Weerkaatsings - 'n sprokie. Eleanor Baker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Weerkaatsings - 'n sprokie - Eleanor Baker страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Weerkaatsings - 'n sprokie - Eleanor Baker

Скачать книгу

halfdosyn kere deur die telefoongids geblaai en stilgestaan by Charles Ashton se nommer. Eenkeer het sy selfs begin skakel en toe weer opgehou en die gehoorstuk neergesit. Waarom weet sy nie. Miskien omdat sy ’n sekere determinasie in sy oë gelees het. As sy nie vanaand gaan nie, sal hy haar volgende week uitneem. Dan maar liewer vanaand dat dit verby is. En bowendien: hoeveel meisies kanselleer afsprake met hom omdat hulle sleg geslaap het? Dis verspot om die minste te sê. Dis die soort rede wat sy ma sal gee, of sy ouma, as sy nog leef.

      Sonder dat sy dit so beplan, raak sy tog aan die slaap, en toe sy vyfuur wakker skrik, voel sy wel effens sterker. Sy drink weer al die pille wat die uur voorskryf en trek toe haastig aan, maar toe sy na die voltooide produk in die lang spieël kyk, dreig die trane om te loop. Eenkeer, lank gelede, het sy met grimering probeer regkry wat die siekte van haar weggeneem het, maar sedertdien het sy geleer dat dit niks help nie. Dit laat haar net lyk na ’n winkelpop wat deur ’n oorywerige kunstenaar en ’n palet beetgekry is.

      Toe Charles Ashton sesuur aan haar deur lui, skrik hy toe hy haar sien. Die hele dag al loop hy op en af deur sy huis en tuin en wonder waarom hy die meisie uitgevra het, en noudat hy voor haar staan, ken hy die antwoord nog steeds nie. Dis nie asof sy hulpeloos is nie. Die teenoorgestelde is eerder waar. Sy staan trots voor hom, byna uitdagend, asof sy hom uitlok om te skrik, om weg te draai en te loop. En hoe kan ’n mens skrik vir iets so breekbaar?

      “Ek is reg,” sê sy en tel haar reënjas op.

      Hulle loop woordeloos na die hysbak, staan langs mekaar met hul oë op die stuk glas waardeur ’n mens die verbyskietende verdieping kan sien en stap dankbaar uit na die motor. Ook in die motor praat hulle nie veel nie. Hy help haar met die sitplekgordel en konsentreer verder op die verkeer. Sy kyk by haar venster uit en is baie bly toe hy die radio aanskakel en hulle na die nuus kan luister. Dit gee hulle ten minste iets om oor te praat.

      Die plek waarheen hy haar neem, is inderdaad baie mooi. Net buitekant die stad lê dit onder groot kastanjebome weggekruip en lyk na ’n boerdery wat omgeskep is in ’n restaurant. Die vriendelike egpaar wat hulle by die deur ontvang en innooi, versterk die indruk, en die eetkamer het ’n lae, berookte plafon en ongelyke geplaveide vloer.

      “Dit was eens op ’n tyd die kombuis,” vertel Charles. “Kyk die pragtige ou vuurherd. Is die teëls nie mooi nie?”

      “Fraai,” stem sy saam en gaan dankbaar sit. Die plek is verlate. Daar is nie eens ’n kind wat sy aandete sit en eet voor die son ondergaan nie. “Is u seker dis nie te vroeg vir hulle nie?” vra sy gedemp.

      “My naam is Charles,” sê hy gelykmatig. “En nee, dis nie te vroeg nie. Hulle sou ons weggejaag het as dit te vroeg was.”

      Die man, vermoedelik die eienaar, bring die wynlys vir Charles en hy kyk vraend na haar. “Wat sal jy drink? ’n Sjerrie, iets sterkers of miskien net ’n glas wyn?”

      “Nee, nee,” sê sy haastig. “Geen alkohol nie. Tamatiesap sal lekker wees.”

      Hy kyk haar ’n oomblik nadenkend aan en plaas toe hulle bestelling. Toe die man weg is en net die knetterende vuur hul ruimte deel, praat hy weer. “Jy mag nie alkohol inkry nie.” Dis nie ’n vraag nie, hy konstateer ’n feit.

      “Nee,” sê sy en voel hulpeloos toe haar oë vol trane raak. “Ek weet nie wat sal gebeur nie. Ek wil ook nie uitvind nie.”

