Saartjie Omnibus 3. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé страница 13

Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé Saartjie Omnibus

Скачать книгу

style="font-size:15px;">      Almal dink na oor die eienaardige gebeure. Saartjie voel nou heelwat beter, maar net om dubbeld seker te maak, vra sy darem: “As sy die dief weer sien, sal sy hom kan herken, Pappa?”

      “Nee, sy kon glo net sy kwaai, wrede oë sien.”

      Saartjie loer vlugtig spieël toe. Sy sien haar groot helderblou oë. Is dit nou kastig kwaai, wrede oë? Ou Nukke kan vir jou lekker aansit, hoor!

      “Die polisie was ook daar,” sê haar pa, “maar hulle gaan nie eers ondersoek instel nie. Dit sal hopeloos wees.”

      Saartjie kan haar geluk nie glo nie.

      “Wat eienaardig is,” gesels haar pa verder, “is dat daar niks uit juffrou Necker se woonstel vermis word nie.”

      “Ja-nee, dit ís eienaardig,” sê Saartjie met ’n onskuldige gesig.

      Dokter Baumann haal sy skouers op en sê dan laggend: “Maar die petalje sal die arme oujongnooi goed doen. Toe ek daar weg is, het sy heerlik vir die soveelste keer vir almal vertel wat gebeur het. Haar oë het skoon geglinster. Sy was nog nooit so die middelpunt van belangstelling nie. Dit was vir haar ’n wonderlike avontuur en sy word nogal as ’n heldin beskou omdat die gewetenlose dief padgegee het sonder om haar geld of haar lewe te neem.”

      Saartjie is nou weer haarself. Alles het goed afgeloop en die belangrike brief is uiteindelik gepos.

      Sy dink daaraan dat die brief darem baie moleste veroorsaak het. By die skool moes sy agter ’n afskortinkie tussen jasse en baadjies wegkruip en by Ou Nukke se woonstel in ’n klerekas tussen ’n klomp rokke. Dit was benoude oomblikke. As haar pa ooit weer vir haar ’n brief gee om te pos, gaan sy dit dádelik doen. Sy sal sowaar nie weer eers gou by iemand anders gaan inloer nie.

      Die volgende oggend vertel Saartjie vir Anna wat die uiteinde van die hele storie was – en dan wil sy weet hoekom haar maat nie gefluit het toe sy die onderwyseres gewaar nie.

      “Jy’t gesê ek moet fluit as ek Ou Nukke van ete af sien terugkom. Ek het nie geweet wat om te doen toe ek haar by die gebou sien uitkom en toe net daarná weer ingaan nie,” verduidelik Anna droogweg.

      Anna is hoog in haar skik met hoe goed sy Saartjie vermom het. As sy nie daardie speurroman gelees en daaraan gedink het om dit te doen nie, sou haar maat nou diep in die moeilikheid gewees het.

      “Maar volgende keer wanneer ek vermom word,” sê Saartjie laggend, “dra ek nie weer ’n pet wat aanhoudend oor my oë afsak nie.”

      Die twee meisies besluit om hul geheim te bewaar. Hulle sal net vir Lina van die affêre vertel, maar niemand anders mag ooit daarvan weet nie.

      Wanneer Lina van hul avontuur hoor, moet sy haar maag vashou soos sy lag. “Ek wens ek kon Ou Nukke ook met daardie snaakse hoed op sien,” sê sy giggelend.

      Die volgende paar dae is Ou Nukke besonder vriendelik by die skool. Sy is so gaaf omdat sy so gelukkig is. Die oujongnooi het nog nooit in haar lewe soveel aandag gekry nie. Sy moet die verhaal van die dief – die bloeddorstige dief wat woedend soos ’n hond blaf – tot vervelens toe oorvertel, maar sy gee nie om nie. Sy geniet dit elke keer net meer.

      Dié Saterdag kom Saartjie se skuldige gewete oor die brief, wat eers weg was en toe ’n dag later eers gepos is, uiteindelik tot rus. Haar pa kom die middag van die hospitaal af en vertel vir sy vrou dat die operasie op die ou oom van Roodepoort ’n groot sukses was.

