Weerkaatsings - 'n sprokie. Eleanor Baker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Weerkaatsings - 'n sprokie - Eleanor Baker страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Weerkaatsings - 'n sprokie - Eleanor Baker

Скачать книгу

mens kyk, het jy dit geweet?”

      Die seuntjie grinnik. “Jy’s nie ’n voël nie, jy’s te mooi.”

      “Dink jy so?” vra sy geamuseerd.

      “Ja,” sê hy beslis. “En ek weet jy kan nie vlieg nie. Mense kan nie.”

      “Jy is reg,” gee sy toe. “Maar ek kan droom dat ek kan vlieg.”

      “Ja. Ek droom partykeer dat ek kan vlieg.” Sy pa roep na hom vanuit die kombuis en hy kyk teësinnig in daardie rigting. “Wil julle nie saam met my kom bal skop nie?” vra hy dan vinnig. “My boetie is vir die naweek by sy maat en daar is niemand om met my te speel nie.”

      Sy lag. “Nee, hoor, ek kan nie.”

      Hy steek sy handjie uit en vat aan haar vinger. “Die heks sal jou nooit opeet nie.”

      “Die heks? Watter heks?”

      “Van Hansie en Grietjie. Onthou jy nie meer nie? Hulle moes hulle vingers deur die tralies steek.”

      Maar die kind se pa kom boender hom weg en maak knikkend en buigend verskoning vir die kind se gedrag. Lize kyk hom agterna tot hy klaend in die gang verdwyn. “Nou ja,” sê sy geamuseerd. “Een voordeel. Die heks sal my nooit opeet nie.”

      Dis asof die kind die laaste stramheid tussen hulle verwyder het, en terwyl hulle wag op hul nagereg, gesels hulle ontspanne oor algemene sake, die dreigende staking, die miserabele somerweer. En Lize voel ook hoe die kruin van die golf begin buig, af sand toe. Dis makliker om stil te bly as om te praat, dit word moeisaam om die lepel na haar mond te bring, die ou, ou moegheid is terug soos sy geweet het sal gebeur. Sy eet nie klaar nie, maar vou haar hande op haar skoot en laat dit daar rus. Toe hy vra of sy koffie wil hê, skud sy net haar kop.

      Sy het geweet dit sal gebeur, dis waarom sy van die begin af nie wou kom nie. Sy ken haar beperkinge en daar is vir haar niks so aaklig as om regop te moet sit en funksioneer as sy liewer plat wil lê met haar oë gesluit nie.

      “Sal ons maar gaan?” vra hy asof hy haar gedagtes gelees het. Dis ook nie eens nodig nie. Hy het gesien hoe die spiertjie by haar mondhoek begin styf trek, en sy het dieselfde uitgeputte uitdrukking wat hy die dag in sy motor gesien het. ’n Blom wat net vir ’n paar uur oop bly voor dit verwelk. Hy vra ook nie haar toestemming nie, maar stap om na haar, trek haar stoel uit en ondersteun haar tot sy staan. En so, met sy arm onder haar elmboog, lei hy haar na die motor waar sy dankbaar agteroor gaan lê.

      “Dis nog nie eens donker nie,” sê sy mymerend. “Jy kan nog die stad platdraf voor dit middernag is.”

      “Ek het geen behoefte aan so iets nie,” sê hy styf. Dan kyk hy af na haar. “Wil jy dadelik huis toe gaan of wil jy nog ’n ent gaan ry?”

      Haar eerste reaksie is om te sê sy wil asseblief dadelik huis toe gaan, maar die aand is so mooi met misvliese wat oor die weilande hang en die somerson laag op die horison, rooi agter die dun wolke, dat sy tog instem om eers ’n ent te ry.

      Dit word ’n rustige rit. Hy praat glad nie en vereis geen reaksie van haar nie behalwe om nou en dan na iets te wys. ’n Reier wat soos ’n standbeeld in die vlak water staan, ’n bleshoender-vader wat met gesis die ander eende van sy wyfie se nes verjaag, ’n besonder mooi blommende boom wat in die water weerkaats word. Sy kyk en soms knik sy, maar die meeste van die tyd lê sy net stil agteroor met ’n effense glimlag om haar lippe. En hy dink afgetrokke: dis verkeerd. Dis verkeerd dat ’n jong meisie so lyk.

      “Hoe oud is jy?” vra hy skielik.

      “Agt en twintig. Amper.”

      “Hoe amper?”

