Saartjie Omnibus 2. Bettie Naudé
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 2 - Bettie Naudé страница 6
Saartjie moet alleen aansukkel. Dis egter nie lank nie, of die Drie Muskiete begin klets. Hulle loop oor van opgewondheid oor die musiekfees.
Die hele Lynnekom gaan daar wees om te sien hoe Saartjie die goue medalje wen!
Wanneer Anna en Lina uiteindelik huis toe gaan, sit Saartjie lank alleen in haar kamer met die strafwerk en spook. Sy het drie probleme voltooi en sy is seker hulle is reg, maar daar is twee wat sy glad nie kan doen nie.
Sy staar moedeloos voor haar uit. Ou Grompot gaan haar lewendig afslag as sy die werk nie môre vir hom inhandig nie. En vanaand is die musiekfees! Sê nou sy kom glad nie eens onder die eerste drie nie en sy stel almal wat so baie van haar verwag teleur?
Dit sal beter wees as sy van die wêreld se probleme af kan wegkom. Dalk moet sy ’n non word. Sy sal stil lewe en een keer ’n maand ’n paar oomblikke afknyp sodat haar gesinslede haar kan kom besoek.
Sy sien al die trane in haar ma se oë wanneer sy sê: “My kind, ons mis jou so verskriklik …”
Dan sal sy wat Saartjie is, sê: “Ek weet, Mamma, maar hier is nie dinge soos musiekfeeste en Grompotte nie.” En dan sal sy haar leliewit hande na Apie toe uitreik en sag sê: “My dierbare boetie, ek vergewe jou vir al die stryery en onaangenaamhede …”
Apie sal swaar sluk en skoon vergeet om met die punt van sy tong in die opening waar sy tande moes gewees het, te speel. Sy oë sal nes hul ma s’n blink van die trane wanneer hy sê: “Dankie, my liefste sussie, dankie.”
Dan sal sy hulle vra om te gaan sodat sy terug na haar sel kan keer om daar te sit en peins oor die verhewe dinge van die lewe … nie oor dinge soos skool en somme en Ou Grompot nie. Miskien sal sy darem aan Ou Theo dink, want sy is seker hy sal wonder oor haar wat so op haar eentjie in ’n klooster opgesluit sit en dit betreur dat sy gunsteling, die biljante en begaafde Saartjie Baumann, nie meer in sy klas is nie.
’n Harde klop aan die deur ruk haar terug na die werklikheid.
“Ja?” sê sy en kyk weer fronsend na die strafwerk.
Kris kom by haar kamer in.
“Ek het gedink ek gaan jou heel middag hoor oefen,” sê hy. “Maar Ma sê jy moet strafwerk vir Ou Grompot doen.”
“Ja,” sug Saartjie en dan voeg sy by: “Hoe sal jy daarvan hou as jou enigste sussie ’n non in ’n klooster word?”
Sy staar pateties voor haar uit, lig haar hande op en loer vlugtig na hulle. Nee, hulle is glad nie leliewit en deurskynend nie: net vol ink. Sy laat sak hulle weer.
“Moenie soos ’n siek hoender daar sit nie,” sê Kris laggend. “Kom ek help jou gou. Algebra was mos my sterk vak. Jy moes net vir Ou Grompot gesê het jy’s my suster, dan sou hy nie so kwaai gewees het nie. Ek was laas jaar sy beste leerder. Hy het altyd gesê ek is die enigste matriek-ou wat darem so iets van algebra af weet.”
Kris steur hom gewoonlik nie juis aan Saartjie en Apie nie. Hy is mos al te groot – negentien – en op universiteit. Hy het ook al lankal ’n meisie.
Maar vandag kry hy Saartjie jammer en hy help haar vinnig. Hy verduidelik die twee somme vir haar en sy snap dit maklik.
“Dankie, Kris,” sê sy. “Jy’s ’n baie beter onderwyser as Ou Grompot …”
“Ek en Isabel sal vanaand daar wees en ons gaan vir jou duim vashou,” sê Kris toe hy uitstap.
Isabel Theron is Kris se meisie. Die twee was die vorige jaar saam in matriek.
