Susanna M Lingua Gunstelinge 4. Susanna M Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua страница 19
Dis asof Rina se laaste woorde die man effens laat skrik. Hul gesprek het nou ’n wending geneem wat hom glad nie aanstaan nie.
“Dit is hoegenaamd nie wat ek bedoel het nie,” antwoord hy streng. “Hoe jy ooit daaraan kan dink om vandag na ’n ander hotel te verhuis, gaan my verstand te bowe . . .”
Die binnekoms van die kelner met hul koffie maak tydelik ’n einde aan die gesprek.
Daar is ’n afgetrokke uitdrukking in Rina se oë onderwyl sy haar koffie drink. Sy voel bekommerd dat sy dalk nie sterk genoeg sal wees om haar motor te gaan haal nie. Alvaro is so besig, anders kon sy hom gevra het om haar te vergesel. Sy wonder of sy ma ’n motor kan bestuur. Sy sal die bestuurder van die hotel môre vra om vir haar vas te stel of die voertuig al aangeland het.
Ook Conzalo drink sy koffie in stilte. Hy weet nou vir seker dat hy hopeloos verlief is op Rina, al vertel sy verstand vir hom dat sy allermins die ideale vrou vir hom sal wees. Hy voel bitter teleurgesteld. Maar hoe moes hy weet dat sy sulke skrapse, onbehoorlike rokkies dra? Die aand met die dansparty het sy ma hom verseker dat sy nooit ’n bikini of ’n kortbroek in die openbaar dra nie, dat sy geen sterk drank gebruik nie en ook nie minirokke dra nie. En tog het sy vanoggend die kortste rokkie denkbaar aangehad, dus moes sy opsetlik vir sy ma ’n leuen vertel het.
Conzalo weet nou glad nie wat hy moet glo en wat hy nié moet glo nie. Maar een ding staan soos ’n paal bo water: as Rina sy ma met leuens bedrieg het, sal hy sy liefde vir haar dadelik in die kiem moet smoor. Sy vrou, net soos hy, moet te alle tye as voorbeeld vir sy adellike familie dien en ook ’n voorbeeldige moeder vir sy kinders wees.
Conzalo drink net sy koppie koffie klaar, toe staan hy beslis op. “Ek vrees ek sal nou moet gaan,” sê hy bedaard. “Ons sal jou stellig weer vanaand besoek. Adeus, señorita.”
“Tot siens, señor,” antwoord Rina verlig, “en dankie dat jy my hier by die hotel besorg het.”
“Não tem de quê, dis ’n plesier! Até a vista, tot ons weer ontmoet.”
“Muito obrigado!” glimlag Rina ietwat ondeund. “Adeus, señor marquês.”
Hy kyk etlike sekondes lank diep in daardie lieflike ondeunde oë. Die volgende oomblik draai hy stil om en verlaat die vertrek.
Rina wag ook net totdat sy voetstappe in die gang wegsterf, toe klim sy uit die bed, trek haar kamerjas aan en maak haar voor die venster tuis. Hier verwyl sy die ure deur na die hawe en die verkeer te kyk, totdat daar om halfdrie ’n klop aan haar kamerdeur is.
“Binne!” roep sy sag uit.
Die ou marquesa, Ada de Mora en Carla kom die vertrek binne. Hulle groet Rina vriendelik, verneem belangstellend na haar gesondheid en neem dan op haar uitnodiging plaas.
“Rina, jou stoute kind!” lag die marquesa. “Jy het natuurlik net gewag totdat Conzalo vertrek het en toe dadelik uit die bed geklim.”
“Hoe het u geraai, señora?” glimlag Rina geamuseer.
“Asof ek jou nou nog nie ken nie,” antwoord die ou dame goedig. “Maar vertel vir my, wat het jy vanmôre weer aangevang dat Conzalo in so ’n slegte luim by die castelo aangekom het?” vra sy asof sy van geen sout of water weet nie, asof Conzalo nooit sy griewe teenoor haar gelug het nie.
“O, giftig, dan is hy nog humeurig ook!” lag Rina saggies. “Ek dag hy is net nougeset en konserwatief!”
