Saartjie Omnibus 3. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé страница 8

Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé Saartjie Omnibus

Скачать книгу

is Ou Grompot omdat hy altyd so grom en knorrig is. Hy het ’n bokbaardjie waaroor hy aanhoudend streel terwyl hy sit en nasien.

      Elke keer wat hy klaar met ’n boek is, gooi hy dit op die tafel neer en sê: “Treurige werk!” Hy is beslis nie baie ingenome met die klas wie se werk hy merk nie.

      Saartjie sou die toneeltjie geniet het as sy nie in so ’n penarie was nie. Een keer wil-wil sy net nies. Sy druk haar neus vinnig met haar duim en wysvinger toe – net betyds. Die nies is verby, maar haar oë traan. Met ’n waterige oog loer sy weer deur die opening tussen die twee gordyne. Sy wonder hoe lank Ou Grompot nog so grommend hier gaan sit en werk. Hoe gaan sy hier uitkom sonder dat iemand haar sien?

      Saartjie is al moeg om so te staan en loer toe sy skielik weer voetstappe hoor. Nóg iemand kom personeelkamer toe. Die deur gaan oop. Sy loer versigtig. Haar hart gaan staan amper: die skoolhoof staan in die deur!

      “Meneer Burger,” hoor Saartjie hom sê, “kan jy asseblief ’n paar minute na my kantoor toe kom? Ek wil graag volgende kwartaal se rugbyreëlings met jou bespreek.”

      “Seker, meneer,” sê Ou Grompot. Hy staan op en stap by die deur uit.

      Die onderwyser maak die deur agter hom en die hoof toe. Saartjie staan roerloos stil. Sy besluit om hulle ’n minuut of so kans te gee om weg te kom – dan gaan sy hier uitglip. Sy wil nie ’n sekonde langer in die personeelkamer bly nie.

      Toe Saartjie reken die mans is nou seker al in die hoof se kantoor vlieg sy agter die gordyne uit. Sy nael na die deur, maak dit saggies oop en loer versigtig uit. Sy sien niemand nie.

      Vir ’n sekonde dink sy daaraan dat dit nou haar kans is om verder na Anna se boek te soek, maar dan besluit sy nee, sy is nou te verskrik. Dit sal te gevaarlik wees. Sy het mos gehoor die hoof sê hy wil Ou Grompot net vir ’n paar minute spreek. Sy sal maar van die brief moet vergeet. Sy is nou te bang om weer daarna te probeer soek.

      Saartjie glip by die personeelkamer uit en trek die deur agter haar toe. Sy beweeg vinnig met die gang af, terug na haar klas toe. Sy wil hardloop, maar hou haar in en drafstap net so effens. Sy kyk aanhoudend oor haar skouer om te sien of niemand haar gewaar nie.

      Saartjie hoop maar die onderwyser gaan haar nie vra waar sy so lank was nie. Voor die deur vee sy met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Dan glimlag sy soet en maak die deur oop.

      Die onderwyser is besig om op die bord te skryf. Hy sien haar skaars inkom. Sy haal haar boek uit haar tas en begin afskryf.

      “Wat het gebeur?” fluister Lina wat net agter Saartjie sit. “Hoekom het jy so lank gevat?”

      “Het jy die brief gekry?” wil Anna weet.

      “Dit was so amper of ek is in die personeelkamer betrap,” sê Saartjie hees.

      “Deur wie?” vra Anna.

      “Ou Grompot en die hoof!” Saartjie se oë is groot. “En nee, ek het nie die brief gekry nie.”

      Anna en Lina skuif nader om meer te hoor, maar voor hul maat kan begin vertel, sê die onderwyser kwaai: “Stil, julle meisies! Gaan aan met julle werk.”

      Saartjie, Anna en Lina is tjoepstil. Hulle skryf die Duitse sinne op die bord in hul boeke af. Saartjie sug net een keer swaar. Die lewe is darem maar moeilik!

      Dié middag vertel Saartjie vir haar twee maats wat presies in die personeelkamer gebeur het.

