Weerkaatsings - 'n sprokie. Eleanor Baker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Weerkaatsings - 'n sprokie - Eleanor Baker страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Weerkaatsings - 'n sprokie - Eleanor Baker

Скачать книгу

nie belangrik nie.”

      Nee, dink sy, maar dis ook nie ’n besonder goeie manier om die aand te begin nie. “Ek is jammer,” sê sy dus weer. “Kan ek dalk vir jou iets gee om te drink? Ek dink hier staan nog iewers ’n bottel whisky of so iets. Gerrie het dit gebring en hier vergeet.”

      “Ja, dankie,” verras hy haar.

      Sy loop na die kombuisie en terwyl sy ’n glas uithaal en ys uit die bakkie skud, kyk sy ongemerk na hom oor die toonbank wat hulle skei. Hy staan skuins gedraai deur die venster en uitkyk, en sy besef weer eens hoe sterk sy gesig is. Al lyk hy moeg. En dit laat haar glimlag. Wat ’n paar is ons nie! Die invalide en die moeë sfinks wat haar wil oppas.

      “Ek hoop dis nie te sterk of te flou nie,” sê sy toe sy die glas vir hom gee. “Ek het nie die vaagste benul hoe om dit te skink nie.”

      Hulle sit oorkant mekaar, en om te vergoed vir haar suur houding van vroeër, vra sy gemaak opgewek: “Waarheen gaan ons?”

      “Ek het nie bespreek nie. Ek het gedink ek hoor by jou waarvoor jy lus is.”

      Sy dink ’n rukkie. “’n Hamburger.”

      Hy staar na haar. “’n Wát?”

      “Hamburger. Dis twee broodjies met ’n stuk vleis tussenin. En ek ken ’n plek wat dit baie lekker maak met ’n spesiale sous en allerhande ander dinge by. Heerlik. En dan ken ek ’n ander plek wat die lekkerste roomyse maak. Hoë torings met sjokolade bo-oor.”

      Hy het sy glas neergesit. “Is dit regtig waarvoor jy lus is?”

      “Ja.” Maar in werklikheid wil sy in die bed klim en huil. Sy het net nie die moed om dit te sê nie.

      “Waar is die plek waar mens dit koop?”

      “O, sommer op straat,” antwoord sy ligweg. “Jy kan sit op die terras of jy kan dit so in die stap opeet. Veral die roomys.”

      Hy lyk oorbluf, en toe hulle eers by die plek aankom en oorkant mekaar sit op ongemaklike ysterstoeltjies met ’n kartonbakkie voor elk, weet sy dat dit die verkeerde ding was. Hy staar met soveel misnoeë na sy hamburger dat sy nie eens daaroor kan lag nie.

      “Hou jy nie daarvan nie?” probeer sy spot.

      “Ek weet nie. Kry ’n mens nie ’n mes en vurk hierby nie?”

      “Nee. Jy vat dit vas dat niks uitgly nie en jy hap. Het jy nog nooit vantevore een geëet nie?”

      “Nie sedert ek op kosskool was nie.”

      Sy byt ’n hap uit hare en dit smaak na saagsels, maar sy weet ook dat dit geen maatstaf is nie; alles smaak vir haar na saagsels. “Dis lekker,” sê sy onoortuigend.

      Hy eet syne ook en alhoewel hy kennelik dink dis barbaars, lyk dit tog asof hy dit geniet. “Ja,” sê hy toe hy sy hande en mond deeglik aan die verpotte papierservetjie afgevee het, “dit was nie sleg nie. Kry mens die roomys ook hier?”

      “Nee,” sê sy en sluk aan die trane. “Dis hier oorkant die plein. En jy kan nie sit nie, dis net ’n kraampie.”

      “Goed,” sê hy sugtend. “Kom ons loop soontoe.”

      Maar toe hulle elkeen met die verspotte horinkies in die hand staan, begin sy huil. Sy draai vinnig weg van hom, gooi die roomys in ’n oorvol asblik wat dreig om die roomys op die sypaadjie uit te kantel, en begin terugloop na die motor. Hy haal haar vinnig in – ook sonder sy roomys – en help haar in die motor.

