Op die spoor van hoop. Jacqueline Leuvennink

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Op die spoor van hoop - Jacqueline Leuvennink страница 6

Op die spoor van hoop - Jacqueline Leuvennink

Скачать книгу

se werk geniet internasionale erkenning. Onverwagse besoekers van oraloor is deel van hul bestaan; iets wat Esra, soos haar ma voor haar, met grasie en geduld hanteer.

      Hy het waardering vir mense wat die moeilike pad trotseer om sy potte en skilderye te kom haal, sê hy. “Hulle moet dit net ge­niet – ek het alles wat ek het, daarin gesit.”

      Om dit te kan doen, moes hy sekere goed systap. ’n Mens kry hom nie by die opening van ’n kunsuitstalling nie. “Jy sien net mense met glasies raak, geen skilderye nie,” verduidelik hy ondeund.

      Hy bak nog self brood, plant groente vir sy vegetariese disse, luis­ter musiek vir medisyne – “Mozart, Bach en daai manne. Hoe ouer ek word, hoe eenvoudiger leef ek. En hoe eenvoudiger word my werk.”

      Sy oë lag as hy ’n gesegde aanhaal wat uitdruk hoe hy oor die lewe voel: “Die maatstaf vir ’n suksesvolle lewe is om jonk te sterf … op ’n baie gevorderde ouderdom!”

      Agterna bly dink ek aan hom, nou self soos ’n kosbare porseleinfles. Een wat byna deurskynend in die sagte lig gloei.

      Esias is vier jaar later oorlede. Hy het nog tot ses weke voor sy dood op 87 geskilder.

      In die jaar daarop is Melissa Bosch, die middelste van sy vyf klein kinders wat soos kinders uit een gesin grootgeword het, getroud met haar jeugliefde, Anton du Plessis. Die eerste van die klompie wat tot trou gekom het.

      Dit was vir almal vreemd dat Esias, die spilpunt waarom alles in hul familielewe gedraai het, nie daar was om in al die voorbereidings en die uiteindelike feestelikheid te deel nie.

      Hulle het oudergewoonte nie vir ’n oomblik daaraan gedink om te begin rondsoek vir huweliksbeplanners of ’n ander plek as die huis waar Melissa se ouers, Anton en Hanlie, al die afgelope dertig jaar saam werk en skep nie. “Met Oupa in die rondte was dit altyd ’n geval van: Doen dit self. Maak dit met die hand. En doen dit tuis. Ons wou nie hierdie tradisie verbreek nie,” sê Melissa.

      Esias, altyd lief om die waarde van goeie kos by sy kleinkinders in te prent, sou gehou het van die vars-van-die–melkery-troue met handevol kruie uit hul eie tuin. Volgens Hanlie was byna alles wat later in groot Bosch-keramiekskottels bedien is organies en van die omliggende plase. “Tot die varke wat geslag is, het op ’n papaja-dieet grootgeword!”

      Anton het ’n halfuur voor die seremonie op ’n stoel in hul slaapkamer gaan sit, nou alleen met sy gedagtes. “Ek het my oë toegemaak. Daar het ’n ongelooflike gevoel van rustigheid en dankbaarheid oor my gekom. Iets wat net sterker geword het toe ek Melissa hoor aankom het. Dit was met hierdie kalmte en ’n intense gewaarwording van liefde dat ek saam met my dogter op die paadjie vol roosblare in die tuin na ons tuisgemaakte kerkie uitgestap het.”

      Tydens die diens het dit ligweg begin stuif. En toe, net voor die paar hul beloftes aflê, gly die son weer agter die wolke uit. Om in ’n oogwink ’n tempel van gouerige, geel lig rondom hulle te bou, een sonder dak of vensters. Vir almal wat die verhouding uit sy kinderskoene sien bot en blom het, ’n klein genade-oomblik.

      Esias sou goedkeurend geglimlag het. Nog ’n Bosch-droom het waar geword.

      2009

      So ook op die aarde

      Dit is ’n herfsoggend in New York. Moeg van die malende menigtes om my besluit ek op die ingewing van die oom­blik om die kalmte van ’n kerk op te soek. Binne trefafstand van die weelderige Donald Trump-gebou hurk ’n koulike hopie straatmense onder komberse by die kerk se ingang. Hulle sit kop on­derstebo, rûe gekeer na die haastige verbygangers op die sypaadjie.

