Saartjie Omnibus 3. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé страница 10

Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé Saartjie Omnibus

Скачать книгу

lag só hard dat die pet weer oor haar ore afgly. Anna moet haar weer help om dit op te trek.

      “Al wat jy nou doen,” sê Anna, “is om die baadjie se kraag tot by jou oë op te slaan.”

      Saartjie doen dit en kyk weer na haarself in die spieël. Niemand sal haar ooit herken nie.

      “Kom, laat ons weg wees,” sê sy tevrede.

      Die twee meisies stap na die woonstelgebou waar Ou Nukke woon. Hulle loop aan die donker kant van die sypaadjie. Saartjie sukkel om oor die weg te kom. Sy trek so baie aan die broek dat die kussing en broek nou op haar bors net onder haar keel sit.

      “Sê nou Ou Nukke het die boeke al gemerk en die brief gekry en dit op ’n ander plek gesit?” vra Anna.

      “Ek gaan soek tot ek dit kry,” sê Saartjie vasbeslote en dan brom sy vies: “Dekselse ding!”

      Anna lag toe sy sien hoe Saartjie weer besig is om die pet uit haar gesig te trek en dit op haar ore laat rus.

      Anna en Saartjie kom uiteindelik by juffrou Necker se woonstelgebou aan.

      Die twee staan in die donker onder ’n boom en bekyk die ingang.

      “Dit is nou tien voor sewe,” sê Saartjie, “so Ou Nukke is besig om te eet. Bly net hier staan, Anna, en as jy haar sien aankom, fluit hard en dan spring ek deur die agterste venster.”

      “Jy kan bly wees haar woonstel is op die grondverdieping,” sê Anna. “Anders sou jy nie by die venster kon uitkom nie.”

      “Ek sien vir enigiets kans,” sê Saartjie vol selfvertroue. Sy hou die pet se harde voorpunt vas sodat die ding nie oor haar oë moet afsak nie. Haar kop beweeg heen en weer soos sy rondkyk.

      “Wat doen jy nou?” vra Anna geamuseerd.

      “Ek bespied die terrein, wat anders?” sê Saartjie ewe belangrik. “Verstaan jy nou wat jy moet doen?”

      Anna knik, maar dan dink sy weer aan iets en sê: “Maar Saartjie, sê nou net …”

      “Vergeet van ‘sê nou net’!” maak Saartjie haar maat vinnig stil. “Al gebeur wát ook al, niemand sal my mos herken nie.”

      “Oukei,” sê Anna, “vergeet dan maar wat ek wou gesê het.”

      Saartjie loer onder die groot pet deur na haar maat. Sy is skielik effens bekommerd. Sy wonder wat Anna wou gesê het.

      “Nou goed, laat ek hoor,” sê sy. “Wat pla jou?”

      Anna het haar half vir Saartjie vervies, maar daar is nie nou tyd vir stry nie, so sy sê effens stywelip: “Sê nou jy maak die deur oop en daar sit Ou Nukke en loer vir jou oor haar knypbrilletjie? Sê nou sy het nie gaan eet nie?”

      “Moet liewer nie so iets sê nie.” Saartjie skud haar kop om hierdie aaklige gedagte af te skud en die pet sak weer af oor haar gesig.

      Sy stoot dit tot op haar voorkop terug.

      “Ou Nukke is ’n mens en ’n mens raak honger,” sê Saartjie uit die hoogte vir Anna. “So hoekom sou sy nie gaan eet het nie?”

      Nee, Anna weet nie hoekom die juffrou nie sou gaan eet het nie. Maar sy sê mos maar net – ’n mens weet nooit nie.

      “Sy is nie siek nie,” sê Saartjie ekstra hard om haarself te oortuig. “Ou Nukke is gesond – kwaai gesond. En ’n gesonde mens eet mos.”

      Sy besluit om nie weer aan hierdie moontlikheid – dat sy die deur oopmaak en daar sit Ou Nukke vir haar en kyk – te dink nie.

      “Ek gaan nou,” sê Saartjie en groet dramaties: “Vaarwel!”

      “Vaarwel,” sê Anna met gevoel – asof sy vir ’n baie lang tyd van haar vriendin afskeid neem.

      Saartjie sluk en stap dan na die gebou se ingang toe.

      Sy strompel moedig voort. So af en toe struikel sy wanneer die pet oor haar oë afgly. Saartjie lyk glad nie soos ’n dief nie. Sy lyk meer soos ’n hanswors wat in ’n sirkus hoort.

      In haar woonstel sit die onderwyseres in ’n leunstoel en brei. Sy is vanaand moeg. Sy kyk op haar horlosie. Dit is al ná sewe. Sy sal eers gou gaan kyk of haar vriendin op die tweede verdieping al weg is vir ete. Sy begin dink sy moet miskien nie vanaand gaan nie. Sy is nie eintlik honger nie.

      Toe Saartjie versigtig by die gebou se hoofingang insluip, stap Ou Nukke net by haar woonstel uit op pad na haar vriendin toe.

      Sy loer om die hoek. Daar is niemand in die gang nie. Sy stap vinnig na Ou Nukke se woonsteldeur toe.

      “Deksels!” sê sy vies toe die pet vir die soveelste keer oor haar oë afgly.

      Saartjie hou die pet vas sodat sy ordentlik kan sien. Sy loer versigtig by die onderwyseres se deur rond. Dan luister sy aandagtig met haar oor teen die deur. Sy sien of hoor niks nie.

      Sy mompel vir haarself: “Kophou, Saartjie” en dan maak sy die deur oop.

icon_07ssepapegaai.jpg

      4

      Saartjie die dief (2)

      Saartjie loer versigtig om die deur. Sy is gereed om vinnig om te spring en te nael as sy Ou Nukke in die woonstel gewaar. Die lig is aangeskakel, maar sy sien niemand in die plek nie.

      Die pet val weer oor haar oë en sy stoot dit vir die soveelste keer vererg weer op. Dan stap sy in en trek die deur agter haar toe.

      Saartjie hou die pet met haar een hand vas. Sy voel heel gerus. Sy het mos geweet Ou Nukke sou gaan eet het! Op die tafel sien sy ’n stapel oefeningboeke. Sy stap soontoe en haar gesig straal van blydskap wanneer sy sien dit is haar klas se opstelboeke.

      Sy gaan vinnig deur die boeke en kyk na die name voorop – maar dan val die pet weer oor haar oë.

      “Deksels!” sê Saartjie vies. Sy druk die pet weer op en trek haar ore bak sodat die ding daarop kan rus. “As ek nie so ordentlik was nie, het ek nou ’n woord gesê wat ’n mens nie moet sê nie!”

      Sy begin weer deur die boeke gaan en kry uiteindelik Anna s’n. Sy blaai opgewonde daardeur en toe kry sy die brief! Dit is sowaar nog in die boek, net soos Anna dit toegemaak het sonder om dit raak te sien. Ou Nukke het nog nie die opstelle gemerk nie.

      Saartjie kyk baie verlig na die brief in haar hand. Dit is aan dokter Brummer geadresseer. Nou is al haar probleme opgelos. Sy sal dit gou gaan pos en haar pa sal nie eens weet sy het dit ’n dag laat gedoen nie. Daar is nou geen rede hoekom die ou oom as gevolg van háár nalatigheid sal doodgaan nie.

      Sy pak die stapel boeke weer netjies reg. Sy sit die brief in een van die baadjiesakke – die baadjie is so groot dat die sak amper by haar knieë hang. So ja, nou is sy reg om die pad te vat. Alles het goed afgeloop.

      Saartjie

Скачать книгу