Saartjie Omnibus 3. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé страница 9

Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé Saartjie Omnibus

Скачать книгу

aanwend om die brief te kry. As dit misluk, sal sy haar pa van alles vertel. Dan moet hy maar vir dokter Brummer bel.

      En wat dan van haar? Sy frons en byt op haar onderlip. Dan sal sy nie in die blou see onder die blou hemel kan gaan swem en op die wit seesand baljaar nie.

      Saartjie spring vinnig op. Sy moet nou dadelik werk maak hiervan. Ou Nukke woon mos alleen in ’n woonstel in Lynnekom se hoofstraat.

      “Ek’s nou-nou terug!” sê sy en nael by die huis uit.

      By die tuinhekkie gaan staan sy stil. Sy haal net een keer diep asem en dan begin sy vinnig van die een betonblok na die ander hop. Sy spring vinnig, maar tog ook versigtig. Sy wil nie hê een van haar voete moet aan ’n gleuf tussen die betonblokke raak nie. Sy kan nie nou weer van voor af begin nie. Sy is haastig. Dit word al donker.

      Sonder om aan een gleuf te raak, kom Saartjie aan die einde van die plaveisel op die sypaadjie. Nou vlieg haar bruingebrande bene oor die aarde, reguit na die bure se huis toe. Saartjie het besluit Anna moet kywie hou terwyl sy by Ou Nukke se woonstel insluip.

      Sy gaan reguit na haar maat se kamer toe en slaak ’n sug van verligting wanneer sy haar alleen daar aantref. Muggie die laspos – en Trienkie haar pop – is nie daar nie.

      “Luister, Anna,” sê Saartjie opgewonde, “jy moet my help.”

      “Waarmee?” vra haar vriendin besorg en sit die speurroman wat sy lees op die bed neer.

      Saartjie vertel vir Anna hoe belangrik die brief is – die brief wat sy vergeet het om te pos, die brief wat in Anna se opstelboek in Ou Nukke se woonstel lê. Die brief kan ’n ou oom se lewe red!

      Anna luister met groot oë. Saartjie vertel wat haar plan is.

      “Dis nou halfsewe,” sê sy vinnig, “en jy weet mos Ou Nukke gaan dan altyd by die gastehuis eet. So ons gaan nou gou soontoe!”

      “Ons?!” Anna se wenkbroue is albei vraagtekens.

      “Ja, ek en jy. Jy hou buite kywie en ek glip by die woonstel in. Dan haal ek die brief uit jou boek en ons gaan pos dit gou en alles is weer reg. Dan gaan ons volgende week Durban toe.”

      Anna dink ernstig hieroor na.

      “Sê nou maar net,” sê sy sag, “Ou Nukke of iemand anders betrap jou daar in die woonstel?”

      “Moenie nonsens praat nie. As Ou Nukke miskien terugkom, fluit jy net hard, dan spring ek by die woonstel se agterste venster uit en ontmoet jou weer hier. Maar moenie eers aan so iets dink nie. Ons ken mos Ou Nukke se gewoontes. Sy gaan saans halfsewe eet en sy kom altyd eers so halfagt terug. Alles sal reg uitwerk.”

      Maar Anna voel glad nie gerus nie. Sy wil weet hoekom Saartjie nie liewer reguit vir Ou Nukke die brief kan vra nie.

      “Jy weet mos hoe ’n moeilike ou skepsel sy is. Sy sal ’n uur lank vir my preek en vertel hoe agterlosig ek is – en dan sal sy die brief seker ook nog na my pa toe vat. Nee, ek gaan die ding self haal. Kom jy saam, of nie?”

      Anna sug swaar en staan op. Sy sal seker maar moet gaan kywie hou.

      “Jy weet, Saartjie,” sê sy en kyk weer na die speurroman wat sy gelees het, “dit sal veiliger wees as ons jou vermom!”

      “Hoekom?”

