Kobie en die wonderkind. Stella Blakemore
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kobie en die wonderkind - Stella Blakemore страница 5
“Kobie-hulle? Moenie so praat nie! Ná ’n week sal ons g’n dak oor ons koppe hê nie! Daar is natuurlik Elsabe van den Heever met ’n taamlike sterk persoonlikheid. Hoe sal dit wees as ek haar oorsit na matriek?” Die hoof lag ’n bietjie. “Ag nee, tog!”
Juffrou Muller lag ook.
“Moenie Elsabe van my wegneem nie. As ek graad elf oorneem, wil ek ten minste één meisie in die klas hê wat my ondersteun.”
“Ja,” sê die hoof. “Elsabe hou baie van jou.”
“En ek van haar,” antwoord juffrou Muller met ’n openhartigheid wat ’n mens skaars van haar verwag. “Onthou jy hoe ’n armsalige dingetjie sy was toe sy ’n jaar gelede skool toe gekom het?”
“Ja, met haar snaakse klere en ouderwetse manier van praat. Maar Kobie het haar gou onder hande geneem. Deesdae is dit gelukkig Elsabe wat ’n invloed op Kobie uitoefen. Nou ja, die twee sal seker aanstaande jaar prefekte wees, maar nou help dit ons niks. Sê my waar kry ek ’n hoofmeisie vandaan?”
“Ons is omtrent in ’n moeilike posisie!” lag juffrou Muller. “Die skool sal vanmiddag vol meisies wees – tweehonderd of meer van hulle – en hier sit ons in jou deftige kantoor sonder die geringste idee waar ons ’n hoofmeisie gaan uithaal! Ons moet maar die beste van ’n slegte saak maak. Die twaalf meisies wat in die eksamen die beste gepresteer het, word prefekte. Die hoofmeisie is die een wat die heel beste gedoen het.”
Die hoof lyk bekommerd.
“Die saak is nie so eenvoudig nie,” sê sy. “Het jy vergeet wie verlede jaar in graad elf eerste gekom het?”
“Dis … ag, natuurlik! Fienie Assman! O nee! Dit kan ons nooit toelaat nie! Sy is nie ’n aangename mens nie!”
“Die arme kind is nie baie innemend nie. Ek hou ook nie van haar nie, sy is heeltemal te groot vir haar skoene. Matrone kla ook oor haar gedrag. Ons sal haar onmoontlik hoofmeisie kan maak!”
“Dan bly daar net Hattie Coetser oor!” sê juffrou Muller. Die hoof sug.
“Ja, sy was darem verlede jaar ’n prefek. Maar hoe kan ek ’n meisie wat matriek gesak het hoofmeisie maak?”
“Dis óf sy óf Fienie. Wie anders bly oor? Bessie Bezuidenhout, Eva Sandberg, Dora Stefaan –” Hul gesprek word deur ’n geklop onderbreek.
“Ja!” sug die hoof. “Van nou af tot aan die end van die kwartaal sal ek nie ’n oomblik vir myself hê nie.”
Sy lag toe sy dit sê. Juffrou Muller glimlag effens spottend terug. Hulle weet maar te goed dat hulle nie sonder die skool kan klaarkom nie. Dis hulle hele lewe.
“Kom binne!” roep juffrou Van der Westhuizen. “Ja, Annie? Goed, sê vir Matrone ek sal nou-nou kom. Sy moet maar solank alles regsit. En neem hierdie briewe na juffrou De Wet.”
“Nou ja, ek moet gaan kyk hoe lyk dit met die boeke en so aan vir môre se klasse,” sê juffrou Muller.
Matrone lyk effens moeg en afgemat, al is dit die eerste dag van die kwartaal. Sy is alreeds ’n week op Maasdorp doenig om alles in orde te kry voor die leerders kom. Juffrou Van der Westhuizen kry haar in haar woonstel. Saam kyk hulle die lyste deur wat Matrone opgestel het.
“Dis dan alles,” sê Matrone. “O ja! Ek het geweet daar is nog iets. Verlede keer toe ons gepraat het, was daar twyfel of die nuwe kind na graad elf kom. Is dit nou finaal? As sy nie kom nie, wil ek graag ’n ander plan met die beddens in daardie kamer maak.”
