Saartjie Omnibus 2. Bettie Naudé
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 2 - Bettie Naudé страница 17
Die seuns wat net agter die meisies loop, begin nou ook saam gesels. Die drie groter ouens, Galpil, Gert en Piet, was die meeste beïndruk met die “perd” wat die swaard ingesluk het.
“Ek sou dit nie geglo het as ek dit nie met my eie oë gesien het nie,” sê Galpil kopskuddend, “maar noudat ek dit met my eie oë gesien het, glo ek dit nog steeds nie!”
Apie en Bennie hoef nie twee keer te wonder watter item hul asems die meeste weggeslaan het nie – die leeutemmer en sy leeus was beslis hul gunsteling.
“Haai, Apie,” sê Saartjie skielik. “Ek dink nou net aan iets.”
“Waaraan?” vra haar boetie en kyk haar agterdogtig aan.
“Ons het mos nog elkeen van die geld wat Pappa vir ons gegee het oor, nè?”
Apie knik huiwerig kop. Sy oë is op skrefies en die punt van sy tong speel deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.
“Nou luister,” sê Saartjie saaklik, “ons sou nie vanmiddag sirkus toe kon kom as Mamma aanhou nee sê het nie. Ek dink ons moet vir haar van daai spesiale lekkers koop waarvan sy so baie hou.”
Apie dink ernstig hieroor na. Hy was van plan om vir homself lekkers te koop met sy oorskietgeld. Maar dan dink hy verder … Sy ma is nooit snoep met haar spesiale lekkers nie. Sy gee altyd vir hulle daarvan.
“Wat sê jy?” vra Saartjie.
“Ma is die beste ma in die wêreld – en dis ons skuld dat haar perskes nie eerste prys gewen het nie. So ek dink dis ’n goeie idee om vir haar van daai lekkers te koop,” sê Apie.
Hy is heel in sy skik met hierdie reëling. Sy ma sal bly wees oor die geskenk en sy sal vir hulle ook van die lekkers gee. En al is al sy geld op, het sy maat Bennie mos nog oor! Bennie sal dit maar net met hom moet deel. So hy wat Apie is, kry nóú lekkers – en netnou by die huis weer!
Hulle koop die lekkers en alles verloop volgens plan. Hul ma is in haar noppies oor die geskenk en begin dadelik daarvan uitdeel, min wetende dat haar jongste se sakke nog bol staan van die lekkers wat Bennie aan hom moes afstaan.
Die sirkus is verby, maar Saartjie dink nog baie aan die pragtige Marzyna op haar wit hings. Sy klim selfs een of twee keer op ’n stoel in haar kamer en probeer buiginkies maak en soene waai vir die skare wat haar so toejuig! In haar gedagtes voer sy allerhande gevaarlike toertjies op die wit perd se rug uit.
Dit is ongelukkig nie baie suksesvol nie. Selfs Saartjie se geweldige verbeeldingskrag is nie genoeg om die stoel in ’n trippelende Arabiese hings om te tower nie.
Die sirkus en Marzyna, die wêreld se liefling, verdwyn egter stadigaan uit Saartjie se gedagtes. Haar aandag is nou weer by haar skoolwerk.
Een oggend sit sy in die klas en skryf ’n opstel. Almal is druk besig. Hulle moet ’n spanningsverhaal skryf. Die leerders hou van hierdie onderwerp en die klas is tjoepstil.
Saartjie lees die gedeelte wat sy klaar geskryf het weer deur. Sy voel haar opstel is goed, maar as sy nog ’n paar lyke daarin kan kry, sal dit nóg beter wees. Sy het een keer gelees hoe meer slagoffers daar in ’n moordstorie is, hoe meer geslaagd is die verhaal.
Vyf moorde klink vir haar beter as drie. Sy moet nou vinnig nog twee karakters van die gras af maak, dan sal haar opstel perfek wees. Vyf moorde in twee bladsye! Sy behoort goeie punte te kry.
