Saartjie Omnibus 1. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé страница 17

Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé Saartjie

Скачать книгу

makliker om hulle te volg sonder om gesien te word. Sy skuil agter een boom, hardloop dan vinnig na ’n volgende een, wag ’n rukkie en suig eers woes aan die lekker voor sy vinnig tot by die volgende boom hardloop.

      Onder ’n boom tussen ’n klomp bosse en struike besluit die drie groot meisies om eers ’n bietjie te rus, hul tee te drink en botterbroodjies te eet.

      Hulle gaan sit op die groen gras.

      “Ons sal moet beurte maak om tee te drink,” sê Saartjie, “want ons fles het net een bekertjie.”

      Lina skeur die papiersak oop en hou dit vir elkeen om ’n botterbroodjie te vat. Die meisies hap daaraan en kan nie glo hoe hard dit is nie.

      Saartjie kry eerste ’n klein stukkie afgebyt, maar sy spoeg dit dadelik uit.

      “Sjoe!” sê sy. “Dit brand!”

      Anna en Lina byt ook elkeen ’n stukkie af en hulle spoeg dit net so vinnig uit. Dit brand nogal erg!

      Die meisies sit met oop monde en hulle blaas en waai met hul hande om hul tonge af te koel.

      “Die goed is so hard,” sê Saartjie, “omdat ons dit te lank in die oond gelos het, maar wat op aarde het ons daarin gesit wat dit so laat brand?”

      “Dit proe vir my soos peper,” sê Anna nadenkend. “Het jy nie miskien ’n fout gemaak en peper ingegooi in plaas van sout nie?”

      Nee, verseker Saartjie hulle, sy het nie so ’n fout begaan nie. Sy is mos nie so onnosel nie.

      Die drie sit nou en dink hoe die peper in die koekies kon gekom het. Naby hulle lê Muggie agter ’n bos. Sy loer met groot oë deur die takke.

      “Julle weet,” sê Saartjie skielik, “toe ons by die deur met Galpil gepraat het, was Muggie mos ’n rukkie alleen in die kombuis . . .”

      “Ek ken daai sussie van my,” sê Anna dadelik. “Ek wed julle enigiets sy is die sondebok! Sy het peper in die deeg gegooi!”

      Saartjie en Lina wil nie wed nie. Hulle is net so seker dit was Muggie.

      “Die klein karnallie!” sê Saartjie. “Wag maar! Wanneer ons vanmiddag teruggaan, sal ons haar deeglik onder kruisverhoor neem en dan met haar afreken.”

      Die ander twee stem saam met Saartjie, hoewel al drie weet hulle sal nooit met Muggie kan afreken nie. Dit is maar net ’n manier van praat hierdie om hulle beter te laat voel. Hulle het al soveel keer in die verlede gesê hulle sal met Muggie afreken as sy iets gedoen het wat hulle vies maak, maar hulle het hul dreigement nog nooit uitgevoer nie. Hulle kry haar óf jammer as sy so pateties na hulle kyk en die onderlippie begin bewe, óf sy sit só ’n keel op as hulle naby haar kom om met haar af te reken dat hulle dan maar liewer die hasepad kies. Niemand se oordromme is bestand teen Muggie se stem wanneer sy werklik begin skree nie.

      “Ons kan niks met hierdie goed doen nie,” sê Saartjie. “Dis te hard om te eet en as ons dit in die tee doop, sal die peper ons monde brand.”

      “Al waarvoor dit goed is, is vir ammunisie,” sê Lina.

      Hulle begin sommer dadelik rondkyk vir ’n teiken om na te gooi. ’n Entjie van hulle af lê ’n leë koeldrankblikkie wat piekniekgangers daar neergegooi het.

      “Ons kyk wie kan die blikkie die meeste kere raakgooi,” sê Saartjie. Lina verdeel die koekies tussen hulle sodat elkeen ewe veel ammunisie het. Elkeen het ses van die harde gepeperde botterbroodjies. Saartjie trek eerste los. Dis amper . . . Die stof spat langs die blikkie op.

