Die val van die dice. Pat Stamatélos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die val van die dice - Pat Stamatélos страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Die val van die dice - Pat Stamatélos

Скачать книгу

      Maggie, opstroppelis en eiewys maar regverdig tot die dood, en bang vir niks of niemand. Eers opstandig en ontevrede oor die Griek wat by my kom vlerksleep, maar later tog die erkenning: Jy en Laki lyk rég vir mekaar. Sy huil lang trane by sy begrafnis.

      Ek dink terug aan ’n voorval kleintyd in die Strand. Ons buurvrou is agter met haar meubelpaaiemente en die winkelbaas wil nie uitstel gee nie. Die anties hou om die beurt kywie by die venster.

      “Die aasvoëls is hierso,” sê Kitty, antie Maggie se suster, toe die bakkie oorkant die straat stilhou.

      “Ek is ready vir hulle,” sê Maggie en gaan vee kamma ongeërg die voorstoep.

      Die mans dink nog hulle kom die repossessed goods oplaai, toe storm die antie met die besem op hulle af.

      “Jirre, die mense vrek vannie ellende en djulle donnerse goed willie bed onner haar yt vat. Daai bed issie die geld werd wat djulle haar gecharge het nie, djulle donnerse skelms. Voertsek! Voertsek!” en die antie slaan woes.

      Twee jaar later loop ek en Maggie oor na die einste antie, bakkie vetkoek in die hand wat Kitty gebak het. Ons klop en klop, maar kry nie antwoord nie. Miskien het sy ’n bietjie gaan lê, sê Maggie.

      Sy draai die deurknop, ons loop in en Maggie roep na die antie. Haar slaapkamer is langs die voordeur en ons loer in, maar die antie lê nie op haar bed nie, sy hang aan die enigste balk in die huis.

      “Liewe Jirre in die jimmel!” skree Maggie en laat die plastiekbak met vetkoek en al val.

      Ek staan verwonderd, my oë vasgenael op die hangende figuur.

      Op die vloer lê ’n bar stool, en bo die bar stool hang die slap lyf, kop effens vooroor gebuig. Die mond oop soos iemand wat om hulp wil roep, maar sonder stem. Haar sandale staan netjies langs mekaar, haar voete is kaal.

      Ek onthou die bruin straaltjie wat aan die binnekant van haar bene afloop, die klonterige aanpaksels, hard en stink teen die ligbruin vel. Sien die gestolde druppels op die vloer en ’n papiertjie wat bo by haar bloes uitsteek.

      Maggie beur vorentoe, voel die antie se pols, sê sy is dood en gaan bel die polisiestasie. Ek bly staan versteen in die deur.

      “Tel op die goete!” skree Maggie en wys na die bak en vetkoek. Sy draai weer na die antie toe, trek die papier tussen haar borste uit. Sy lees die brief, sê dan in ’n kalm stem: “Pettie, gaan hys toe, ek wag vir die poelieste.”

      Die polisie kom en verwyder die lyk.

      Ons sit om die kombuistafel, nog dronkgeslaan oor die dag se gebeure, Maggie met die brief in haar hande.

      “Lat ek vi’ djulle lies wat hier staat,” sê sy vir my en Kitty.

      Die brief is van die antie se dogter oorsee. Dié is met ’n wit man getroud daar anderkant. Sy skryf om vir haar ma te sê hulle kom Suid-Afrika toe, maar hulle sal ongelukkig nie by haar aankom nie. Sy is mos nou wit, met ’n wit mannetjie, en dis beter dat hy nie van haar ma weet nie. Ek is nog lief vir Ma en sit ’n geldjie in, ek hoop Ma verstaan.

      “Jirre, what a shame, what a shame,” sê Kitty oor en oor. “Sy het net die een kind en dié is skaam vir haar ma. What a shame.”

      “Pettie, wat djy vandag gasien het, moet djy vir die rest of your life onthou. As die mens eers airs en graces kry oorie kleur van sy vel, vergiet hy maklik van sy eie bloed. Tot hy sy dooie bloed moet lossny vannie tou. And then it is too late.”