      “Dan sal niemand jou herken as ’n meisie van Hoërskool Saamwerk nie. In hierdie boek vermom die diewe hulle altyd sodat niemand ooit kan sê hoe hulle gelyk het en hulle weer sal herken nie.”

      “Maar ek gaan nie juwele of iets steel nie,” gooi Saartjie wal. “Ek gaan mos net om my eie brief terug te kry.”

      “Nogtans,” sê Anna, “as daar miskien iets gebeur, moet die polisie nie na ’n skoolmeisie soek nie.”

      “Hou nou op hiermee,” sê Saartjie ongemaklik. “Ek sien nie wat die polisie met die affêre te doen het nie.”

      “Jy gaan by Ou Nukke se woonstel inbreek. Jy gaan sonder haar toestemming daar wees – so as iemand jou daar betrap, sit jy!”

      “Wat bedoel jy ek ‘sit’?” Saartjie klink glad nie meer so seker van haarself nie.

      “Sit in die tronk,” sê Anna saaklik.

      Saartjie is nou baie bang. Dis waar wat Anna sê – as sy sonder toestemming by Ou Nukke se woonstel ingaan, is dit inbraak.

      “Hoe kan ons my vermom?” vra Saartjie vir haar vriendin. Dit klink nou skielik vir haar na ’n goeie plan.

      Anna vertel dat daar in hul buitekamer ou klere is wat haar pa altyd aantrek wanneer hy in die tuin werk.

      “Dis nou donker, en jy sal nie so onaardig lyk dat mense sal dink daar’s iets verkeerd met jou nie. As iemand jou daar by die woonstelgebou sien in- of uitgaan, sal hulle net dink dis ’n kort mannetjie – hulle sal nooit raai dis ’n skoolmeisie nie.”

      “Nou kom dan,” sê Saartjie, “laat ons my gaan vermom.”

      Sy sien nou uit hierna. Dit klink na pret. Anna se ouers en Muggie is op die agterstoep. Die twee meisies draf uit na die buitekamer toe.

      Anna wys vir Saartjie haar pa se ou klere en help haar aantrek.

      Saartjie se blou oë vonkel van plesier. Sy geniet hierdie avontuur en vergeet vir ’n oomblik skielik waaroor dit alles gaan – om haar pa se brief in die hande te kry.

      Alles word sommer bo-oor Saartjie se klere aangetrek. Sy dra nou ’n langbroek wat Anna by die enkels opgerol het en ’n groot baadjie van oom Louis wat soos ’n sak om haar hang. Dan plak Anna ’n groot pet op Saartjie se kop.

      Daar hang ’n verwaarloosde spieël teen die een muur en Saartjie bars uit van die lag wanneer sy haarself sien. Sy lyk tog te potsierlik. Al wat van haar uitsteek, is die klein gesiggie onder die groot pet – en ook net gedeeltelik. Die pet glip kort-kort oor haar ore en oë af.

      Anna bekyk haar vriendin laggend.

      “Wat van die pet?” wil Saartjie weet en sy trek die ding weer van haar oë af. Sy kan dit net met haar een hand doen, want met die ander een moet sy die langbroek wat so wyd om haar maag sit, vashou.

      “Ek wou net die effek gesien het,” sê Anna en druk die pet terug sodat dit op Saartjie se ore rus.

      “So ja,” sê sy tevrede. “Jou ore sal die ding nou op sy plek hou.”

      Saartjie rol haar oë om te sien waar die pet sit.

      “Hm,” sê sy net.

      “Ons laat jou nie net soos ’n koddige mannetjie lyk nie,” sê Anna, “maar soos ’n vét koddige mannetjie.”

      Anna gryp ’n ou kussing en prop dit voor by die wye broek in. Dan vat sy ’n breë das en maak die broek oor die kussing om Saartjie se maag vas.

      “Dis beter,” sê Saartjie toe sy die broek nie meer met haar hand hoef op te hou nie. Sy lyk nou soos ’n kort mannetjie met

Скачать книгу