Saartjie Omnibus 1. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé страница 18

Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé Saartjie

Скачать книгу

oral sigbaar is.

      “Het mense al ooit regtig ’n spook hier . . . gesien?” vra Anna en haar stem bewe.

      “Nie sover ek weet nie,” sê Saartjie, maar haar stem klink ook skrikkerig. “Mense sê maar net dit spook omdat die kluisenaar wat hier gebly het, verdwyn het sonder dat iemand hom ooit kon kry.”

      “Wat presies het gebeur?” vra Lina net sodat hulle nog nie by die huis hoef in te gaan om ondersoek in te stel nie.

      Saartjie verduidelik wat haar pa haar eendag van Bergzicht vertel het. ’n Man en sy vrou het hier op die plaas gewoon. Dit was baie jare gelede, nog in die tyd van die Boere-Oorlog. Gedurende die oorlog is die vrou glo in ’n konsentrasiekamp dood. Hulle het nie kinders gehad nie en toe die man ná die oorlog van kommando af terugkom, het hy alleen hier kom bly.

      Later het hy glo die grootste deel van sy plaas verkoop.

      “Dis waar ons vandag woon,” sê Saartjie. “Lynnekom. Die mense het dit in erwe opgesny.”

      Deur die jare, vertel Saartjie verder, het die ou man maar altyd stoksielalleen hier gebly en hom nie aan die wêreld gesteur nie. Hy was glo ryk van al die grond wat hy verkoop het, maar ’n ou gierigaard. Hy het nooit ’n sent uitgegee nie. Die mense het gesê hy leef net om elke dag al sy geld wat hy in ’n trommel bêre te tel.

      Toe, jare gelede, nadat niemand die kluisenaar vir maande gewaar het nie, het die polisie ondersoek ingestel. Maar daar was nêrens enige teken van hom of van die geld nie. Hy het net spoorloos verdwyn.

      Anna en Lina luister met groot oë na Saartjie.

      “Hulle het die ou oom nooit gekry nie,” sê sy, “en dis vandag nog ’n geheim wat van hom geword het. My pa sê daar is mense wat glo hy is vermoor en toe het die skurke sy geld gesteel en die lyk weggevat en iewers gaan begrawe. Maar niemand weet vir ’n feit of dit so is nie. Die ou kluisenaar en sy geld is nooit opgespoor nie.”

      ’n Rukkie is dit stil. Dan sê Anna: “Is dit rêrig nodig dat ons by die huis moet ingaan?”

      “Dis waarvoor ons die hele ent pad geloop het. Ons kan nie net so weer omdraai nie,” sê Saartjie.

      “Nou kom,” sê Lina, “laat ons vinnig ingaan en uitkom en weg wees.”

      Versigtig nader die drie die verlate huis. Die donderweer grom in die verte.

      Muggie, met Trienkie in haar arms, loer uit agter ’n bossie waar sy die hele tyd geskuil het en sien hoe die meisies voetjie vir voetjie na die ou huis toe stap. Sy besluit om maar liewer hier te wag, want as sy daar ingaan, sal hulle haar sien en dan sal hulle die lekkers wat hulle vir haar gegee het weer wil terughê omdat sy hulle agtervolg het. Sy sal wag tot al die lekkers eers in haar maag is, dan sal sy vir hulle sê sy het hulle agtervolg en alles gesien wat hulle gedoen het.

      Benoud stap die ander drie tot by die voordeur. ’n Sagte windjie het weer opgekom en die voordeur swaai krakend heen en weer.

      Saartjie is voor en sy loer eerste by die deur in. Dit is nie pikdonker in die huis nie, maar sterk skemer, want die dreigende onweerswolke is nou voor die son.

      Wanneer sy by die deur instap, skakel Saartjie die flitslig aan. Lina en Anna is reg agter haar met harte wat wild klop.

      Voor hulle is ’n gang. Daar lê stukke hout en een of twee sinkplate wat van die dak afgeval het. Al wat hulle hoor, is die geritsel van die verflenterde muurpapier soos die windjie by die oop deur inwaai.