      Muggie lê en kyk hoe die meisies teiken gooi. Sy proe aan een van die botterbroodjies wat sy die hele tyd styf in haar hand vasgehou het. Vinnig vee sy met haar hand oor haar mond. Sy het te veel peper ingegooi – dis seker!

      Muggie wens sy kan ook daar by die drie staan en na die blikkie gooi. Sy is seker sy sal beter as hulle wees!

      Elkeen het net een botterbroodjie oor en niemand het die blikkie nog raakgegooi nie.

      “Hierdie slag móét dit raak wees,” sê Saartjie. Sy korrel mooi en dan trek sy los. Pieng! Die blikkie skuif ’n entjie soos wat Saartjie dit pragtig raakgooi.

      Anna en Lina wens haar geluk en doen dan hul bes om met die laaste gooi darem gelykop met Saartjie te eindig. Maar albei gooi mis.

      “Nou toe!” sê Saartjie laggend en vee met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. “Wie gooi die beste?”

      “Seker maar jy,” sê Anna. “Jy is die kampioen.”

      “Ons moet ons roer,” sê Lina toe sy opkyk. “Die son sit nie meer so hoog nie en die wind begin waai. Daar ver is swaar donderwolke wat naderkom.”

      Die meisies drink gou hul tee en toe sê Saartjie: “Dis onnodig om die fles nou nog saam te dra. Ons steek dit hier iewers weg, dan kry ons dit met die terugkomslag.”

      Die meisies kyk rond vir ’n plek om die fles te bêre – en hulle kyk reguit na die bos waar Muggie lê.

      “O, hemel!” snak Muggie. Sy knyp haar ogies styf toe en hoop hulle sal haar nie sien nie.

      Die drie meisies sien haar sowaar nie! Sy lê te doodstil en haar groen rokkie is dieselfde kleur as die bos se takke.

      “Hierdie bossie sal doen,” sê Saartjie en sy sit die fles onder ’n bossie ’n paar treë van Muggie af neer. Muggie lê met ingehoue asem en styf toegeknypte ogies.

      Nou stap die drie maats vinnig aan na Bergzicht, die geheimsinnige huis.

      Die donker wolke in die weste beweeg vinnig deur die lug. Dit lyk ook of daar weerlig ver op die horison speel.

      Versigtig lig Muggie haar kop. Sy loer eers net deur een oog en toe sy sien hoe die meisies wegstap, maak sy haar ander oog ook oop. Wanneer hulle ’n goeie entjie van haar af weg is, spring sy op.

      Naby die blik waarna Saartjie, Anna en Lina gegooi het, gaan staan sy. Sy wonder oor die botterbroodjies, maar besluit dan hulle brand haar mond te veel. Sy vat een, mik na die blikkie en gooi hom sommer met die eerste probeerslag raak! Met ’n verbaasde uitdrukking op haar gesig sê sy: “Hoerê!”

      Muggie sit Trienkie neer en gooi ook met die ander eetgoed na die blikkie. Die laaste keer wat sy gooi, klits sy die blikkie heeltemal om!

      “Ek is beter as Saartjie!” sê sy opgewonde. Dan raap sy haar pop op en nael agter die ander aan.

      Die meisies baan hul weg deur die bosse en struike. Hul bene is al vol skrape. Hulle beweeg om ’n klomp digte bosse en sien dan die huis voor hulle – die huis waar dit glo spook.

      Die plek is verlate en verwaarloos. Die voordeur waai krakend heen en weer in die wind. Die vensters is net oop gate in die mure. Daar is geen ruite of vensterbanke meer nie. Deur die jare het die wind die meeste sinkplate van die dak afgewaai. Op die stoep groei daar onkruid uit die barste in die sement.

      Die Drie Muskiete kyk na mekaar. Hulle oë is groot. Die son verdwyn agter die massiewe swart wolke wat nou vinnig en laag oor die aarde inbeweeg.

      Die

Скачать книгу