Saartjie Omnibus 2. Bettie Naudé
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 2 - Bettie Naudé страница 16
“Ek het gedink jy sal hulle uiteindelik tóg maar laat gaan, Martha,” sê dokter Baumann en daar is ’n teer glans in sy oë.
“Hulle is genoeg gestraf,” sê mevrou Baumann. “Dit was vir hulle erg om die hele dag so in spanning hier te sit.”
In die verte hoor hulle Apie se uitbundige “Ja-hoeee!” Dan hoor hulle dit weer, en dit klink of Saartjie hierdie keer saam met hom skree.
Sy en haar boetie hardloop op volle vaart na Karzo se wêreldberoemde sirkus toe.
Saartjie se lang, bruin bene vlieg oor die aarde. Sy is ’n goeie paar treë voor Apie. Hulle hoop hulle is nie laat nie. Hulle wil niks van al die sirkus se “wonderlike goete” misloop nie.
5
“Wonderlike goete”
Hoe nader Saartjie en Apie aan die sirkustent kom, hoe harder word die blaasorkes se opgewekte musiek – en hoe vinniger hardloop hulle.
Hulle koop kaartjies en gaan haastig by die tent in. Die arena met die saagsels in die middel is nog leeg. Hulle het gelukkig niks misgeloop nie.
Heel voor sien Saartjie vir Anna, Lina en Muggie en sy pyl reguit na hulle toe. Galpil, Gert, Piet en Bennie sit net agter die meisies. Apie hardloop tussen die rye af na sy maats toe.
“Ons het geweet jy gaan kom,” sê Anna vir Saartjie. “Ons het vir jou plek gehou.”
Saartjie is in haar skik. Sy is weer by haar maats. Hulle staar vol verwagting na die arena. Die sirkus kan nou maar begin …
Skielik hou die orkes op speel en daar is ’n doodse stilte in die tent. Lynnekom se kinders hou asem op. Wat gaan hulle eerste sien?
Daar is ’n harde gekletter van simbale. ’n Pragtige wit Arabiese hings kom by die arena in. Daar is ’n gordel om die perd se buik. Marzyna, die wêreld se liefling, hou daaraan vas en swaai om en om deur die lug terwyl hy al vinniger in die rondte hardloop. Dit is asemrowend. Die pragtige meisie het ’n kostuum aan waarop goed wat vir Saartjie soos juwele van allerhande groottes en kleure lyk, skitter. Die simbale kletter harder en harder en Marzyna swaai vinniger en vinniger.
Ná ’n laaste gekletter is die simbale eensklaps stil. Die wit perd draf stadiger en slaan oor in ’n trotse trippelpassie. Marzyna swaai haar met ’n grasieuse beweging tot op sy rug. Sy staan regop en waai glimlaggend soentjies vir die toeskouers wat haar meesterlike vertoning van ruiterskap toejuig.
Saartjie sit gespanne. Om en óm beweeg sy saam met die pragtige Marzyna wat nou allerhande waaghalsige toertjies op die hings se rug uithaal. Sy kry dit reg om selfs die moeilkste dinge maklik te laat lyk.
“Ongelooflik,” mymer Saartjie.
Marzyna maak ’n buiging en verdwyn so grasieus soos wat sy verskyn het. Die sirkusbaas met die welige snor verskyn skielik in die kollig. Hy het weer die swart keil op sy kop en dra nes die dag van die optog deur die strate ’n swart manel, wit rybroek en bruin kamaste. Hy klap met ’n lang sweep en hier kom die hansworse!
Tiekie, Bietjie en Kwartpens is drie dwerge en hulle haal die een mal frats na die ander uit. Die kinders kraai van die lag.
Kwartpens is nog korter as die ander twee en hy het ’n mombakkies met ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig. Hy probeer alles wat die ander doen na-aap. Hy strompel rond, val oor sy eie voete, staan op, stof hom weer netjies af en slaan dan weer neer. Kwartpens is gedurig in Tiekie en Bietjie se pad. Hy slaan bollemakiesie, koggel hulle uit, hardloop weg as hulle hom wil vang en swaai dan vinnig om en pootjie hulle. Hy lag nie as die twee plat voor hom lê nie – nee, hy kyk met daardie verbaasde uitdrukking op sy mombakkies na die laggende toeskouers en vra kastig uit die veld geslaan: “Wat’s so snaaks, hè?”