Mevrou Baumann spreek aan tafel die mening uit dat dit miskien maar goed was dat Saartjie die strafwerk gekry het, want anders sou sy die hele middag rondgedwaal en haar oor die musiekfees bekommer het.
Saartjie het ’n pragtige Sondagrok aan. Sy praat nie veel in die motor nie. Haar pa en ma is ook stil. Hulle is net so gespanne soos sy. Apie is die enigste een wat aanhoudend gesels.
“Ou Bennie is my pel en hy wou my gekroek het!”
“Jou wát wou jou gewát het, Abraham?” vra sy ma. Sy noem Apie altyd Abraham wanneer sy hom berispe.
“Ag, ek bedoel my maat, Ma. Hy wou my inloop. Hy wou my laat betaal vir een van sy duiwe, maar toe sien ek die outjie lê so eenkant en toe sê ek ek wil hom eers deurkyk en toe sien ek hy’s siek en al halfdood! Ou Bennie wou my gekroe- … gekul het.” Apie skud sy kop hartseer en sê: “Mens kan deesdae niemand meer vertrou nie.”
Dan is dit weer stil in die motor.
Die stadsaal is van hoek tot kant gepak. Saartjie-hulle sit heel voor. Lynnekom se mense het seker gemaak hulle kry die voorste rye.
Saartjie sit by Anna en Lina. Langs hulle sit Apie en Bennie. Die twee is nou weer kliphard aan die baklei oor die siek duif. Bennie hou vol hy het nie geweet die duif is siek nie. Apie glo hom nie. Hy vertel sissend vir Bennie van al die “goete” wat hy al vir hóm gedoen het. Hy wil ook weet of Bennie nie skaam is dat hy sy beste vriend probeer inloop het nie.
Net agter die Drie Muskiete sit Galpil, Gert en Piet. Die ouens gesels kliphard. Saartjie glimlag floutjies toe sy hoor hoe Galpil vir al die “pêrre” in die omgewing vertel wat ’n groot eer dit vir hulle is om so naby iemand te sit wat die eerste prys gaan wen.
Anna en Lina se ouers sit by dokter en mevrou Baumann. Muggie sit langs haar ma. Sy waai vir haar heldin en skree skril: “Jy moet wen, hoor Saartjie!”
Die meisie glimlag maar net.
Anna mompel dat haar ouers vergeefs probeer het om Muggie tuis in hul huishulp se sorg te laat. By die geringste gepraat in daardie rigting het die kleintjie só ’n keel opgesit dat niemand dit kon verduur nie. Muggie glo vas Saartjie sal net wen as sy ook in die saal is. As Saartjie haar daar sien, gaan sy só bly wees dat sy sommer baie beter sal speel en die “medallie” sal wen! Op die ou end moes die Strydoms Muggie toe maar saambring.
Saartjie kyk rond. ’n Entjie van haar af sien sy vir Kris en Isabel. Hulle glimlag albei vriendelik vir haar. Sy probeer terug glimlag, maar dit is nie maklik nie. Sy voel maar skrikkerig.
In die ry agter Kris en Isabel sien sy meneer Stegmann en sy pragtige vrou. Hy het vanaand ’n oopslaanhemp en moderne baadjie aan en hy lyk vir Saartjie net soos haar gunstelingfilmster.
Sy sien hoe Anna ook na die onderwyser kyk.
“Wat’s dit met jou?” vra Saartjie. “Vir wie kyk jy so?”
“Vir hóm, wie anders?”
“Jy lyk soos ’n gapende vis,” sê Saartjie vies. “Maak toe jou mond!”
Anna bloos bloedrooi.
“Onthou, ek het hom eerste gesien,” sê Saartjie. “Jy was besig om met Lina te gesels toe hy die eerste dag by die klas inkom. Toe het ek jou op die skouer getik en gevra of jy ook sien wat ek sien. Jy het omgedraai en hom tóé eers gesien – nadat ek hom lankal gesien het.”
“Ek weet, Saartjie, ek weet,” sê Anna. “Jy het hom eerste gesien.”