“Nee, sy kom,” sê die hoof. “Ek het vanoggend ’n boodskap van haar pa gekry. Hy het eers laat gisteraand besluit om haar wel te stuur.”
“Hoekom besluit die mense dan so laat? Hulle gee gewoonlik maande voor die tyd hul name op om by Maasdorp in te kom.”
“Ja, ek neem gewoonlik nie meisies so op die laaste oomblik in nie, maar dis ’n buitengewone geval. Toe ek nog op Muizenberg was, het dokter Bauer haar pa na my toe gebring. Ek was so jammer vir die man. Kyk, ek gaan jou daarvan vertel. Juffrou Muller weet ook, maar verder weet niemand nie. Hierdie meisie, Carla Willemse is haar naam, is kamma ’n wonderkind.”
“Watter soort kind?” vra Matrone vinnig.
“’n Wonderkind. Sy speel viool.”
Matrone voel sommer benoud.
“Moet my tog nie nog een soos Kobie Malan gee nie!” sê sy verwytend.
“Nee, die kind is regtig ’n genie. Aangesien haar ma dood is toe sy nog baie klein was, het ’n tante haar onder hande geneem en laat leer. Sy is wêreldberoemd. Jy het seker van Olga Willovitch gehoor?”
“Ja, natuurlik.”
“Nou ja, dis sy. Die tante het dié verspotte naam gekies om die mense te laat dink dat die kind Russies is.”
“Olga Willovitch!” sê Matrone vol twyfel. “Maar daar is mos talle opnames van haar. Wat op aarde kom soek sy hier?”
“Die tante het die kind so gedryf dat sy skoon oorwerk is – haar senuwees is gedaan. Sy het reeds in Londen moeilikheid ondervind, maar dis eers hier in Kaapstad dat sy tot ’n breekpunt bereik het. Haar pa, wat haar toe vir die eerste maal in elf jaar sien, het hom byna doodgeskrik en dokter Bauer ingeroep. Hy het sommer dadelik vasgestel dat haar senuwees in so ’n vreeslike toestand is dat haar verstand miskien ook skade kan ly.”
“Arme klein ding!” sê Matrone. Sy is partymaal ’n bietjie ongeduldig met haar groot familie, maar haar hart is ruim. “Sy het dus nog nooit ’n ware kinderlewe gehad nie!”
“Presies! Dokter Bauer meen ’n kosskool is net die regte plek vir haar. Om haar na ’n hospitaal te stuur, sal nie veel help nie – sy sal haar sit en verknies. Omdat Olive so lank hier was, het hy haar pa reguit na my gebring.”
“Ai! Dis ’n groot verantwoordelikheid,” sê Matrone. “Hoe sal ons kan toesien dat sy nie aan ’n viool raak nie?”
“Dit sal nie nodig wees nie, aangesien sy nie op die oomblik kan speel nie. Sy het gisteraand in die Kaap opgetree en op die verhoog het haar arms meteens lam geword en sy kon nie voortgaan nie. Dokter Bauer het vanoggend gebel. Hy sê hulle het ’n vreeslike nag met haar deurgemaak. Sy wou nie bed toe gaan nie. Sy loop op en neer soos ’n wilde ding en elke nou en dan gryp sy die viool en probeer speel maar tevergeefs! Dis net senuwees, natuurlik. Sy kan haar hande en arms heeltemal goed gebruik, maar nie om te speel nie.”
“O, die arme kind! En die tante?”
“Sy het die kind gisteraand die rug toegekeer. Olga Willovitch het vir haar baie geld gemaak. Sy sal nie honger ly nie.”
“Maar … dis verskriklik!” sê Matrone geskok. “Het sy dan geen gevoel vir die kind nie?”
“Blykbaar nie. Maar dit maak ons taak ’n bietjie makliker. Aangesien sy nie juis gewoond is aan veel liefde of ’n ouerhuis nie, sal sy nie baie verlang nie. Maar hoe sy sonder haar musiek gaan klaarkom, weet ek regtig nie.”
“Ja,” sug Matrone. “Maar sê my waarom