      Nou, besluit Saartjie, noudat alles so goed afgeloop het, kan sy weer ernstig met haar veldtog aangaan om mooi te lewe. Sy kan nou weer “al haar kragte inspan”, soos sy hoogdrawend vir Anna en Lina sê, om só te lewe dat haar ouers met graagte sal toestemming gee dat sy Durban toe mag gaan.

icon_07ssepapegaai.jpg

      5

      Saartjie die rabbedoe

      Een aand sit Saartjie in haar kamer en huiswerk doen. Sy het die middag tennis gespeel en het nog haar wit tennisbroekie en -hempie met haar tennisskoene aan.

      Sy is nie lus hiervoor nie, maar die huiswerk moet gedoen word – en buitendien, dit maak mos ’n goeie indruk op haar ouers as sy alleen hier sit en werk.

      Saartjie is die afgelope paar dae só soet dat botter nie in haar mond sal smelt nie. Sy het groot geskrik met daardie affêre toe sy in Ou Nukke se woonstel was en sy lewe nou ekstra mooi sodat sy haar ouers se toestemming kan kry om Durban toe te gaan.

      Anna het vroeër die middag die groot nuus kom vertel dat sy vir die langnaweek saam met haar pa Durban toe gaan.

      “Dit was só maklik!” het sy opgewonde vertel. “Ek het daar by my ouers gesit en gesê ek het ’n vakansietjie nodig, want ek het my dié kwartaal amper doodgewerk. My pa het sommer dadelik ja gesê. Hy sê hy sal nogal graag geselskap in die motor wil hê.”

      “En wat van my?” wou Saartjie dadelik weet. “Het jy van my gepraat, Anna?”

      “Ja, ek het gevra of jy mag saamgaan. Ek het gesê jy’s ook al gedaan van al die huiswerk en goete, en toe sê my pa hy sien glad nie hoekom jy nie kan saamkom nie – as jou ouers natuurlik hul toestemming gee.”

      Sover het Anna nog net van haar pa gepraat. Toe vra Saartjie die belangrike vraag: “En wat het jou ma gesê?”

      “Sy’t eers ge-huh en ge-ha, en oor allerhande goed gekla. Haar grootste klagte was dat my pa elke oomblik van die drie dae by die konferensie sal besig wees, en wat gaan ons twee kinders dan alleen doen? Ek het gesê ons sal in die see gaan swem en op die strand lê en saans sal ons só moeg van al die swemmery wees dat ons vroeg sal gaan slaap.”

      “En toe?” vra Saartjie en luister aandagtig. Sy moet hieruit leer hoe om haar ouers te benader en hul vrae te beantwoord.

      “My ma was nog so ’n bietjie onseker en het gepraat van die luukse hotel waar my pa gaan bly. Dis glo net skatryk mense wat die plek kan bekostig. Ons twee sal ons baie goed moet gedra – ‘soos dames’ sê my ma. Dis nie ’n hotel vir ’n gelag en lawaai nie en my ma is bang ons gaan my pa in die skande steek, want hy sal mos net met etenstye daar wees.”

      Saartjie sug. “En wat het jy toe gesê?” vra sy en skuif nader aan Anna.

      “Ek het gesê Saartjie Baumann is een van ons land se beroemdste snydokters se dogter en sy ken haar maniere. En ek is die dogter van die gaafste ouers wat ’n mens kan hê en ek ken ook my maniere. Ek en Saartjie weet hoe om ons in hoë kringe te gedra. Ons sal stil en stigtelik wees. En toe staan ek op en maak so ’n paar elegante buiginkies, net om vir hulle te wys hoe ons twee sal buig as ons die rykste van die rykes daar in die hotel ontmoet. My pa en ma het albei gelag en ek weet nie hoekom nie, maar my ma se oë het geblink. Toe sê sy: ‘Nou goed, dan kan julle twee maar saam met Pappa gaan. Dis te sê as Saartjie se ouers inwillig.’”

      Anna het opgewonde gelag, en Saartjie ook, maar nie té vrolik nie. Sy moet haar ouers nog vra. Sal hulle haar laat gaan?

      Toe vertel Anna dat haar ma en sussie die paar dae na hul ouma se plaas naby Vereeniging gaan.

      “Ek weet nie wat Muggie gaan sê

Скачать книгу