Saartjie Omnibus 3. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé страница 12

Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé Saartjie Omnibus

Скачать книгу

voor en die voorkant agter. Sy knipoog vir haarself in die spieël en glimlag vriendelik en maak elegante buiginkies met haar kop soos sy dink die elegante dames wat sulke hoede dra hul vriende sal groet – en toe hoor sy Ou Nukke se voetstappe vinnig in die gang afkom.

      Saartjie staan verskrik. Daar flits net een gedagte deur haar kop: nie weer nie! Sy gaan sowaar nie weer in die klerekas spring nie. Sy moes dit vandag al twee keer doen!

      Saartjie is só lam geskrik dat sy glad nie kan roer nie. Toe die voetstappe feitlik by die deur is, kom sy eers tot verhaal en in beweging. Sy gooi die juffrou se hoed op die tafel neer, gryp die pet en sit dit op haar kop terwyl sy venster toe hardloop. Maar die ding sak oor haar oë af en sy loop haar hard teen die vensterbank vas!

      Die deur gaan oop en sy swaai verwilderd om. Die groot baadjie se kraag is tot onder haar oë opgeslaan en Saartjie skuif die pet nou tot net bokant hulle op sodat daar niks van haar gesig uitsteek nie behalwe twee verskrikte oë. Sy loer na Ou Nukke.

      Die onderwyseres staan sprakeloos in die deur en staar na die gedaante met die groot pet en die geweldige borskas. Haar mond is oop en sy gaap soos ’n vis op droë grond na asem. Sy het duidelik net so groot soos Saartjie geskrik.

      Saartjie kry eerste beheer oor haar stembande en bulder met ’n growwe stem: “Hiert!”

      Toe niks gebeur nie en Ou Nukke nog steeds staan en gaap, begin Saartjie soos ’n hond blaf. Hoekom sy dit doen, weet sy nie – maar sy moet íéts doen!

      Die vreemde gedaante blaf briesend en spring op.

      Hierdie eienaardige gesig en geblaf is een te veel vir Ou Nukke se uithouvermoë. Sy gee net een snak en sê: “Ag, hemeltjie, help tog!” Dan val sy flou neer.

      Saartjie is verskrik. Sy kan glad nie helder dink nie. Sy hardloop om die juffrou te help, maar moet skielik gaan staan. Sy kan niks sien nie. Sy pluk die pet, wat weer oor haar gesig geval het, reg. Nou kan sy helderder dink. Sy moet hier wegkom! Ou Nukke het maar net flou geval. Sy is mos nie beseer of iets nie.

      Sy klouter vinnig deur die venster en nael oor die donker agterplaas.

      “Eina!” gil sy toe sy in ’n vullisblik vashardloop en val. Sy spring vinnig op en vlug verder. Die blik maak ’n harde geraas soos wat dit rol en rol en uiteindelik tot stilstand kom. Saartjie hardloop vinnig verder. Haar een hand hou die kussing vas en die ander hand die pet.

      “Kom!” skree sy toe sy naby haar maat kom. Anna laat haar nie twee keer nooi nie – sy het die geraas gehoor. Die twee meisies nael vir al wat hulle werd is. Toe hulle ’n goeie entjie van die woonstelgebou af weg is, slaan hulle oor na ’n drafstap. Hulle kyk aanhoudend oor hul skouers, maar gewaar niks nie. Alles is stil.

      By ’n posbus sê Saartjie hygend: “Eers gou … van hierdie ding ontslae raak … Dis die brief wat al die nonsens veroorsaak het.”

      Saartjie haal die brief uit die baadjiesak en pos dit met ’n sug van verligting. So ja, nou is haar gewete skoon. Dis gepos. Daar sal nou nie moeilikheid wees nie.

      Op haar maat se aandrang vertel sy van al die moleste in juffrou Necker se woonstel.

      “En sê nou,” sê Anna, “Ou Nukke het nie flou geval nie? Sê nou sy’s dood of iets? Sê nou sy’t só geskrik dat haar hart ingegee het?”