      Pas in die skemerdonkerte van die kerk, breek ’n woedende bran­der dissonante klanke uit die orrelgalery oor my kop. Vir ’n oom­blik wil ek padgee, maar bly dan tog staan. Gelukkig ook. Want hoe langer ek luister, hoe meer begin ek begryp. Dié musiek weer­kaats bloot die kompleksiteit van hierdie wêreldstad met sy mil­joene uiteenlopende mense wat heeltyd teen mekaar skaaf en skuur. Trouens, dit is asof die ongewone mengelmoes klanke skielik in so ’n mate sin maak dat dit my onverwags ontroer.

      Terug by die huis gebeur iets wat my weer hieraan laat dink. Suid-Afrikaanse kunsfliekgangers stroom na teaters om na As it is in Heaven te gaan kyk. Aan die einde van ’n vertoning klap gehore spontaan hande. Weke daarna preek predikante nog oor die verhaal van ’n beroemde Sweedse dirigent wat, dodelik siek, terugkeer na die dorpie waar hy grootgeword het.

      Teensinnig neem hy die afrigting van die dorpskoortjie oor en ontsluit in die proses verborge talente. Die koorlede – gekweste mense soos die dirigent self – ontdek elkeen weer ’n eie, unieke stem en ’n gevoel van eiewaarde. Daarby begin die musiek om hulle aan mekaar vas te speld. Slykerige, visdammetjie-enkelinge raak nou dapper medestryders in ’n see van harmonieë. En die gety begin alles skoon spoel.

      Die dirigent lei hulle om elkeen ’n eie noot te vind. Iets wat daartoe lei dat, toe hulle dit saam begin doen, die individuele note in ’n wolk van klank verander wat almal verbyster.

      Die kleindorpse koor gaan neem later deel aan ’n groot kompetisie en raak die gehoor aan met hul boodskap dat elke mens ’n bydrae tot die groot akkoord van die heelal kan lewer. Dit word ’n lewende bewys van wat die trompetspeler Louis Armstrong by ge­leentheid gesê het: “’n Noot is ’n noot in enige taal. En as jy die noot kry – pragtig!”

      Aan die einde van dieselfde jaar neem ’n vriendin een Sondag­oggend haar bejaarde pa saam kerk toe. Die Tygerberg Kinderkoor sluit hul reünie-naweek af met ’n optrede deur ’n massakoor; die groot kerk is stampvol. Christa se pa, ’n suksesvolle sakeman wat deur ’n beroerte verlam is, sit in sy rolstoel en luister.

      Dit is uit die staanspoor ’n aangrypende diens. Die “Ons Va­der” word met treffende handgebare uitgevoer. Koorlede steek kerse aan vir die 17 oudkoorlede wat in die 35 jaar van die koor se be­staan oorlede is. Die laaste persoon se naam wat uitgelees word, is die vermoorde Inge Lotz s’n.

      Aan die einde van die diens sing Minette du Toit-Pierce die hart­roerende “Gabriella’s Song” uit As it is in Heaven. En, soos in die rolprent, nooi dirigent Hennie Loock die gemeente om elkeen met ’n eie noot aan te sluit, ’n katedraal met klank te bou. Die musiek swel geleidelik, voller en voller, tot in ’n reuse-Hosanna – met elk­een se eie skerfie klank, drome en sugte wat deel word van die grootse akkoord wat hemelwaarts klim. Wêrelde vloei inmekaar, koor en gehoor nou saamgesmelt in een verruklike see van klank. Almal jubel dit uit vir ’n gehoor van Een.

      En in hierdie kortstondige blik op volmaaktheid sing die man in die rolstoel wat sy spraak sedert die beroerte kwyt is, tot sy verstomde familie se verbasing ’n helder, suiwer noot. Vir ’n klein, genadige rukkie op aarde soos in die hemel: nuut, heel én déél.

      2008

      Sout in die are

      “Ons leef van die see. En ons leef op hoop,” sê ’n visserman van Lambertsbaai nou een oggend oor die radio. Sy stem is skor van jare se skree bo baie branders uit. Uit my Weskus-kinderdae weet ek sommer hoe lyk sy hande – eelterig van nettrek, die vingernaels geskeur van robslaan, kreefvang, masbankerkrap en snoekvlek.

      Die manier waarop hy sy r’e skraap, ryg skielik die herinne­ringe soos ’n rytjie bokkoms voor my in. Die skielike toeslaan van ’n misbank; die diep, veraf brul van die mishoring; berigte van skepe wat in die moeilikheid raak as die “noord” (noordewind) hulle vastrap. Vissers en skuite wat skommel tussen skeptyd se volop en droëbek omdraai,

Скачать книгу