Die val van die dice. Pat Stamatélos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die val van die dice - Pat Stamatélos страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Die val van die dice - Pat Stamatélos

Скачать книгу

– dit was die voorwaarde van die Railways toe hy destyds by hulle aansoek gedoen het. Maar ek weet hy het nog sy Griekse passport.

      “Pettie, jy verstaan nie. Die poelies was ’n swart konstabel en Takos.”

      Ek sluk, stom geskrik.

      Die anties wat my ná my ma se dood grootgemaak het, het altyd gesê: God se meule maal stadig maar seker. Liewe Here! Eers verloor ek my ma, toe vir Laki. En nou my pa?

      Takos en die man is vriende, hulle is ewe rassisties, ewe ongevoelig. Nou wil hy my pa se boekie sien. As Takos uitvind Dadda is classified as Cape Coloured, sal hy vir die man sê. Dié sal my pa summier wegja – hy haat die “other skins”. En wat dan van my!

      Amper veertig jaar gelede toe ek nog ’n kleinmeid was . . . Ek hou aan my ma se roksbande vas terwyl sy gebukkend oor ’n sinkbad staan. Sy vryf en vryf die hemp terwyl sy onderlangs vir my loer.

      “Onthou, Pettie,” sê sy vir my, “jou mammie en daddie kan jou verlaat, maar die Heretjie sal jou nooit verlaat nie. Hou net so aan Hom vas.” Kort daarna is sy dood.

      Twintig jaar gelede het Laki my in die oë gekyk en gesê: “Remember, God is love.” Kort daarna is hy dood.

      En nou is my geloof die size van ’n peanut!

      “Wat het Takos gesê?” vra ek versigtig.

      “Hy vra my boekie. Hy het gesê: ‘Ek ken vir oom, maar ek doen net my werk.’ Ek het vir hom gesê ek het die boekie vir jou gegee, Pettie. Hy moet vir jou vra. Ek is so jammer, my kind, ek is jammer as dit vir jou moeilikheid . . .”

      My pa hyg weer ’n bietjie, kom tot verhaal.

      “Hy het gesê daar is baie illegal Mosambiekers wat skelm oor die grense kom en hy sal jou annerdag vra virrie boekie.”

      “Moenie worrie nie, Dadda is mos nie ’n Mosambieker nie. Die man weet dit mos.” Ek lag vir die gedagte. “Dadda het reg gedoen. Hy ken ons mos, ons is huisvriende, watse boekiewysery is dit nou? Dis tyd dat ons die ou boekie wegsmyt, anyway. Ons doen aansoek vir ’n nuwe een, trek ’n paar toutjies en siedaar! Dadda is ’n First-class Citizen.”

      Toe ek die foon neersit, sit ek ingedagte en herkou aan Dadda se woorde. Aan die verlede en ander se woorde. Ek weet ek moes die man destyds gesê het, maar ná amper twintig jaar is dit nou te laat. There can be no damage control and no going back.

      “I am Cape Coloured,” moes ek gesê het. “Your brother insisted that I apply for white citizenship so that we could get married. My father’s father was a white man,” moes ek gesê het, “his mother a Coloured. I applied and became white. If my background bothers you, hou verby, ou swaer.”

      Maar ek het niks gesê nie, ek sou met my geheim graf toe gaan. Nou vra die man se beste vriend my pa se boekie. Hy sal die waarheid uitvind, daardie klein boekie die vingerwyser.

      Dadda moet so gou as moontlik geherklassifiseer word, maar hoe gemaak dat die man nie uitvind nie? Die authorities sal miskien na my huis wil kom, kom kyk waar hy bly, kyk hoe hy lyk, hulle sal mý boekie vra. Elkeen van die worst case scenarios gaan opnuut deur my kop.

      Ons hét al gepraat oor die kwessie van herklassifikasie, maar altyd net verlangs. Daar was nooit sprake van witpapiere terwyl Dadda met antie Mona getroud was nie – sy het allesbehalwe wit gelyk. En Dadda se kleur was nog nooit ’n issue by ons nie. Tot nou toe.

      Mygod, skielik voel dit of my wêreld in duie stort! En dit oor ’n belaglike boekie wat bepaal of hulle jou hotnot of meneer noem.

      Wat sal die man sê as hy moet weet?

