Saartjie Omnibus 1. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé страница 19

Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé Saartjie

Скачать книгу

glo nie,” sê Anna en sy lyk asvaal. “Ek ken daardie stem. Dit was Muggie!”

      Vreesbevange kyk hulle na mekaar. Dieselfde besef tref hulle al drie. Muggie het hulle gevolg en sy het by daardie gat in die vloer afgeval!

      Saartjie kry eerste beheer oor haar stem en ledemate terug.

      “Kom!” sê sy hees en hardloop gang toe. Anna en Lina volg haar dadelik.

      “Help!” hoor hulle Muggie roep.

      Hulle staan by die gat in die vloer. Saartjie buig vorentoe en lig met die flits.

      “Hier’s ek!” kom ’n benoude stemmetjie. Saartjie skyn die lig na waar sy Muggie se stem gehoor het. Die kleintjie lê daar onder en hou Trienkie nog steeds in haar arms vas.

      “Moenie bang wees nie, Muggie,” sê Saartjie. “Ons sal jou nou uitkry.”

      Die dogtertjie begin tot verhaal kom ná die skok toe die grond sommer so skielik onder haar voete padgegee en sy deur die lug getrek het. Sy begin kliphard huil.

      “Moenie huil nie, Sussie,” troos Anna, maar dit lyk asof sy ook enige oomblik in trane gaan uitbars.

      Saartjie kyk vinnig rond. Wat op dees aarde gaan hulle doen? Muggie lê daar diep onder. Sy moes seergekry met die val.

      “Kan jy opstaan?” vra Saartjie en skyn met die lig op die snikkende dogtertjie.

      “Nee,” huil Muggie. “My been is af!”

      “O, my arme sussie . . .” snik Anna.

      “Stil, Anna!” sê Saartjie ferm. “Haar been is seker net seer. Hy kan nie af wees nie.”

      Saartjie besef sy moet kalm bly. Sy moet helder dink. Muggie skree en huil nou histeries. Anna huil ook hard. Lina is so lam geskrik dat sy nie ’n woord kan uitkry nie.

      Weer kyk Saartjie af. Die gat is omtrent vyf meter diep. Hier is nie ’n tou waarmee haar maats haar kan laat afsak nie. Hier is niks waarmee sy in die gat kan afklim nie.

      Muggie lê nou sag en kreun, maar af en toe gil sy nog van pyn.

      “Ek moet na haar toe gaan,” sê Saartjie vasbeslote.

      “Maar . . . hoe . . .” stamel Lina, “hoe gaan jy dit regkry?”

      “Daar is net een manier. Ek sal moet spring!”

      “Nee, Saartjie,” snik Anna. “Jy gaan jou nek breek. Dis mý sussie. Laat ek.”

      “Moenie simpel wees nie,” snou Saartjie haar toe. “Jy is te lomp en jy’s glad nie ’n atleet nie.”

      Saartjie kyk weer af. Ver onder haar sien sy die gebreekte planke. Eenkant en half op die planke lê die kreunende Muggie met Trienkie. Net langs die planke lyk dit asof daar ’n sanderige plekkie is. Sy sal moet spring sodat sy daarop te lande kom.

      “Luister mooi,” sê Saartjie. “Ek gaan afspring en by Muggie bly. Daar is geen manier hoe ons haar gaan uitkry nie. Sodra ek onder is, hardloop julle en gaan haal hulp. Dit help nie een van julle bly hier en bekommer haar dood oor die ander nie – hardloop albei van julle! Verstaan?”

      Lina en Anna knik.

      “Hier, Lina,” sê Saartjie en gee vir haar die flits. “Lig op daardie sanderige plek.”

      “Wees tog asseblief net versigtig,” kerm Anna.

      “Ek sal. Julle moet baie vinnig hardloop.”

      Muggie begin weer huil. Haar rou snikgeluide sny deur die verlate huis.

      Saartjie kyk na die ligkol op die sand ver onder haar. Sy moet só probeer spring dat as sy seerkry sy darem nog tot by Muggie kan kruip om haar te help en te troos.

      Sy vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg. Dan sê sy: “Hier kom ek, Muggie!” en spring.

      Saartjie val hard, half op haar sy. Sy kreun en snak na asem. Haar wind is byna uit.

      “Is jy oukei?” skree Anna en Lina beangs.

      Saartjie hyg. Dan glimlag sy en roep boontoe: “Ek dink so!”

      Sy sukkel regop en kreun van die pyn. Haar skouer het seergekry.

      “Gooi nou die flits af, Lina!” beveel sy hygend. “En hou dit aangeskakel.”

      Saartjie vang die flits en sukkel tot by die kermende dogtertjie met die pop.

      “Hier’s ek, Muggie, hier’s ek,” sê sy sag. “Nou hoef jy nie meer bang te wees nie.”

      Moederlik neem Saartjie die huilende figuurtjie in haar arms.

      “Waar is dit seer?”

      “Hier,” snik Muggie en wys na haar enkel. Saartjie sien hoe geswel dit is. Muggie moes dit verstuit het.

      “Sy is nie ernstig beseer nie,” lig Saartjie haar twee maats in. “Hardloop nou en gaan kry vir ons hulp. Sê hulle moet ’n leer saambring. Maak gou!”

      “Ons is nou-nou terug!” skree Anna. Dan hardloop sy en Lina by die huis uit en in die reën om hulp in Lynnekom te gaan haal.

      Saartjie bly alleen saam met Muggie in Bergzicht – die huis net die donker geheime – se somber kelder agter.

      Sy gesels opgeruimd met die kleintjie: “Dit sal nie lank vat nie. Hulle kom ons netnou hier uithaal,” en streel sag oor haar voorkop.

      Muggie se snikke kom stadigaan tot bedaring. Dit is nou pikdonker hieronder. Alles ruik na muf.

      “Saartjie,” snik Muggie skielik.

      “Ja, Muggie?”

      “Is julle baie kwaad omdat ek agter julle aangeloop het?”

      “Nee, Muggie,” sê Saartjie.

      “Julle sal nie die lekkers wat julle vir my gegee het terugvat nie?”

      “Nee, natuurlik nie.”

      Dit lyk of Muggie nou begin beter voel. Sy vra vir Trienkie hoe sý voel en dan sê sy: “Lyk my Trienkie het so geskrik dat sy nou nie eers boe of ba kan sê nie.”

      Saartjie gee ’n effens verbouereerde laggie. Sy hou nie van hierdie bedompige kelder nie. Sy wens Anna en Lina wil nou hulp bring. Die grillerige, dooie reuk word al skerper. Sy wonder hoekom die kelder hier gebou is. Sy sal graag wil ondersoek instel, maar sy kan Muggie nie nou alleen los nie. En haar skouer pyn nogal erg.

      Sy vat egter wel die flitslig en laat die lig in die kelder – of is dit ’n grot? – rondspeel.

      Skielik trek Saartjie haar asem vinnig in. Sy kry hoendervleis. Sy wil gil, maar onthou net betyds van Muggie wat nou so gemaklik in

Скачать книгу