Ettie Bierman Keur 7. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman страница 11

Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman

Скачать книгу

ek ’n koerant om my draai of soos ’n baba doek dra?” wil hy verontreg weet.

      Carina dwing ’n ernstige gesig na vore. “Henk, was dit twee dae lank die probleem – dat jy bang was ek vat jou broek?”

      “My broek se knope is ook af.”

      Sy besef met ’n man soos Henk Rautenbach moet ’n mens jou langsaam haas.

      “Dra jy ’n frokkie, Henk?”

      Hy hou alle nate en openinge styf toe. “Hoekom?”

      “Omdat ek solank die hemde sal neem om die knope die naweek aan te werk, wetende met ’n frokkie aan is jy darem nie kaal in die bus nie.”

      “Gmf!”

      Carina weet nie of dit ja of nee beteken nie.

      “Trek Maandag een van jou geknoopte broeke aan, dan gee jy my die res in ’n pakkie om te gaan versorg.”

      Hy bly steeds agterdogtig. “En dié een wat ek aanhet?”

      “Gee hom Dinsdag. Of Woensdag.”

      Hy hou aan brom en mompel, los die stapel hemde op haar lessenaar en verkas.

      Is sy en Henk eenders? wonder Carina. Nie een weet hoe om terg of spot te hanteer nie.

      4

      Die armvol hemde en broeke kort meer as net knope. Die hele Saterdagoggend sit Carina voor die masjien om nate toe te stik, sakke heel te maak en voerings vas te werk.

      “Gelukkig dat jy soveel potensiaal het,” merk Tinus op. “Dat naaldwerk ook een van jou talente is.”

      As dit veronderstel was om ’n grap te wees, vind Carina dit nie snaaks nie. Sy wens hy wil gaan draf, of werk of studeer. Sy rustelose op en af gedrentel maak haar senuweeagtig. Die stapel hemde sak nie en sy is haastig om met die manuskrip aan te gaan. Die knope wat sy het, gaan in elk geval nie genoeg wees nie, besef sy. En daar is ook nie tyd om winkels toe te gaan nie. Henk sal maar tot Dinsdag moet wag. Hy het jare lank met af knope geloop. Nog ’n dag sal nie saak maak nie. Sy vou die laaste drie hemde op en pak hulle weg.

      Tinus kom langs haar staan. “Nou sien jy skielik weer kans vir die sleurbestaan van huisvrou wees.”

      Carina kyk op. “Ekskuus?”

      Hy wys na die berg hemde wat klaar is en die drie wat eenkant lê.

      “Vir ander mense is jy bereid om tyd op te offer, maar nie vir jou man nie?”

      “Ek het die eiers gebak, jou bord en jou asbakkie gewas, jou kant van die bed opgemaak en die bad gewas nadat jy gebad het. Is dit nie genoeg nie?”

      “Dis nie waarvan ek praat nie.”

      Carina is nie lus om te vra wat hy bedoel nie. Gisteraand het hy ’n kliënt gaan sien en vanoggend het hulle nie veel vir mekaar te sê gehad nie. Tinus is koel en afsydig en sy enigste bydrae tot ’n gesprek is sarkastiese aanmerkings wat haar irriteer.

      Hy wys na die drie laaste hemde. “Hoekom is hulle eenkant gegooi?”

      “Ek het nie genoeg knope nie.”

      “Hoekom het die ander voorkeur gekry?”

      Carina frons. Tinus het baie foute, maar om kleinlik oor die een of ander nietigheid aan te hou torring, is nie een van hulle nie. Skielik, toe sy na die stapel kyk, lyk die boonste hemp vir haar bekend. Wit, met ’n effense streperigheid in. Groter as die res en netjieser gestryk.

      “Dié drie is joune,” sug sy.

      “Jy kla altyd ek sê jy lyk mooi as jy ’n stokou rok aanhet en ek let nie op as jy ’n nuwe een dra nie. Maar jý ken ook nie mý klere nie.”

      “Ek het nie onmiddellik opgelet nie. Ek was en stryk hulle immers elke week – natuurlik ken ek elke enkele hemp van jou.”

      “Is dit hoekom jy myne eenkant gegooi het?”

      “Ek het hulle netjies weggepak, nie eenkant gegooi nie.”

      “Maar Henk Rautenbach s’n heelgemaak?”

      “Ek het nie geweet wie se hemde is wie s’n nie, net van bo af begin tot die knope opgeraak het. Dis jou skuld dat joune agterweë gebly het. Hoekom het jy hulle onder die stapel ingedruk?”

      “Jy het sy spul bo-op myne gesit.”

      “Is nie. Ek het nie met opset jou hemde gelos nie. Dis jy wat dit onder die ander weggesteek het.”

      “Dis nie belangrik nie.” Tinus stap weg. “Vergeet dit.”

      “Wat het van jou hemde se knope geword? Het jy nie dié gehou wat afgebreek het nie?”

      “Stukkend. Ek het dit weggegooi.”

      “Dis die wasmasjien. Hy breek die ritssluiters ook en hy was nie skoon nie. Kon jy nie net reguit sê daar is knope af nie?”

      “Ek het. Weke gelede.”

      Carina onthou. “Jy oordryf. Dit was nie weke gelede nie. Gister of eergister. Hoekom het jy my nie herinner nie?”

      “Jy was te moeg. Te besig.”

      Soos nou … Carina het nie die energie óf tyd vir ’n lang, uitputtende argument nie. En dit oor onbenullighede soos knope en wasmasjiene. Wat wil hy hê moet sy doen? Dié van Henk se hemde afknip en aan syne werk en nóg ’n uur van haar kosbare tyd mors?

      “Te besig met ander mense …” voeg Tinus oor sy skouer by.

      “Dis werk vir brood en botter.”

      “Ek het gesê ek kan vir jou sorg.”

      “Ja, tien keer, oor en oor. Maar hoe? Skaars brood, wat nog te sê botter.”

      Die oomblik toe die woorde uit is, besef Carina sy was gemeen om hom daarvoor te verwyt. Die dag toe sy met Tinus getroud is, het sy geweet ’n jaar of meer se swaarkry lê voor. Dit het erger gegaan as wat sy of haar ouers verwag het. Tinus het homself afgeskeep om die rekeninge te betaal. Om vir haar ’n botteltjie parfuum as verrassing te koop; ’n ruiker blomme met haar verjaarsdag, ’n paar sandale wat sy in ’n winkelvenster gesien en begeer het … Tinus het sy manlike trots, al het hy nie ’n behoorlike inkomste nie. Hy was bekommerd oor die lewenskoste, maar sy was die een wat wou trou. Die een wat volgehou het liefde en koue water is genoeg, beter as uitstel en kaviaar. Dis sy wat gesê het sy bly liewer saam met hom in ’n armoedige agterkamertjie, as sonder hom in haar ouers se luukse huis.

      “Tinus!” roep Carina agter hom aan. “Vergewe my. Ek het dit nie so bedoel nie.”

      “Ek het gesê vergeet dit.” Hy is by die voordeur met die motorsleutels in sy hand. “Ek gaan kafee toe om sigarette te koop. Het jy iets nodig?”

      Hy rook te veel, maar dis spanning.

      “Nee.”

Скачать книгу