      4

      Ons ontmoeting was spectacular, stof vir ’n Hollywood movie.

      Dis by Laki se begrafnis dat ons mekaar die eerste keer sien. Familie, vriende en kennisse sit ingeryg om hulle laaste eer te betoon aan die geliefde jongman wat so skielik in ’n motorongeluk dood is. Die roudiens is nog nie klaar nie, toe kom die vreemdeling die kerk binne.

      In sy beige broek en blou kortmouhemp loop hy reguit na die oop kis waar my kersie vrolik in sy houertjie brand. Die pappás se gesing word ’n geneurie, en al sagter hoe nader die vreemdeling aan die kis kom.

      By die kis staan hy ’n oomblik stil, kyk af na die stil figuur met sy mooi strikdas. Die pappás se stem raak weg, die kerkmense stil. Jy kan amper die dooie hoor asemhaal, so stil is dit tussen baksteen en bank.

      Almal hou asem op toe hy vooroor buk. Hy soen my geliefde. Een hand vroetel in sy broeksak en bring ’n sakdoek te voorskyn. Of hy oor sy oë daarmee vee of sy neus afvee, kan ’n mens nie sien nie.

      Maar toe hy omdraai, weet ons almal wie hy is.

      Hy en Laki kon net sowel ’n tweeling gewees het. Ek bekyk hom goed deur betraande oë: selfs hul manier van stap is dieselfde, die gesig net ernstiger, ’n diep plooi tussen sy wenkbroue.

      Ek en Dadda sit reg voor, ons vingers inmekaar verstrengel. Dadda se greep verslap effens toe die vreemde man geluidloos langs my inskuif. Die reuk van gamomíli en rígani bereik my neus. Kamille en orego. Met ’n sweempie knoffel en olyfolie daarby. Die Griekse reuk. Laki se reuk.

      “You Pattie?” fluister-vra hy in ’n bekende, sagte stem.

      Sy growwe hand vat myne styf vas, asof dit van ouds sy gewoonte is. Sy liggaamshitte word my liggaamshitte soos sy arm teen myne druk, my bewerasie gestil deur sy teenwoordigheid. En so bly ons roerloos sit. Die vertrooster en die vertroosde.

      Ná die begrafnis sit ons in my woonstel. Ek en hy, sy broer Kosta en my suster Dorie. Ek en Dorie beplan om so gou moontlik Engeland toe te gaan en daar aansoek te doen vir permanente verblyf. Dorie se ou werk wag vir haar in ’n Londense hospitaal, en ek wil ’n nuwe lewe begin. Ver weg van bekende gesigte, ver weg van die seer herinneringe.

      Die vreemdeling hou my hand vas en kyk diep in my oë.

      “Laki write me and he talk about you. He love you very much. He say you very good woman.”

      Dorie en Kosta sit en betrag ons in stilte, asof hulle weet wat gaan kom.

      Soos ’n voëltjie met ’n gekneusde vlerk maak ek nes in sy oë. Maak my bekkie oop om sy geskenk van vet spyse te ontvang. Verwarm my in sy nabyheid asof dit donsvere is.

      My oorgawe is volkome. My hartseer verdof met die aanhoor van sy stem, die aanraking van sy vingertoppe vertroos my. Dis Laki se stem, Laki se oë. My Laki lewe!

      Kleintyd gaan my susters Kay en Dorie een Saterdagaand oorslaap by ’n vriendin vir ’n troue die volgende dag, al twee strooimeisies. Sonder my susters in die kamer voel ek bang. Mamma kom troos. “God is altyd by ons om die bang weg te ja,” sê Mamma, druk die kombers styf om my lyf.

      Maar dis min troos vir ’n kind van sewe jaar. Ek snik met lang trane, druk my gesig diep in die sagtheid van die kussing. “Ek wil vel hê,” fluister ek jammerlik. Dié aand slaap Mamma agter my rug.

      Met hierdie stuk Griekse vlees wat langs my sit, teenaan my sit, het God die troos gestuur wat ek nodig het. Ek hang aan sy woorde. Sy simpatie en medelye is aandoenlik, sy oë klam en sy stem krakerig. Dis immers ook sý geliefde, sy broer, vlees van sy vlees wat vandag begrawe is.

      Die

Скачать книгу