      “Volgende week.”

      “En hoe gaan jy dit vier?”

      “Vier?” vra sy en haar stem word bitter en heftig. “Wat is daar om te vier?” Want ek sal by die hospitaal wees, en die enigste rooi blomme sal in die wagkamer staan. As ek gelukkig is.

      “Sal jy weer saam met my uitgaan?” vra hy en draai die motor se neus in die rigting van die stad.

      Sy antwoord nie dadelik nie. Dan sug sy. “Ek weet nie. Dis beter om nou reeds te weier as om jou ’n uur voor die tyd te bel en te sê dis onmoontlik.”

      “Ek sal dit so aanvaar,” sê hy gelykmatig. “En ek bedoel dit. Ek wil nie hê jy moet gedwonge voel om te gaan nie. As jy op die aand nie kans sien daarvoor nie, mag jy my laat weet.”

      Sy draai haar kop teen die kussing en kyk na hom. “Dankie,” sê sy stadig. “Op daardie voorwaarde sal ek dit aanvaar.” En na hulle ’n ruk in stilte gery het, voeg sy by: “Jy is ’n goeie vriend.”

      DRIE

      Die middag van haar verjaardag, toe sy soos gewoonlik op haar bed lê en rus, bel Charles om te vra hoe dit gaan en of sy wil uitgaan.

      “Ja,” sê sy fatalisties. “Dit gaan nie besonder goed nie, maar ook nie eintlik slegter nie.”

      “Sal ek jou weer so vroeg kom oplaai?”

      “Nes jy wil.”

      Sy lê na die gehoorbuis en kyk nadat hy afgelui het. Sy het lank en diep nagedink die afgelope week. Waarom hy haar weer wil sien, weet sy nie. Waarom sy hom toelaat om dit te doen, weet sy nog minder. Vriendskappe van enige aard is nie iets wat sy die afgelope jare aangemoedig het nie. Ester is ’n uitsondering. Ester het self besluit. Ester doen wat Ester wíl doen en luister nie na teëpraat nie. Maar dié man is iets heel anders. Sy hou van hom, ja, dit lei geen twyfel nie, en op ’n manier geniet sy die ure saam met hom, maar wat sy weet – of vermoed – wat hy nie weet nie, is dat die vriendskap geen toekoms het nie. Daar bestaan nie meer ’n toekoms nie, en sy raak moeg. Moeg vir baklei. En dis nog iets wat sy nie begryp nie. Al die jare toe daar nie regtig iets was om voor te veg nie, het sy geveg. Nou dat dit wil lyk asof daar iemand is wat haar welsyn op die hart dra, raak sy moeg. Nee, dis nie so eenvoudig nie. Sy dink nie dit het regtig iets met hom te maak nie. Dis maar toevallig dat hy juis op hierdie stadium in haar lewe beland het. Sy is gewoon moeg. Sy het gewoon nie meer die krag om verder te veg nie, en as sy John kan glo, lyk dit asof die einde in sig is. Asof die geveg byna verby is. Hy wil wag vir die finale toetse oor twee weke of so, maar die laastes was positief. Of negatief, afhangende van die oogpunt waarna jy daarna kyk. Sy behoort te jubel. Sy behoort beter te voel en beter te word en sy het nie die sterkte daarvoor nie. Sy kan nie meer slaap nie en sy weier – soos sy nog al die jare geweier het – om pille daarvoor te drink. Dis met moeite dat sy nog eet. As sy geweet het van ’n verlate strand iewers op die aardbol, het sy soontoe gegaan en opgekrul op die laagwatermerk gaan lê sodat die see haar kan wegspoel as dit hoogwater word. Dis waarvoor sy lus is. Dis ál waarvoor sy nog lus of krag het.

      Maar toe Charles voor haar staan met ’n ruiker blomme, vrolik sy tog effens op. Dit is per slot van rekening haar verjaardag en dis lank laas dat iemand vir haar blomme gebring het. Hy staan op die mat en wag terwyl sy hulle in water sit.

      “Mag ek jou badkamer gebruik?” vra hy skielik. “Ek het direk van die kantoor hierheen gekom en ek sou graag my gesig wou afspoel.”

      Toe hy weer uitkom, sit sy op die rusbank en kyk na die blomme. “Jy hoef dit nie te doen nie, weet jy,” sê sy gelykmatig. “Om reguit van die kantoor hierheen te jaag net omdat ek vroeg in die bed wil kom, is

Скачать книгу