      “Ek belowe vir julle,” sê sy laggend, “Ou Grompot is doof – anders sou hy my hart daar tussen die jasse hoor klop het!”

      “Dit moes aaklig gewees het,” sê Anna.

      “Dit was, maar jy weet mos ek skrik nie vir koue pampoen nie,” antwoord Saartjie grootpraterig.

      “Miskien nie,” sê Lina, “maar jy was baie bleek toe jy terug in die klaskamer kom.”

      “Ek is mos maar altyd half blekerig. My hart het bietjie vinniger as gewoonlik geklop, maar ek was niks bang nie.”

      “Maar jy’t dan nou net gesê Ou Grompot moet doof wees dat hy nie kon hoor hoe wild klop jou hart nie,” terg Anna vir Saartjie.

      “Ek het amper hardop uitgebars van die lag toe Ou Grompot sy baardjie so streel en elke keer ‘treurige werk’ sê,” verander Saartjie vinnig die onderwerp.

      “Om te dink jy was só dapper,” sê Lina spottend, “maar jy’t nog steeds nie gekry waarna jy soek nie.”

      “Wat nou van die brief?” wil Anna weet. “Wat gaan jy daaraan doen?”

      “Ek het besluit,” sê Saartjie ingedagte, “om maar daarvan te vergeet – en te maak of dit nooit bestaan het nie …”

      “Hoe bedoel jy?” vra Anna. “Jou pa sal mos eendag uitvind jy het dit nie gepos nie.”

      Saartjie verduidelik nou dat sy maar hoop dié eendag sal nooit aanbreek nie – of dat dit eers doer in die verre toekoms sal wees.

      “Dan het my pa miskien al vergeet hy’t mý gestuur om die brief te pos,” voeg sy hoopvol by en neem haar voor sy sal van nou af ekstra “mooi lewe”.

      Laat daardie middag word Saartjie se hoop dat die brief vergete sal bly, in die wiele gery. Sy sit by haar ouers in die sitkamer en hoor haar pa vir haar ma sê: “Ons kan nie Saterdagmiddag na die Luttigs toe gaan nie. Ek doen ’n belangrike operasie.”

      “Dis goed,” sê Saartjie se ma, “ek sal hulle bel en sê.”

      “Ek’s jammer, vroutjie, maar dit kan nie anders nie. Dokter Brummer van Roodepoort het ’n paar dae gelede met my in verbinding getree oor ’n pasiënt van hom. Ek sal moet opereer, en gou ook. Ek het gister ’n hele paar keer gebel om vir hom te sê ek het die teater vir Saterdagmiddag bespreek, maar ek kon nie deurkom nie. Toe het ek maar ’n brief geskryf …”

      Saartjie het met ’n halwe oor gesit en luister, maar die woord “brief” laat haar regop sit.

      “Dis die brief wat Saartjie gistermiddag vir my gepos het,” gaan dokter Baumann verder. “Die pasiënt is ’n ou oom en ek het gevra dokter Brummer moet die nodige reëlings tref om hom Saterdag te bring.”

      “Ek verstaan heeltemal, Jan,” sê Martha Baumann. “Ons kan maar later eendag vir die Luttigs gaan kuier. Is dit ’n baie ernstige geval?”

      “Baie ernstig. Volgens dokter Brummer sal die ou oom nie die paal haal as ek nie opereer nie …”

      Saartjie hoor niks meer nie. Daar is ’n gedruis in haar ore. Sy sit versteen. Sê nou die ou oom gaan dood oor haar nalatigheid? Nee, sy wil liewer nie eers aan so iets dink nie!

      Saartjie is lus om sommer met alles vorendag te kom en te vertel sy het die brief nie gepos nie en wat gebeur het toe sy dit probeer terugkry het – maar dan kan sy maar van Durban vergeet. As hy hoor hoe nalatig sy was, sal haar pa haar nooit toelaat om soontoe te gaan nie.

      Sy dink daaraan dat daar genoeg tyd is om nog een keer te probeer om die brief in die hande te kry. Dis vandag Woensdag en as sy die brief

Скачать книгу