Saartjie begin weer skryf. Anna sit langs haar en agter hulle sit Lina. Langs Lina sit nóg ’n meisie van Lynnekom, Matilda Neilson.
In die ry langs Saartjie-hulle sit Galpil en Gert, en net agter hulle Piet en ’n koddige ou wat in die koshuis bly, Hannes Van Wyk.
Almal beskou Hannes as ’n kenner op die gebied van skole, want hy het al in elke provinsie skool gegaan. Die Drie Muskiete hou nogal van hom, want ten spyte van al sy ondervinding is hy altyd in die moeilikheid by die onderwysers.
Saartjie glimlag toe sy opkyk en haar kop effens draai. Hannes is al lankal klaar met sy opstel. Hy sit en speel nou met ’n lang glaspypie. Dit is ’n ideale ertjieskieter. Voor hom op die bank lê sy ammunisie – ’n klomp harde, uitgedroogde bessies.
Saartjie glimlag toe sy sien hoe Hannes sorgvuldig rondkyk. Hy soek duidelik na moontlike slagoffers.
Net toe Hannes ’n bessie optel om in sy mond te sit, staan die onderwyser op en begin tussen die banke rondstap om te kyk hoe die kinders vorder.
“Hoe lyk dit, Saartjie?” sê hy vriendelik toe hy langs haar staan. “Amper klaar?”
“So te sê, Meneer.” Sy kyk op na haar gunsteling-onderwyser, Theo Stegmann. Sy weet nie hoekom nie, maar as hy met haar praat, bloos sy altyd.
Hy draai om en kyk na die ander ry en sy oë val op die ertjieskieter en ammunisie op Hannes se bank.
“Is jy klaar, Hannes?” vra hy.
“Ja, Meneer, lankal!”
“Nou haal jou voorgeskrewe boek uit en lees tot die ander ook klaar is,” sê die onderwyser. “En ek sal jou aanraai om van daardie ding ontslae te raak.” Hy wys na die ertjieskieter.
“Reg, Meneer,” sê Hannes met ’n effense sug.
“Ek weet natuurlik jy sal nooit droom om dit hier in die klas te gebruik nie,” gaan Theo Stegmann glimlaggend aan, “maar netnou word die versoeking te groot. Gee dit liewer weg.”
Die onderwyser stap verder. Hannes besluit dit is goeie raad wat Ou Theo hom gee. Netnou gebruik hy die dekselse ding en dan word hy gevang en is weer in die moeilikheid.
Die seun kyk rond om te sien vir wie hy die blaaspypie sal gee. Dit moet iemand wees wat glad nie in die versoeking sal kom om dit hier in die skool te gebruik nie.
Hy kyk na Saartjie. Sy is een van die mooiste en talentvolste meisies in die skool. Haar pa is ’n dokter en sy speel klavier en wen medaljes. Sy is ’n goedgemanierde jong dametjie. Iets soos ’n ertjieskieter sal haar mos nie in die versoeking lei nie.
Só redeneer Hannes. Dit wys net hoe min hy van Saartjie Baumann af weet.
Hy leun oor na haar en sê: “Dè, Saartjie.”
Sy vat die ertjieskieter vinnig by hom. Sy wil dit nogal graag hê.
“Gee vir my die ammunisie ook,” fluister sy en wys na die bessies.
Hannes kyk agterdogtig na haar. Hy twyfel nou sterk of hy die regte ding gedoen het. Sal ’n gevaarlike wapen soos hierdie ertjieskieter veilig by hierdie meisiekind wees? O, wel, dink hy, solank hy net nie een van die slagoffers is nie. Hy gee vir haar die ammunisie.
“Dankie,” sê Saartjie en glimlag vriendelik. Hannes sug. Hy was al in skole regoor die land, maar hy het nog nooit só ’n mooi meisie gesien nie. As sy so vriendelik vir hom glimlag, kan sy hom gerus maar met ’n bessie agter die oor klits – dit sal nie saak maak nie. Hy sal dit sowaar nie voel nie.