      Hy sien die trane en voel iets wat hy nog nooit in sy lewe gevoel het nie. “Dit maak nie saak nie,” sê hy stil. “Ek is bly jy het tog vanaand saam met my gekom.”

      Sy kalmte laat haar ook kalmeer. Sy is hom dankbaar daarvoor en besluit om eerlik te wees. “Ek het byna nie gekom nie. Ek … wou jou bel.”

      “Waarom?”

      “Ek het baie min geslaap gisternag. Dit gebeur soms.”

      Hy bly stil terwyl die man hul glase voor hulle neersit en beduie toe dat hulle later eers sal bestel, daar is geen haas nie. Toe praat hy weer. “Wil jy my vertel?”

      “Nee,” sê sy angstig. “Nee. Ek wil nie daaroor praat nie. Asseblief.” Ek wil nie hê jy moet ook verdwyn soos die ander nie, is wat sy sou wou byvoeg. Want julle kan dit nie hanteer nie. Ek kan dan kwalik.

      “Dan laat ons dit,” sê hy vriendelik en begin haar uitvra oor Suid-Afrika. Voor sy weet hoe dit gebeur het, vertel sy hom van die land waar die son die meeste van die tyd skyn, van haar kinderdae eers op die platteland en toe later in die stad waar haar vader ingenieur was.

      “Leef jou ouers nog?” vra hy.

      Haar gesig verstyf. “Nee. Hulle is albei in ’n motorongeluk dood. So vier jaar gelede. Bietjie langer.”

      “Enige susters of broers?”

      “Nee. En jy?”

      “Nee.”

      “En jou ouers?”

      “Leef ook nie meer nie. Maar hulle is lankal dood. Hulle was middeljarig toe ek gebore is.”

      “Twee weeskinders,” sê sy en glimlag effens.

      Hy tel die spyskaarte op, elkeen die grootte van ’n koerant, en gee die een vir haar aan. “Wil jy solank kyk wat jy wil eet? Die kalfsvleis is heerlik. Ek kan dit aanbeveel.”

      “Was jy al dikwels hier?” vra sy en lees die spyskaart sonder om in te neem wat daar staan.

      “’n Paar keer. Ek bring graag sakemense hierheen. Dis so rustig.”

      Sy kyk om haar rond. Hulle is steeds die enigste mense daar, maar alhoewel die vertrek relatief groot is, is dit tog intiem. Miskien die lae plafon en houtvuur wat dit so laat voel. “Wat doen jy?” vra sy. “Watse werk, bedoel ek.”

      Hy glimlag effens. “Dis moeilik om in een woord te sê. Ek is ’n sakeman.”

      “O, ek sien. Vir wie werk jy? Watter firma?” Dan kry sy skaam omdat sy so uitvra. Hy is nie Gerrie nie. “Jammer, dit klink baie nuuskierig.”

      “Ek werk vir my eie firma,” sê hy. “My oupa het daarmee begin, en ek het in my vader se voetstappe gevolg.”

      Sy begin ontspan in die gemoedelike atmosfeer en dit maak haar vrymoedig. “Jy lyk meer na iets soos … iets soos ’n advokaat.”

      Hy lig sy een wenkbrou. “Vreemd dat jy dit sê. Dis wat ek studeer het. Regte. Dis wat ek sou wou gedoen het as dinge anders was. En my vader het my toegelaat om dit uit my sisteem te kry. Daarna moes ek ekonomie bestudeer.”

      “En?” vra sy. “Is jy gelukkig?”

      Hy kyk na haar met ’n blik wat sy nie kan peil nie. “Ek dink ek was suksesvol genoeg.”

      Ja, sy onthou dat Ester gesê het hy is suksesvol. Dis seker genoeg. As hy so sê.

      Hulle bestel hul kos en sy laat haar deur hom lei. Die kos is inderdaad so heerlik as wat hy belowe het, en sy kan ontspan want niks is te ryk of vreemd nie, en die eienaar het haar belowe dat hy geen versteekte lepels brandewyn in enigiets gegooi het nie. Net voor hulle hul hoofgereg klaar geëet het, verskyn ’n klein seuntjie in die deur, en na hy ’n lang ruk net na hulle gestaan en staar het, kom hy nader tot hy langs Lize staan. Hy is omtrent ses jaar oud of miskien jonger, en hy staan

Скачать книгу