Die val van die dice. Pat Stamatélos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die val van die dice - Pat Stamatélos страница 11

Автор:
Серия:
Издательство:
Die val van die dice - Pat Stamatélos

Скачать книгу

bloed wat vloei, lyke wat val.

      Dankie, my God, vir die ingryping. Dankie, Dadda, gelukkig kom jy net op die verkeerde tyd.

      “Hello, my boy. How are you?” groet die ou man hom vriendelik, katvoet.

      Hy mompel ’n antwoord, vloek my in Grieks en verlaat haastig die kombuis.

      Dadda bêre die skoon bord wat hy saamgebring het. Hy vat die afdroogdoek van die haak af en kyk na die vuil skottelgoed. Ek sal moet was.

      “Dankie, Pettie, die kos was heerlik. Jy weet mos ek is lief vir macaroni en kaas. Jy kan dit maar elke aand maak. Dankie, my kind.”

      ’n Bietjie waardering. Nogmaals dankie, Dadda.

      Sy lang, benerige vingers vryf oor my skouer waar ek voor die wasbak staan. Die warmte van sy sagte aanraking laat iets in my knak. Stil snikke in my borskas soos naels wat krap oor muur en ruit, maar ek uiter geen geluid nie, praat nie ’n woord nie. Ek stik in die ou, bekende emosies van verwerping, walglike afsku en uitgerafelde gevoelens.

      Sy stem weerklink nog in my ore. Poetána. Prostituut.

      “Is hy weer op sy stukke?” fluister my pa.

      Ek knik, sluk my trane weg, kan Dadda nie in die oë kyk nie. Nie nou nie.

      Hy staan nog geduldig en wag met die afdroogdoek. Ek begin water intap. Laat Soela maar aangaan om kamer op te ruim.

      Ek was. Dadda begin die messe en vurke meganies poets. Die stilte is tasbaar, maar hy verstaan. Woorde is oorbodig. Ná die uitbarsting weet hy dis stilte waarna hierdie berouvolle hart smag, my gedagtes vir eers genoeg.

      Dis ek wat praat en God wat luister.

      Liewe Here, wat het ek gedoen om dit te verdien? Het ek nou nog nie vir my sondes van die verlede betaal nie? Ek het twee seuns begrawe in ruil vir die kwytskelding van my sondes. Onthou U, Here? Poetána! Waarom ek?

      Ek bid oor ’n bak vol vuil skottelgoed, maar beskuldigend:

      O my God,

      Ruk my hart uit my borskas, ek betaal my skuld.

      En vat ook my longe, my lewer, my arms en bene.

      In plaas van ’n grafsteen, pak net stene.

      En skryf: Hier lê die Boer, haar man se hoer.

      Poetána is haar naam. Rest in peace.

      Dadda pak die laaste borde weg, strek om die glase op die boonste rak te bêre. Oudergewoonte vee hy met sy groot hand oor die kassie se oppervlak. Hy knik tevrede: dis skoon.

      Hy gaan sit diep en gemaklik op die harde kombuisstoel. Ek weet hy hou my fyn dop terwyl ek die laaste stoffies en krummels in die skoppie opvang, die vullisblik se deksel met ’n klapgeluid toemaak, als bêre in die regop kas.

      “Hoe lyk dit met ’n bietjie boeretroos?” vra ek en klap-klap op sy bonkige knie. Skakel die ketel aan.

      Grasserige wenkbroue skiet omhoog, die oë kyk deur se kant toe.

      “Gaan jy vir hom ook maak?”

      “Ag nee, Dadda, hy is nie eintlik ’n koffiedrinker nie. Dadda weet mos.” My stem word ’n fluistering: “Die vraag is natuurlik: wíl ek vir hom koffie maak?”

      Die ou heer se oë kry skielik ’n vonkeling en ek weet: hier kom ’n ding.

      Hy steek sy hand met groot gebaar in sy baadjie se binnesak, bring ’n skoon sakdoek stadig te voorskyn, hou die punte vas asof iets daarin versteek is.

      “Ek het ’n bietjie arsenic hier by my . . .”

      Ons lag saggies soos twee samesweerders.

      Die water kook. Ek gooi Nescafé, Cremora en suikerpilletjies in, nes ons daarvan hou. Krap in ’n wegsteekgaatjie en haal twee Oumas uit. Met my rug na Dadda haal ek die botteltjie pille van die boonste rak af, dop dit om en gooi twee in my hand uit.

      Ons doop en suig. Koffiedruppels loop oor lip en ken. Lekker. Hou met bakhande die warm koffiebekers vas terwyl ons ’n bietjie blaas, ’n bietjie proe.

      Ek bekyk hom en glimlag terwyl hy met ’n krom voorvinger ’n stukkie beskuit uit die warm koffie probeer red. Sy gesig skoongeskeer, dun plooitjies wyd gestrek oor die hoë voorkop en grys hare netjies gekam, soos altyd.

      Voor ek die laaste bietjie koffie afsluk, druk ek die twee pilletjies wat langs my beker lê in my mond. Dadda sien dit en sug, maak ’n bietjie keel skoon.

      “Migraine?” vra hy.

      Ek skud my kop. “Nee, ek het lanklaas migraine gehad. My kop is sommer seer van die man se nonsens. Die pille sal help vir die pyn en die senuwees. As ek kalmeer, sal ek beter slaap, en opstaan.”

      Hy tik-tik saggies op die tafel se houtblad.

      “Pettie, wat nou weer? Waaroor die groot lawaai?” Sy oë lyk bekommerd en vol jammerte soos hy na my kant toe oorleun. “Is hy nog steeds kwaad oor Karretjies? Dis darem al vyf dae gelede, hoe lank gaan hy kwaad bly?”

      Dis my beurt om te sug.

      “Ag, Dadda, dis eintlik ’n storm in a teacup. Die kinders het ’n grap gemaak oor Daffy. Soela het haar Stinky genoem en almal het gelag . . .” Ek kom nie verder nie, dis te snaaks vir woorde en ek lag van voor af.

      Dadda se glimlag strek van oor tot oor en dit lyk of hy ook enige oomblik kan uitbars van die lag. Sy oë vonkel ondeund. Ek klap hom liggies op sy hand.

      “Sjuut, hier kom hy.”

      Ons kyk met sedige gesigte in ons amper leë koffiebekers.

      Ek sien hoe my hand bewe, voel die beklemming in my bors. Sy teenwoordigheid soos dié van ’n bliksemstraal: vernietigend.

      Hy ruk ’n laai oop. Goed vlieg uit en val hard op die keramiekteëls. Hy vloek onderlangs, kyk nie na ons kant toe nie.

      “You must enjoy your coffee, madam, for as long as you can. Your time is short. And other people’s time is short too. You think you can do what you like . . .” Brom, brom.

      Hy tel die goed van die vloer af op, smyt dit in die laai, kry nie wat hy soek nie en stamp die laai toe. Met sy rug na ons vloek hy in Grieks en storm by die kombuis uit.

      My pa loer onderlangs na my. “Wat sê hy?” fluister hy.

      Ek weet die man sê ek is ’n prostituut en dat God my sal straf, maar is dit wat ’n pa van sy dogter wil hoor? “Hy praat sommer met homself.”

      “En watse peoples se time is short?”

      Ek glimlag, wys na hom met die vinger.

      “Wie, ekke? Nooit!” fluister hy kamma verbaas. Ons lag stilletjies.

      My pa is vir my soos ’n lafenis in die tronksel waarvan die sleutel lank reeds verlore geraak het. Sy tergery kom ’n lang pad. Ek onthou dit van my kinderdae af.

Скачать книгу