Die trane rol oor die kinders se wange soos hulle vir die hansworse se streke skater. Galpil sê kort-kort: “Pêrre, ek lag my dood!”
Kwartpens gooi die ander twee hansworse in ’n kruiwa en stoot hulle onder dawerende toejuiging by die arena uit. Die sirkusbaas se sweep klap hard en die leeuhok word ingestoot.
Die kinders is nou tjoepstil. Hulle staar met groot oë na die vier brullende leeus. Hul harte klop woes toe die leeutemmer by die hok ingaan.
Hy slaan ’n paar keer met sy sweep en die leeus drom brullend in die een hoek saam. Apie sit oopmond en kyk. Die leeus doen die een toertjie ná die ander.
Nadat hulle elkeen op ’n kassie gaan sit het, kondig die sirkusbaas oor die luidspreker aan dat die leeutemmer nou ’n toertjie gaan doen wat min mense nog gesien het. Hy gaan sy kop in een van die gediertes se bek steek!
Daar is ’n gezoem van stemme en ’n tinteling van afwagting.
Tydsaam haal die man sy pet van sy kop af en sit dit op die stoel neer. Dan klap hy met sy sweep en een groot leeu kom brullend na hom toe aangedraf.
Die koning van die diere maak sy kake wyd oop en die man buk vinnig en steek sy kop in die leeu se bek. Almal hou asem op. Saartjie voel duiselig. Anna en Lina hou styf aan haar arms vas. Muggie, wat die hele tyd gesit en kougom eet het, se kakebene is skielik stil.
“As die leeu sy bek nou toemaak, is dit verby met daai ou,” fluister Apie hees.
Maar dit gebeur nie. Die dapper man trek sy kop uit, die orkes speel hard en almal skree en juig. Die leeutemmer buig na links en regs, wys na homself en dan weer na die leeus. Die leeuhok word weer uitgestoot.
Dit gons in die sirkustent oor hierdie “verskriklike” ongelooflike ding wat almal nou net gesien het.
Die tyd vlieg soos ’n droom verby. Die kinders sien pragtige, trippelende ponies, drie akrobate met verstommende toertjies op sweefstokke hoog bo teen die dak, ’n goëlaar in Oosterse klere wat lyk soos ’n wese van ’n ander wêreld en ’n man wat ’n swaard insluk. Dit laat Galpil onwillekeurig tot almal se groot vermaak uitroep: “Ek glo dit nie, pêrre, dis kroekery …”
Uiteindelik stap Lynnekom se kinders traag uit by die groot tent met sy fantasiewêreld wat almal so betower. Hulle gaan nog vir dae aaneen praat oor die sirkus en al sy “wonderlike goete” soos Apie dit noem. Party sal selfs probeer om van die toertjies wat hulle gesien het na te aap. Dan sal die herinneringe geleidelik vervaag totdat die towerwoorde weer eendag deur die strate weerklink: “Die sirkus is hier!”
Saartjie probeer uitpluis wat vir haar die wonderlikste was. Ná ’n lang gewik en -weeg besluit sy Marzyna op die wit perd was tóg haar gunsteling.
“Daardie pragtige bewegings van haar!” sê sy in ekstase. “En sy was niks bang nie. O, ek wens ek kan eendag soos sy wees!”
Anna het ook die meeste van Marzyna gehou, maar sy kan darem nie daardie slim ponies vergeet nie. Dit was vir haar tog te mooi om te sien hoe hulle netjies in gelid draf en dan op die klap van die sweep skielik van rigting verander.
“Ek was mal oor die akrobate,” sê Lina toe Saartjie en Anna haar vra. “Ek dink nie ek het een keer asem gehaal terwyl