      Maggie het klaar gepraat, sy vee met ’n sakdoek oor haar oë. Steek ’n sigaretjie op, blaas die rook ver uit. Hou die velletjie papier bo die brandende vuurhoutjie, stoot die asbak onder die vuurtjie in om die as op te vang.

      “Die poelieste weet nie vannie brief nie, en djulle hou djulle bek.” Sy gee ’n snorkgeluid. “Die haat en skaamte oorie kleur vannie vel maak seer ganoeg sonner dat mens nog vinger wys oor wat wie se skuld is.”

      Ek en Kitty sit in stilte. Kitty knik haar kop en toe ek myne. Die assies lê die asbak vol en Maggie staan op om dit oor die agterdeur weg te blaas. Sy kom terug en tel haar koerant op. Sy lees: “Mandela sê vanuit Addis Abeba: ‘South Africa is a country torn from top to bottom by fierce racial strife and conflict, where the blood of . . .’ ”

      Dit was Januarie 1962.

      Die antie aan die balk sal ek nooit vergeet nie. Maar op daardie dag het ek ’n diepe respek gekry vir my anties se sense of justice.

      Trane loop oor my wange waar ek langs Maggie se graf staan. Sal ek ooit dié herinneringe met my trouman kan deel? Sal ons kan saampraat daaroor? Wat sal hy sê as hy my nou moet sien – die enigste sogenaamde wit mens onder die huilende kopdoeke?

      ’n Dierbare kennis, antie Smiley, het haar huis oopgestel vir die begrafnistee. Ons kry iets te drinke en te ete, en ek en Stewie gesels om in te haal. Ek nou wit, hy steeds Kleurling. Ons beloof mekaar om kontak te hou en om altyd lief te wees vir mekaar, ons anderse wêrelde ten spyt.

      Toe die man in Suid-Afrika aankom, is hy haastig om te trou, maar hy moet eers permanente verblyf en ’n werk kry. Al dié dinge is uiteindelik afgehandel en ’n datum binne weke word vasgestel. Hy dring daarop aan dat ek ’n wit trourok koop, veil en al.

      Ek skop vas. Liewer ’n wit pakkie as dit dan wit moet wees, en ’n bypassende hoedjie of blomme in die hare, smeek ek, maar nie ’n trourok en veil nie.

      Hy verstaan nie my afkeer nie en my protestasies val op dowe ore. Maar ék weet. Dit voel nie vir my reg nie. Ek het reeds ’n baba by geboorte verloor, gebore ná net vyf maande se swangerskap. Laki se baby. Maar die man weet nie daarvan nie, en ek is vasbeslote dat hy nooit sal uitvind nie.

      Oor die trourok is hy onversetlik. Dit moet ’n wit trourok wees. Dit moet ’n veil wees, niks van ’n hoedjie of blomme in die hare nie.

      Teësinnig koop ek die wit materiaal en net. No compromises, besef ek. Dit moes my wake-up call gewees het.

      Kay maak my trou-uitrusting, kompleet met die veil. Kay, Kosta, Kosta se vriend Peter en sy Afrikaanse nooi is die enigste gaste by die troue. Agterna hou ons ses paartie in ’n smart Griekse restaurant.

      Ons is man en vrou tot die dood ons skei. Sonder dat ek hom iets oor my verlede vertel het.

      Binne die eerste jaar is ons seun gebore en dood. Ons begrawe hom in Benoni. Drie maande later probeer ek selfmoord pleeg. Sewe jaar later verlaat ek hom. Hy spoor my op, bring my terug. Twee jaar daarna verlaat ek hom weer, maar dié keer is ek met die lyf – vir die vierde keer. Ek gaan druipstert terug.

      5

      Die man is kwaad.

      “What is wrong with you?” wil hy weet.

      ’n Ruk gaan deur my lyf. Dan het Kosta tog met hom gepraat.

      Maar ek misgis my, soos gewoonlik. Nes ek dink dit gaan oor die hond se kop, gaan dit oor die hond se stert – nie dat jy ooit weet watter kant toe met hom nie.

      “Why you cook pasta for second night? Didn’t God give you brain to think?”

      “I know tonight it’s macaroni and cheese, but last night it was spaghetti and –” probeer ek verduidelik,

Скачать книгу