Saartjie Omnibus 1. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé страница 16

Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé Saartjie

Скачать книгу

drie gaan snuffel Bergzicht se geheim uit.”

      Anna en Lina is tjoepstil. Hul harte klop vinnig. Saartjie se hart klop ook hard.

      “Bergzicht,” sê Anna peinsend. “Niemand gaan ooit naby die plek nie. Die mense sê dit spook daar.”

      “Ek weet,” sê Saartjie. “Maar spoke loop mos nie in die daglig rond nie.”

      “Ja, maar dis so verlate dat daar baie spinnekoppe, rotte en ander kriewelrige goed sal wees,” sê Lina en sy ril: “Brrr.”

      “Toemaar, ons vat ’n flits saam. Dit sal in elk geval seker donker in die ou huis wees,” sê Saartjie. “Wat sê julle, sal ons gaan?”

      Anna en Lina kyk na mekaar. Dan kyk hulle na Saartjie. Toe kyk al drie op. Ja-nee, die son sit darem nog hoog in die lug.

      “Ek sê top!” sê Lina. “Ons gaan.”

      “Ek sê ook top,” sê Anna.

      “Nou kom,” sê Saartjie en staan op. “Kom ons gaan kyk wat is Bergzicht se kamtige vreeslike geheim.”

Teekoppie.tif

      5

       Die geheim van Bergzicht

      Saartjie-hulle het skaars opgestaan toe hulle weer moedeloos gaan sit.

      Muggie se stemmetjie het skril tussenbeide gekom: “Haai! Waarheen gaan julle?”

      In ’n klits was sy met Trienkie in haar arms langs hulle, reg om te gaan waar hulle ook al mag gaan. Dis toe dat hulle met ’n sug maar weer gaan sit.

      “Wat gaan ons doen?” vra Saartjie. “Ons kan haar nooit na só ’n plek saamvat nie.”

      “Dis ook te ver vir haar om soontoe en terug te loop,” meen Lina.

      “Sy kan onmoontlik nie saamgaan nie,” sê Anna beslis.

      Die drie ouer meisies kyk met suur gesigte na die sesjarige wat vriendelik vir hulle staan en glimlag.

      “Waarheen gaan ons?” vra Muggie. “Hoekom sit julle daar soos houtpoppe?”

      “Muggie,” sê Anna en byt op haar tande.

      “Ja, Sus?”

      “Sê nou ons gaan koop vir jou ’n paar lekkers . . .”

      “En ons gee vir jou ses van ons lekker botterbroodjies,” probeer Saartjie dit nóg aanlokliker maak.

      “Sal jy dan hier by die huis bly en by Mamma gaan speel waar sy werk?” vra Anna.

      Muggie dink na oor hierdie aanbod.

      “Nee,” sê sy en die onderlippie begin bewe, “ek wil saam met julle gaan.”

      Moedeloos kyk die Drie Muskiete na mekaar.

      “En sê nou ons gee jou ’n hele sak vol lekkers, Muggie?” vra Saartjie.

      “En neem jou môremiddag saam swembad toe,” sê Lina vinnig.

      “Ek wil liewer vandag saam met julle gaan.” Muggie begin sommer huil.

      Die meisies kyk die kleintjie verslae aan. Hulle kry haar jammer, maar dit is mos onmoontlik om haar na so ’n onbekende, spokerige plek soos Bergzicht toe saam te neem.

      “Gaan koop gou die lekkers, Lina,” sê Anna. “Miskien besluit sy om te bly as sy die lekkers net eers met haar eie oë sien.”

      Lina is vinnig met die geld daar weg kafee toe. Sy gaan sommer vir húlle ook lekkers koop.

      Saartjie en Anna bly sit op die bankie. Muggie gaan sit weer met haar pop op die stoep. Sy huil nog steeds.

      Dit is stil in die tuin. Behalwe vir Muggie se snikke. Skielik bars Saartjie en Anna uit van die lag. Die huilery is eintlik so snaaks. Muggie hou dadelik op. Dis doodstil.

      Dan hoor hulle Muggie se stem: “Huil jy nou weer bietjie, Trienkie. Ek is nou moeg.”

      Lina kom terug met die lekkers. Muggie staan nader en haar oë is groot toe sy sien hoe baie daar is.

      “Jy kan enige ses kies,” sê Anna vir Muggie. “Dit is die helfte. Ons kry dan elkeen net twee en jy kry ’n hele ses!”

      Die trane blink nog in Muggie se oë, maar sy lag nou. Sy hou van die gedagte dat sy sés kry en hulle elkeen maar net twee!

      Versigtig kies Muggie ses van die lekkers.

      “Moet nou nie alles op een slag eet nie,” waarsku Anna, “anders gaan Mamma kwaad wees as jy nie vanaand jou kos opeet nie. Bêre party vir môre.”

      “Soet bly, hoor!” sê Saartjie.

      Muggie kyk na die lekkers in haar hand. Sy wil nog graag saamgaan, maar sy wil darem ook nie die lekkers teruggee nie.

      “Goed, maar môremiddag vat julle my saam swembad toe . . .”

      “Ja, ons sal,” sê al drie feitlik tegelyk.

      “En waar is my ses botterbroodjies?” Muggie hou die handjie wat nie vol lekkers is nie uit.

      Lina haal vinnig ses van die harde botterbroodjies uit en gee dit vir Muggie.

      “As Mamma vra waar ek is, sê maar net ek is by Saartjie,” sê Anna. Dit is mos waar. Sy is mos by Saartjie.

      “Ek gaan my pa se flits haal,” sê Anna en hardloop gou huis toe.

      Lina dra die pakkie koekies en Anna die flitslig. Saartjie stap effens voor hulle met die fles tee. Hulle is op pad na Bergzicht, die geheimsinnige huis. Hulle kyk op na die son. Hy sit darem nog mooi hoog.

      Muggie staan met ’n suigstokkie in die kies en kyk die drie wat so vinnig wegstap agterna.

      Dan hardloop sy vinnig na die somerhuisie toe en bêre haar lekkers versigtig onder ’n kussing op ’n stoel. Sy hou die suigstokkie in haar mond en die botterbroodjies in haar hand. Nou nael sy hekkie toe en so in die verbygaan, raap sy haar pop, Trienkie, op.

      Muggie en Trienkie vlieg by die hekkie uit, net betyds om te sien hoe Saartjie, Anna en Lina uit die straat afdraai en deur die veld begin stap.

      Muggie het besluit sy en Trienkie gaan die drie volg. Sy wil uitvind waarheen hulle gaan. Sy sal hulle op só ’n manier agternasit dat hulle nooit sal weet sy is reg op hul hakke nie.

      Muggie hardloop met die straat af. Wanneer sy by die oop veld tussen die lang gras kom, begin sy gebukkend loop. Sy bly so ’n honderd treë agter die drie niksvermoedende meisies. Kort-kort gaan staan sy stil, loer oor die gras en gee gou ’n paar vinnige suie aan die suigstokkie voor sy weer versigtig aanstap.

      Saartjie,

Скачать книгу