      Saartjie voel hoe haar bene lam word onder haar. Het die juffrou nog asemgehaal toe sy daar gelê het, of nie? Sy weet nie.

      “Anna, asseblief,” sê sy en haar stem klink effens histeries, “as jy weer iets sê wat begin met ‘sê nou’, dan gaan ek skree. Ou Nukke makeer niks. Sy’t net flou geval.”

      Maar Anna kan sien Saartjie is baie bekommerd.

      In die Strydoms se buitekamer trek Saartjie gou die klere uit waarmee hulle haar vermom het om soos ’n dief te lyk. Een ding is seker: Ou Nukke het haar definitief nie herken nie.

      “Nie ’n woord aan ’n siel hiervan nie,” sê Saartjie streng toe sy loop. Anna belowe plegtig om tjoepstil te bly.

      Saartjie stap met hangende skouers huis toe.

      Toe sy daar kom, vra haar ma kwaai: “Waar was jy? Ons het al klaar geëet.”

      “Ek was by Anna, Mamma,” sê Saartjie sag, “en die tyd het so verbygevlieg …” Dis mos waar. Sy wás by Anna en die tyd hét verbygevlieg.

      “Jammer, Mamma,” sê Saartjie floutjies en glimlag soet.

      “Nou toe – maar dit moenie weer gebeur nie.”

      “Nooit weer nie, Mamma, nooit weer nie!”

      “Ek wonder net,” sê Kris wat eenkant sit en koerant lees, “wat sy en Anna aangevang het. Want waar Saartjie is, gebeur daar mos altyd iets.”

      “Jy dink seker jy’s snaaks, nè?” snou Saartjie hom toe. “Wat doen jy hier? Hoekom is jy nie by Isabel nie?”

      Kris antwoord liewer nie. Isabel Theron is sy meisie. Hulle twee was saam op hoërskool en hulle is nou saam op universiteit. Hy is deesdae amper meer by Isabel as wat hy by sy eie huis is.

      Terwyl Saartjie eet, vra sy: “Waar is Apie, Mamma?”

      “Hy’s ná ete weg om by Bennie te gaan kuier.”

      Apie se maat, wat net so ondeund soos hy is, woon ’n hele ent van die hoofstraat af. Saartjie dink verlig dat hulle niks van die gedoente by Ou Nukke sal weet nie.

      “En waar’s Pappa, Mamma?”

      “Hy’t ’n oproep gekry om gou na een van die woonstelle in die hoofstraat toe te gaan.”

      Saartjie vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop weg. Sy sluk swaar aan die kos in haar mond en vra dan met ’n klein stemmetjie: “Wie’s siek daar, Mamma?”

      “Jou onderwyseres, juffrou Necker. Sy het glo flou geval.”

      “Hoekom, Mamma?” Saartjie se oë is stip op haar bord.

      “Nee, ek weet nie. Maar Pappa sal seker nou-nou terug wees, dan kan ons by hom hoor.”

      Saartjie eet glad nie lekker nie. Sy is te bekommerd en bang.

      Toe sy haar nagereg eet, hoor sy haar pa se motor voor die deur stilhou. ’n Paar oomblikke later kom hy by die huis in.

      “Hallo, Pappa,” sê Saartjie vriendelik. “Foeitog, wat makeer juffrou Necker?” Sy hou haar stem kalm, maar haar hart bons.

      Dokter Baumann gaan sit eers en neem ’n koppie tee wat sy vrou vir hom skink. Saartjie wag gespanne dat hy verder moet vertel van Ou Nukke.

      “Julle juffrou is gelukkig nou weer perdfris,” sê haar pa uiteindelik en sy slaak ’n sug van verligting. Dokter Baumann vertel die onderwyseres het glo flou geval toe sy ’n dief in haar woonstel betrap het.

      “Volgens haar,” sê die dokter glimlaggend, “was die dief ’n eienaardige skepseltjie. Sy sê hy was baie snaaks gebou. Sy maag sit glo waar sy bors moet wees. En hy het

Скачать книгу