Kobie en die wonderkind. Stella Blakemore
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kobie en die wonderkind - Stella Blakemore страница 4
Maar Olga Willovitch kyk haar tante sonder haat of liefde of skynbaar enige ander gevoel aan.
Sy neem haar viool en loop saam met die dirigent na die verhoog, waar die wagtende gehoor haar luid toejuig.
Kobie staan nog al die tyd teen die muur aangedruk. Haar oë is so groot soos pierings in haar spierwit gesig. Sy is meegevoer deur die wonderlike spel van die meisie wat net so oud soos sy is.
Maar dan kom die eerste vals noot, dan stilte, en die gehoor begin verleë hoes. Die wit figuurtjie op die verhoog lyk soos ’n gekweste voël. Haar viool is stil en die strykstok hang langs haar sy. Kobie druk haar vingers oor haar oë om niks meer te sien nie! Sy wil ook niks meer hoor nie!
Ver weg klink die dirigent se stem. Juffrou Willovitch is siek en die konsertgangers se geld sal teruggegee word. Die mense praat onderlangs en allerhande medelydende opmerkings kan gehoor word. Arme kind! Wat makeer dan? ’n Mens sal natuurlik nie jou geld gaan terugvra nie! Jy het tog meer as die helfte van die program gehoor en sy het so wonderlik gespeel! Wie het nou kon dink dat sy siek is …
Met ’n ruk skrik Kobie wakker. Almal is op pad uit haar mense seker ook!
“O, wêreld! Olga Willovitch is nie die enigste mens met sorge nie!”
Sy vlug die saal uit en storm in die straat af om gou by die motor te kom, maar sy is te laat! Daar klim die familie al in, haar ma en pa voor, en Lulu en Ruth agter. In die skaduwee twee tree weg hoor Kobie haar groot suster se helder stem.
“Wat op aarde is hier onder my voete? Waar kom dié goed vandaan? Het Ma dan ’n jas hier agter ingegooi?”
“Glad nie! Watter jas?”
En dan Ruth se stem! “Haai, dis Kobie se jas en haar ou hoed! Wat maak dit hier?”
“Dis snaaks!” sê meneer Malan ’n bietjie onrustig. Hy hoop nie sy oogappel het al weer iets onhebbeliks aangevang nie.
“Glad nie snaaks nie!” antwoord sy vrou dreigend. “Weet jy wat daardie onhebbelike meisiekind gedoen het? Sy het na die konsert gekom ten spyte van my bevel!”
“Haai, nee!” sê haar man verleë.
“Sy sal tog nooit so ’n ding doen nie!” pleit Ruth, wat nog nie geleer het om stil te bly nie.
“Wie, Kobie?” lag Lulu. “Wys my iets wat sy nié sal doen nie!”
Mevrou Malan kyk na haar twee dogters.
“Stil, Ruth! En jy, Lulu, lag jy daaroor?”
“Glad nie, Ma!” antwoord Lulu onderdanig.
“Ag, wat help dit!” sug Kobie. “Ek moet my maar oorgee om verskeur te word!”
Sy kom uit die skaduwee te voorskyn en groet haar familie beleef.
“Naand, Ma. Naand, Pappie.”
Haar ma kyk haar ’n oomblik sprakeloos aan. Sy kan nie glo dis haar dogter wat hier in seunsklere rondloop nie.
Meneer Malan is diep ongelukkig oor sy liefling se gedrag.
“Ag, nee, Kobietjie!” sê hy met ’n sluk. “Dis regtig baie stout van my kind om so iets te doen!”
Ruth lyk net verstom, maar Lulu verberg haar gesig agter haar sakdoek en snuit haar neus hard.
Mevrou Malan kry weer haar stem terug.
“Klim in, Jakoba!” sê sy sag, maar met iets in haar stem wat elke krul op Kobie se kop penorent laat staan.
“Ag, moet tog nie vir haar kwaad wees nie, Mammie!” soebat meneer Malan. Hy is baie geheg aan Kobie.
“Kwaad!” Mevrou Malan kyk hom minagtend aan. “Ry, asseblief, Niklaas!”
“Ag, moet haar tog nie hierdie keer straf nie!” soebat haar man. Maar hy besef dat Kobie hierdie keer werklik straf verdien. “Kobie, my liefie, hoekom het jy dan so iets gedoen?”
Kobie sit tussen haar twee susters. Haar gesiggie lyk meteens baie bleek en haar oë swem in trane.
“Ek … ek wou so graag die uitvoering hoor, Pappie, maar ma het my bed toe gestuur …”
“Maar hoekom tog daardie klere, hartjie?”
“Ek het nie geld gehad om in te gaan nie, Pappie. Ek het net genoeg gehad om ’n paar programme te koop om te maak asof ek een van die verkopers is, sodat ek verniet kon ingaan om te luister.”
“Maar dis mos nie mooi om seunsklere aan te trek nie. Waar het jy dit gekry?”
“Dis Stefanus se klere,” sê mevrou Malan koud. “Sy Sondagklere!”
“Het Fanie dit vir jou geleen? Ek sal hom goed straf,” sê meneer Malan. Hy kan nie onthou wanneer laas hy een van sy kinders gestraf het nie, maar die woorde klink goed.
Sy vrou kyk hom byna met afkeer aan.
“Ry, asseblief, Niklaas!” sê sy en vervolg binnensmonds: “Jy maak jou net verspot voor die kinders. Jy laat Stefaans asseblief staan. Dis nie sy skuld nie. En Kobie … ék sal weet wat om met háár te maak!”
Die toon van haar stem is ongelooflik streng en belowe niks goeds nie. Maar Kobie se goeie engel word net op hierdie oomblik wakker, al is dit op ’n manier wat ’n mens gewoonlik nie van ’n engel verwag nie. Hulle is net by die kerk toe ’n swak stemmetjie van agter praat.
“Asseblief, Pappie … hou tog stil … asseblief tog, gougou!”
“Hoekom, liefie?” Haar pa skrik.
“Ek … ek voel naar … o … gou … ag … ek hét naar geword!”
Ruth en Lulu gee ’n gil. Ja-nee, Kobie was te opgewonde oor die uitvoering. En die feit dat sy haar ma se bevel verontagsaam het, het nie juis daartoe bygedra om haar te kalmeer nie …
2
_____________
Elsabe in die moeilikheid
Die hoof van die Maasdorpse Meisieskool sug.
“Nou ja, so is dit! Wat staan my te doen?”
Die onderhoof trek haar skouers op en antwoord nie dadelik nie. Juffrou Muller, of Yskis, soos die leerders haar noem, en juffrou Van der Westhuizen is al jare lank vriendinne. Daarom bespreek hulle hul probleme met die grootste vrymoedigheid.
“Ek weet nie. Ons was nog nooit in so ’n benarde posisie nie,” sê sy eindelik.
“Nee, nog nooit nie!” gee die hoof toe. “Dis vreeslik om te dink dat ons ’n nuwe jaar ingaan met ’n klomp prefekte wat feitlik niks beteken nie! Ek voel dis my skuld, maar ek weet self nie hoe nie.”
“Hoe