadgeld. Vir skei en ander vroumense soek.”

      Tinus is nie van nature ’n geduldige man nie en hulle moenie met hom sukkel as hy moeg en warm en vuil is nie. Hy laat sy arms sak en raak nie weer aan haar nie.

      “Jy is net so neuroties soos jou ma, Carina,” sê hy ergerlik.

      Sý mag haar ma kritiseer, maar nie ander mense nie. Dan is Carina lojaal en op die verdediging. “Los my ma uit. My ma makeer niks nie. Sy is net so normaal soos ek en jy.”

      “Solank die pille hou, ja.”

      “Slaappille en kalmeerpille. Almal gebruik dit. Is dit ’n sonde?”

      “Almal? Jy ook?”

Скачать книгу