Susanna M Lingua Gunstelinge 4. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua страница 16

Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

die verbaasde Rina iets tot haar verdediging kan sê, trek hy die deken op tot onder haar arms. Daarna plaas hy haar pantoffels terug in die bedkassie en neem ewe waardig, asof niks op aarde gebeur het nie, plaas op die stoel waar sy flussies gesit het.

      “Hoe voel dit om drie-en-twintig te wees, Rina?” verbreek Carla se stem meteens die stilte wat nog steeds in die vertrek hang.

      “Presies dieselfde as wat dit gevoel het toe ek twintig was,” glimlag sy vir die jonger meisie. “Elke jaar bring natuurlik ’n mate van wysheid en besadigdheid mee, maar andersins voel ’n mens maar dieselfde. Wanneer jy drie-en-twintig jaar is, sal jy weet wat ek bedoel.”

      “O, dan sal ek al getroud wees en moontlik ’n paar kinders hê,” lag Carla dat haar tande wit skitter.

      “Ek sal nie so gou trou as ek jy is nie,” meen Rina.“Jy is nog baie jonk, Carla, niks ouer as ’n matriekmeisie in my land nie. Eintlik is jy ook nog te jonk om so ’n donkerrooi lipstiffie en swaar grimering te gebruik. Ek sal jou nog eendag wys hoe jy grimering met oorleg kan aanwend. Jy sal verbaas wees om te sien wat ’n verskil dit aan jou voorkoms kan maak. Jy is ’n baie mooi meisie, maar jou grimering is gans te swaar.”

      “Kan jy my nie nou wys nie, Rina?” wil Carla opgewonde weet, soos alle jong meisies begerig om op haar mooiste te lyk.

      “Wel, ek weet nie,” antwoord Rina, “my onderlaag sal te lig wees vir jou. Die lipstiffie wat ek gewoonlik saans gebruik, sal jou moontlik pas.”

      “O, maar ek het my grimering in my handsak,” kom dit gretig van Carla.

      “Nou goed, gaan was al daardie gemors van jou gesig af en kom sit hier by my op die bed,” beveel Rina.“Maar gee my solank jou handsak, ek wil sien hoe jou grimering en goed lyk.”

      Onderwyl Carla haar gesig was, skud Rina die inhoud van die jonger meisie se handsak op haar skoot uit. Die grimering wat uit Carla se handsak kom, is byna genoeg om ’n skoonheidsalon mee te open.

      Rina ondersoek elke buisie en botteltjie noukeurig, toets die kleur van die meisie se onderlaag op haar hand en vind dat dit ’n gesigpoeier is wat sy eie onderlaag bevat. Sy plaas die buisie en oogskadu eenkant. Die res bondel sy weer net so terug in Carla se handsak.

      “Gee my asseblief my eie grimeersakkie aan, Carla,” sê sy nadat laasgenoemde haar gesig gewas het, “en kom sit hier langs my op die bed.”

      Dit neem Rina nie lank om die meisie se gesig te grimeer nie. Dis duidelik dat almal ingenome is met haar handewerk.

      “Nou toe nou, ek kom nou eers agter hoe ’n mooi suster ek het,” sê Marco tevrede.

      “Ja, nou lyk sy baie mooier,” beaam Rina. Sy draai na Carla. “Gaan kyk self in die spieël daar teen die muur en vertel my wat jy van die nuwe Carla dink.”

      Carla wip van die bed af en begeef haar haastig na die spieël, gretig om haar nuwe voorkoms te besigtig.

      “O, Rina,” lag sy uitbundig, “ek ken myself byna nie! Sowaar, jy het ’n wonderwerk met my gesig verrig.”

      “O nee, daar is geen wonderwerk verrig nie,” voeg Rina haar geamuseer toe. “Dis jy wat die werklike Carla nog altyd onder ’n klomp onnodige aanplaksels verberg het. Jy mag hierdie lipstiffie neem, gooi asseblief al daardie onnodige buisies en botteltjies weg. Jy het daardie gemors glad nie nodig nie, Carla. Wanneer jy eendag oud en vol plooie is, kan jy al daardie aanplaksels gebruik om jou plooie mee weg te steek.”

      “Rina het heeltemal gelyk, Carla,” beaam haar ma. “Jy is nog gans te jonk vir swaar grimering, menina. Jy lyk nou sommer baie mooier.”