      “Wat makeer?” vra hy.

      “Ek wil huis toe gaan,” sê sy wanhopig. “En jy moet huis toe gaan. Wat doen ons hier? Waarom wil jy my uitneem? Los my uit. Jy kan mos sien dit werk nie.”

      Hy antwoord haar nie op een van die vrae nie en neem haar reguit huis toe. Hy maak nie verskoning nie, en sy ook nie. Sy groet hom net en klim in die bed waar sy huil tot sy naar is en van die hamburger ontslae raak.

      Vir die volgende twee weke hoor sy nie van hom nie en alhoewel sy vaagweg droewig voel, voel sy oor die algemeen te sleg om lank daaroor te dink. Sy slaap stukkies in die dag of nag en as sy nie by die hospitaal is nie, lê sy in die bed of op die wit rusbank.

      “Wat het gebeur?” vra John vir haar. “Wat het van jou positiewe houding geword? Veral nou. Dit lyk asof ons gewen het, en in plaas daarvan dat jy sterker word, versleg jy nou.”

      “Ek kan nie meer nie,” sê sy vir hom deur geklemde kake. “Ek kan eenvoudig nie meer aangaan nie.”

      “Ek gaan vir jou iets gee om jou te laat slaap,” sê hy beslis.

      “Moenie, John,” smeek sy. “Ek kan nie sulke goed in die woonstel aanhou nie. Ek sal dit almal gelyktydig drink.”

      “Lize!” sê hy streng. “Ek ken jou nie so nie.”

      “Ek het nou eers agtergekom wat ek kan verloor,” probeer sy verduidelik. “Al hierdie jare het ek daarvan vergeet.”

      “Ek gaan jou laat opneem.”

      “Nee!” Sy spring op en moet aan sy lessenaar vashou om nie om te val nie. “Los my uit. Ek is nie jou verantwoordelikheid nie.” Dan skrik sy vir haar woorde. “Ek is jammer. Ek is jammer. As dit nie vir jou was nie …”

      Terug in haar woonstel lê sy ineengekrimp op haar bed en klou aan ’n kussing. Sy weet self nie wat gebeur het nie. Sy verstaan haar gedrag net so min as wat John dit verstaan.

      En so kry Charles haar toe hy onverwags daar opdaag na werk een middag. Hy kan dadelik sien dat sy slegter lyk, en sy staan ook net na hom en kyk sonder om hom binne te nooi.

      “Mag ek inkom?” vra hy dus.

      “Die plek is deurmekaar,” sê sy gespanne, haar oë twee brandende kolle. “Ek het weke laas afgestof.” Sy vee ’n stuk hare uit haar gesig. “En ek is ook nie aangetrek nie.”

      “Ek was lus om na die see te ry,” sê hy.

      “Die see? Maar dis ver.”

      “Ek weet, maar dis so ’n mooi middag.”

      “Is dit?” Sy kyk vaag na die venster. “Reën dit nie?”

      “Dit reën die afgelope drie dae nie meer nie.”

      “Kyk hoe lyk ek. My hare …” Dit klink meteens heerlik. Om sommer na die see te ry.

      “Ons hoef nie uit te klim nie. Toe, gaan trek jou aan.”

      Sy staan opsy dat hy kan inkom en sy loop na die slaapkamer om aan te trek. Toe sy weer uitkom, het sy ’n langbroek en trui aan, en daar is ’n serpie om haar hare gebind. “Kan ek so gaan?”

      Hy kyk haar moedeloos aan, en êrens in hom voel hy ’n woede kook. Is daar dan niemand wat na die kind kan kyk nie? Maar hardop sê hy: “Jy lyk goed. Kom ons ry.” En hy, wat jare laas by die see was en nooit daarvan sou droom om sommer vir die aand soontoe te ry nie, klim in die motor en ry.

Скачать книгу