“Nee, Conzalo was nooit voorheen humeurig nie. Dis jy wat hom so die harnas in jaag,” kom dit glimlaggend van sy ma. “Sedert hy jou ontmoet het, was hy nog nooit weer in ’n goeie luim nie. Nou wil ek weet wat jy vanmôre aangevang het.”
“Ag, ek wou hom maar net ’n bietjie uit sy waardigheid skok, señora,” glimlag Rina ondeund. “Ek het my lippe en my naels bloedrooi geverf en so ’n eina minirokkie aangetrek.”
“Het Conzalo jou uitgetrap, Rina?” wil Carla geamuseer weet.
“Hy het nie ’n enkele woord gesê nie; altans, nie in die hospitaal nie,” glimlag Rina. “Maar hy het my ook nie in daardie toestand na die hotel gebring nie. Hy het eers die bloedrooi lipstiffie en naellak met sy sakdoek verwyder en my daarna so te sê in my kamerjas gestop asof ek ’n bondel wasgoed was. Toe val sy arendsblik weer op my hoëhakskoene en dié het hy ook eiehandig deur my pantoffels vervang . . . Sowaar, die man is onverbeterlik.”
“Wat gaan jy nou met die rok maak wat jy so versnipper het, pequena?” wil die ou dame belangstellend weet.
“Die rok is nie versnipper nie, señora,” glimlag Rina, “dit het slegs ’n breë dubbelsoom gekry. Ek trek maar net die tweede soom los, dan het my rok weer sy gewone lengte. Maar ek gaan dit nie nou al doen nie. Ek hou die rok vir ’n volgende geleentheid. Dis net moontlik dat die señor marquês dalk aanbied om my na die doeanekantoor te vergesel. In daardie geval sal ek weer die rok moet gebruik, want u seun verkeer nou onder die indruk dat al my rokke so kort is.”
“Wanneer moet jy na die doeanekantoor gaan, Rina?” vra sy ma besorg.
“Wel, ek sien die boot waarop my motor is, het die hawe ’n uur gelede binnegevaar. Ek sal dus môre na middagete my motor kan gaan haal. Ek hoop net ek voel môre sterk genoeg om hierdie entjie te bestuur. Dis maar net twee blokke.”
Dit is byna vieruur toe daar weer aan Rina se deur geklop word en tot haar verbasing tree die marquês die vertrek binne.
So ’n ou skelm, dink sy. Hy het gesê hulle sal my vanaand besoek en nou is almal hier. Hy het dit natuurlik opsetlik gesê om my gerus te stel, sodat hy kan sien of ek soos ’n soet kind in die bed sal bly.
“Boa tarde, señorita!” groet hy met ’n opgewekte stem, hoewel sy blik streng en onverbiddelik op haar rus.
“Goeiemiddag, señor,” groet sy ongeërg terug. “Jy sal ongelukkig op die bed moet sit, hier is nie nog ’n stoel nie.”
“Jy vergis jou, señorita. Die bed is vir jou bedoel, nie vir my nie.”
Met hierdie woorde tel hy haar weer op en lê haar saggies op die bed neer. Hy verwyder haar pantoffels en trek die laken netjies oor haar. Daarna neem hy ongeërg op die stoel voor die venster plaas.
Die marquesa en haar suster kan nie ’n glimlaggie bedwing nie. Rina se opstandige gesig is te kostelik om te aanskou.
“Señor marquês,” hoor hulle haar onthuts sê, “ek word nou moeg daarvan dat jy my telkens in die bed stop asof ek ’n kind is.”
“Sodra jy ophou om jou soos ’n kind te gedra, señorita, sal ek nie langer nodig hê om jou soos een te behandel nie. Maar blykbaar het jy vergeet dat ek jou vanoggend op mý verantwoordelikheid uit die hospitaal geneem het. Ek is dus verantwoordelik vir jou welsyn totdat jy volkome aangesterk het.”
“Ek wens ek het jou nooit in my lewe ontmoet nie, señor,” begin Rina ontstoke.
Maar Conzalo val haar bedaard in die rede: “Wensdenkery sal jou absoluut niks baat nie, want jy gaan my nog die volgende twee dae elke dag sien. O ja, jy gaan nog twee dae in die bed bly. Ek kom jou juis sê dat die skip vroeër vanmiddag die hawe binnegeseil het. As jy my jou paspoort en die nodige