      “Ek kan sommer sien dat jou dogters eendag voorbeeldige meisies gaan wees, Rina,” laat die marquesa met openlike goedkeuring hoor.

      “Ek weet nie so mooi of dit wel die geval sal wees nie, señora,” sê Rina ondeund. “Ek dink stellig dat u seun ook nie met u saamstem nie. Hy sê voorbeeldige en respektabele meisies dra nie kortbroeke, bikini’s en eina minirokke nie, en hulle drink ook nie grappa nie. Nou wonder ek net hoe op aarde ek dit gaan regkry om my dogters ordentlik op te voed, terwyl ek self nie voorbeeldig en respektabel is nie. Ek sal hulle dus moet leer om nié die dinge te doen wat ek doen nie, en dis presies waar die moeilikheid gaan begin. Dogters is soms geneig om die ma na te boots . . . Nee, ek glo nie my dogters sal voorbeeldige kinders wees nie, señora. As hulle in my voetspore volg, sal hulle nie eens respektabel wees nie, wat nog te sê van voorbeeldig!”

      “Ek sal nogtans baie graag jou dogters wil sien wanneer hulle so sestien, sewentien jaar oud is, Rina,” hou die ou dame vol. Sy weet Rina sê hierdie dinge slegs om Conzalo se siel te versondig.

      “As ek net nie met ’n brandarm man trou nie, sal ek hulle vir seker vir u kom wys, señora,” belowe Rina met ondeunde pret in haar mooi blou oë.

      “Jy moet net seker maak dat jy nie met ’n brandarm man trou nie, señorita,” kom dit onverwags van Conzalo.

      “O, maar die liefde vra nie of ’n mens ryk of arm is nie, señor,” kom dit bedaard van Rina. “Ek sal nooit met ’n man trou wat ek nie waaragtig liefhet nie, al is hy nou ook ’n miljoenêr deur en deur. Geen geld ter wêreld kan liefde koop nie; altans, nie myne nie . . . Nee, die liefde moet spontaan kom; dit moet deel van my wees en my hele wese vul, ek moet voel hoe dit soos ’n blom in my oopkelk.”

      “Het jy die professor só lief?” vra die marquês met ’n peinsende trek in sy oë.

      Rina skud haar mooi, goudblonde kop stadig. “Ek hou van Herman as vriend, maar ek vrees ek het hom nie lief nie. As ek hom liefgehad het, sou ek tuis gebly het om naby hom te wees en nie hierdie uitgebreide reis deur Europa onderneem het nie, señor. Besef jy dat hierdie toer my ’n volle jaar in die buiteland gaan hou?”

      “In daardie geval kan jy gerus ’n paar weke langer hier in Lissabon vertoef, Rina,” doen die marquesa aan die hand.

      “As ek langer hier in Lissabon vertoef, sal daar nie tyd wees om Oporto te besoek nie, señora,” antwoord Rina. “Ek kan slegs ses weke in elke land vertoef. Ek weet nie eens hoe ek alles in Spanje in ses weke gaan besigtig nie.

      “Daar is so baie interessante stede, en Granada moet ek beslis besoek. Ek moet eenvoudig na die Alhambra gaan en ook Sacromonte waar die sigeuners in grotte woon . . .”

      “Ek sal jou nie aanraai om Sacromonte sonder ’n gids te besoek nie,” sê Conzalo ernstig. “Glo my, dit is gevaarlik vir ’n vreemdeling wat nie Spaans magtig is nie om die sigeuners se grotte alleen te besoek. Hulle sal jou sommer in die eerste grot beroof . . . Nee, Sacromonte kan jy nie waag om sonder ’n gids te besoek nie.”

      “Dan sal ek maar ’n gids êrens moet opdiep, maar Sacromonte móét ek besoek,” hou Rina vol.

      Die volgende oomblik tree Alvaro se ma, met ’n tas in die hand, die siekekamer binne. Sy plaas eers die tas in die kas waar Rina se kamerjas hang, daarna groet sy die aanwesiges en wens Rina hartlik geluk met haar verjaardag. Die meisie bedank haar vir die pragtige ruiker en nooi haar vriendelik om te sit.

      Sy neem langs die marquesa plaas en vra belangstellend: “Hoe lyk dit, voel jy darem sterk genoeg om die hospitaal môre te verlaat, Rina-kind?”

      “Ek het vanoggend al opgestaan, señora,” glimlag Rina, “maar señor marquês,

Скачать книгу