Kobie en die wonderkind. Stella Blakemore
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kobie en die wonderkind - Stella Blakemore страница 6
“Die hare gaan waai!” belowe Matrone. “Dis seker in belang van die skool dat niemand iets hiervan weet nie. Ons moet maar probeer om van haar ’n normale meisie te maak.”
“Ja,” sê die hoof. “Ons moet werklik probeer.”
Dis ’n groot wonder dat die skool en koshuis nog staan! Die skoolbusse het van die stasie af aangekom met honderde meisies wat mekaar bestorm om te groet en te hoor hoe dit gaan. Hoor en sien vergaan so lawaai die klomp.
Elsabe van den Heever staan naby die deur en kyk laggend na haar maats. Dis net ’n jaar gelede dat sy hiernatoe gekom het. Toe het sy gedink sy het in ’n gestig beland. Maar sedertdien het alles verander.
“Haai, Terrie! Kan jy nie hoor nie? Jou ore is tog lank genoeg!”
“Wie … o, dis jy, Elsabe! Het jy al vir Kobie gesien?”
“Nog nie vandag nie. Maar ons het ’n deel van die vakansie saam deurgebring.”
“Ja, ek weet, jou gelukkige aap! Sy het my ook gevra, maar my pa wou nie. Hy sê ons is min genoeg by die huis dat ons nog in die vakansie ook moet weggaan.”
“As ek ouers gehad het, sou ek nie van die huis wou weggaan nie, maar my pa is weer Europa toe en my broer het ook gaan kuier. Dus was daar net my tante oor en sy gee nie om nie.”
Elsabe lag.
“Sy hou nie meer so baie van my vandat ek op Maasdorp is nie. Sy skaam haar morsdood vir my kort rokke en die taal wat ek by julle geleer het.”
Tokkie Nel sien hulle van waar sy by haar klein sussie staan.
“Bly jy hier, Naatjie,” beveel sy haastig.
Alhoewel Naatjie al ’n jaar op skool is, is sy die eerste dag ’n bietjie verleë.
“Kyk, hier kom Breggie en Heloise.”
Laasgenoemde pak Naatjie aan die skouers.
“Luister, ons het ’n plan!” sê Breggie sonder om haar maatjie eens te groet.
Die drie gaan na ’n hoek van die saal waar hulle ewe ernstig met die koppe bymekaar oor een of ander belangrike saak gesels.
“O, ek weet van drie snuiters wat gaan deurloop!” terg Tokkie lag-lag.
Sy draai haar om en loop haar teen juffrou Reitz, die sportonderwyseres, vas wat probeer om ’n pad deur die meisies te baan.
“Ag, ekskuus, Juffrou! Het ek Juffrou seergemaak?”
“Nee, Tokkie. My laaste stukkie vel is al klaar afgeskuur. Ek weet julle is maar iets oor die tweehonderd meisies, maar vandag lyk dit soos vyfduisend.”
“Ja, Juffrou, dis vreeslik.”
Nou kom ander meisies ook groet.
“Ek moet van beter geweet het!” lag die onderwyseres. “Hoekom het ek nie agterom gegaan nie?”
“Juffrou, my been is beter en ek mag weer tennis speel.”
“Juffrou, my pa sê ek mag ’n sportonderwyseres word, nes Juffrou. Maar nou sê Kitty mens moet eers matriek slaag. Dis tog nie waar nie, is dit, Juffrou?”
“Ja, Salie, dis waar, en jy het ook eintlik ’n beter kans as jy ’n B.A. het.”
Salie Celliers steun.
“O gonna, Juffrou! Dis vreeslik. Ek het graad nege netnet gehaal.”
“Juffrou, Santa het haar arm gebreek,” sê ’n blonde meisie met vriendelike blou oë. “Sy was op Muizenberg saam met Kobie Malan-hulle en toe het sy geval, of so iets. Sy is terug op skool, maar sy moet met haar linkerhand skryf!”
“Regtig, Susie? Dit spyt my om dit te hoor. Sy het juis so mooi aangegaan met sport.”
“Juffrou, ek gaan probeer om die eerste span te haal.”
“Juffrou, watter dae gaan ons swemles hê, want ek begin nou met musieklesse?”
“Juffrou, my pa kla dat ek vreeslik krom loop en hy sê ek moet ekstra gimnastieklesse neem. Moet ek, Juffrou?” Juffrou Reitz staan op die onderste treetjie en met ’n lag soos ’n jong meisie s’n, spring sy die trap op.
“Nee wat! Julle kry my nie vandag nie! My werk begin eers môre!”
Oplaas kom Tokkie by Elsabe en Terrie uit. Sy haal haar hoed af en skud haar rooi hare los.
“Mag, dis ’n lawaai!” kla sy. “Ek dink ek word oud, want ek kan dit nie meer verdra nie!”
“Ja-nee, julle wat graad tien geslaag het, is natuurlik oud!” spot Terrie. “Julle dink natuurlik julle is watwonders omdat julle twee grade in een jaar geslaag het!”
“Hoe ons deurgekom het, weet nugter alleen,” sê Tokkie. “En Elsabe en Kobie nogal eerste klas! Ek het ’n tweede klas gekry en die ander derde klas. Dis darem lekker om slim te wees!”
“Ag nee!” spot Terrie. “Jy ly aan ’n minderwaardigheidskompleks!”
“Wat is dit?” vra Tokkie verdag.
“Ek weet nie, maar my ousus se grootste vriendin was die vakansie by ons en sy praat vreeslik baie van sulke dinge. En weet julle wat? Sy kom hierheen as onderwyseres. Het julle al ooit van so iets gehoor? Sy was soos een van ons kinders. Dit sal my nie verbaas as sy my by my ma-hulle gaan verklik nie. My ouers dink nogal ek is vreeslik soet.”
“Maggies! Waar sou hulle dié idee kry?” terg Elsabe.
“Maar miskien sal sy tog nie,” gaan Terrie voort, “want sy glo aan baie snaakse dinge. Haar hoofvak op universiteit was glo sielkunde, of so iets, en sy glo nie aan straf nie.”
“Wat? Soos Yskis?” vra Tokkie. “Dan bedank ek. Jy kan maar jou suster se vriendin hou. Yskis glo mos ook nie aan straf nie. ‘Wat! Straf!’” maak sy juffrou Muller na. “‘My goeie meisiekind, dink jy miskien dis die moeite werd om aan jou aandag te skenk? Gaan, asseblief. Jy mag miskien belang stel om te hoor dat ek ’n paar sake het wat my aandag vereis – sake wat belangriker is as die swak pogings van ’n bakvissie om haar op die voorgrond te stel deur onhebbelik te wees, omdat dit nie vir haar moontlik is om dit op ’n waardiger wyse te doen nie.’”
Die ander twee skater van die lag.
“Tokkie, jou esel, sy praat glad nie so nie!” sê Terrie. “Sy praat vreeslik min; ek weet goed.”
“Miskien, maar die idee is darem reg,” sê Tokkie beslis. “Ek wil maar net een ding sê: as ons nog so ’n juffrou kry, bly ek sowaar in die siekekamer!”
“Nee, sy is natuurlik baie jonk,” vertel Terrie. “Sy en my suster was saam op universiteit en hulle is omtrent dieselfde ouderdom, so twee-en-twintig. Nou ja, sy glo glad nie aan straf of slegsê nie. Ek het nie goed geluister wat hulle praat nie, maar sy sê ’n kind wat stout is, is siek of so iets.”
“En