      “Lyk my hier is niks nie,” sê Saartjie en voeg met ’n gemaakte laggie by: “Ek wens julle wil julle harte in toom hou. Dit klink soos tromslae.”

      “En wat van joune?” fluister Anna. “Dit klink soos hamerslae in my ore.”

      “Dis jou eie hart wat jy so hoor klop,” verseker Saartjie haar.

      Die meisies stap met die gang af. Saartjie is voor. Sy gebruik nie meer die flitslig nie, want dit is nie nodig nie. Hul oë is nou meer gewoond aan die skemerte in die bouvallige ou huis.

      Hulle stap effens vinniger en begin gesels en lag – heelwat harder as wat nodig is – om vir mekaar te wys hulle is nie bang nie.

      Skielik voel Saartjie die vloer onder haar kraak!

      “Oppas!” skree sy en spring eenkant toe. Net betyds ook! Die verrotte vloerplanke breek en plof na benede. Die meisies kyk mekaar met bleek gesigte aan.

      Voor hulle in die gang is daar nou ’n groot gat in die vloer.

      “So amper of ek het daar ingeval,” sê Saartjie en haar stem bewe.

      “Gelukkig is dit niks bonatuurliks nie,” sê Lina. “Dis maar net die ou planke wat so verrot is dat hulle gebreek het.”

      “Wat bedoel jy – niks bonatuurliks nie?” vra Anna.

      “Ek bedoel dit het niks met spoke of sulke klas goeters te doen nie,” verduidelik Lina.

      “Hier is nie spoke nie,” sê Saartjie ferm. “Dit is maar net ’n ou verwaarloosde huis. Kom ons gaan verder.”

      Die drie skuif versigtig teen die muur langs op die planke wat nie gebreek het nie. Hulle is verby die gat in die vloer en loer nou by die ander vertrekke in. Hulle loop maar saggies op die plankvloere. Hulle wil tog nie in ’n gat of iets val nie.

      Die vertrekke lewer niks noemenswaardigs op nie. Net spinnekoppe en ’n paar rotte wat vinnig weghardloop.

      In die kombuis hoor hulle skielik die gewel­dige gedreun van donderweer en toe begin dit reën.

      “Agge nee,” sê Saartjie vies, “nou gaan ons sopnat wees wanneer ons by die huis kom.”

      “Ons sal maar hier moet wag tot dit opklaar,” sug Lina.

      Die meisies is nie eintlik meer bang nie. Hier is definitief nie iets soos spoke nie . . . hier is niks nie! Die plek is heeltemal verlate.

      Buite probeer Muggie onder ’n boom teen die reën skuil. Sy hou haar pop styf teen haar vas. Sy wou hier wag tot Saartjie-hulle uitkom en hulle dan weer huis toe volg, maar nou word sy bang. Die weerlig blits en dit reën hard.

      Muggie wil nou by Saartjie, Anna en Lina wees. Sy is bang om so alleen hier te staan. Die onderlippie begin bewe. Sy gaan nou na hulle toe, al vat hulle ook die lekkers terug. Sy wil nie meer so alleen hier staan nie. Sy is lus om by die ou huis in te hardloop en vir hulle te sê: “Hier’s ek en wat daarvan!”

      En dis wat sy toe doen. Muggie hardloop met haar pop in haar arms na die huis toe!

      Sy stoot die voordeur verder oop en nael in die gang af – die gang met die gapende gat in die vloer!

      In die kombuis staan Saartjie, Anna en Lina teen ’n muur weg van die reënvlae wat by die venstergat inkom. Die storm woed nou só erg dat hulle Muggie nie in die gang hoor aangehardloop kom nie.

      Skielik hoor die meisies ’n bloedstollende gil wat bo die geraas van die storm uitstyg. Hulle staan versteen. Bleek kyk hulle na mekaar.

      “Wat

Скачать книгу