Susanna M Lingua Gunstelinge 4. Susanna M Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua страница 18
“En as ek nie wil nie, señor?” vra sy met ’n uitdagende stem terwyl haar oë nie ’n oomblik voor sy streng, vorsende blik weifel nie.
“Dan, señorita,” sê hy afgemete, “sal ek verplig wees om jou eiehandig te verklee en in die bed te sit. Die keuse is joune.”
’n Sagte laggie borrel oor Rina se aanloklike lippe. Sy kyk die man skepties aan en verklaar bedaard: “Toemaar, señor, jy bluf my glad nie. Jy is gans te konserwatief en nougeset om my te verklee en in die bed te sit. Ek is seker dat jy nog nooit in jou lewe eens aan ’n meisie se kaal been gevat het nie, wat staan nog een te ontklee.”
“Daag jy my uit, señorita?” vra die edelman met ’n ernstige stem.
’n Verborge duiweltjie hits Rina aan om te sien of hierdie preutse man haar regtig sal ontklee en in die bed sit. Sy kan nie glo dat hy ooit so iets sal waag nie. Nee, hy is gans te preuts en konserwatief.
“Ja, señor, ek daag jou uit om my te verklee en in die bed te sit.”
“Ek laat my deur niemand uitdaag nie, señorita,” verklaar hy bedaard.
Die volgende oomblik begin hy ongeërg haar kamerjas voor losknoop. Hy lig haar orent in ’n sittende posisie, sodat haar bene van die bed af hang. Daarna verwyder hy haar kamerjas ewe behendig. Rina laat hom maar begaan. Sy wil sien presies hoe vasbeslote hy is om sy wil op ander af te dwing. Sy glo nog nie dat hy werklik sy dreigement sal uitvoer nie.
“Waar knoop ’n mens hierdie skrapse affêre wat jy ’n rok noem, los, señorita?” hoor sy die edelman bedaard hier bokant haar kop vra.
“Dit word nie losgeknoop nie, señor,” antwoord sy en kyk hom met ’n gemaak vroom gesiggie aan. “Daar is ’n ritssluiter op die rugkant van die rok.”
Die marquês buig soos ’n wilgerlat oor haar en bekyk die ritssluiter aandagtig. Rina laat haar hare opsetlik agter oor die ruglyn van die rok val, sodat sy arendsoog nie die sleutel van die ritssluiter sommer kan raaksien nie. Laat hom soek, dink sy. Hy dink mos hy is tot alles in staat.
Sy voel hoe hy haar hare versigtig van haar nek af wegstoot en haar glimlag verbreed. Nou sal sy sien of hy regtig so vasberade is as wat hy voorgee. Die volgende oomblik verstar haar glimlag toe sy hoor hoe hy haar rok agter ooprits. Maar sy troos haarself met die wete dat sy darem ’n onderrok onder haar rok aanhet.
Sy voel hoe sy warm hande die skouers van haar rok vasvat om dit oor haar skouers te trek, maar sy keer hom dadelik deur haastig te sê: “Dankie, jy het nou genoeg gedoen. Ek sal my nou verder self uittrek.”
Hy kom vlugtig orent en kyk haar met ’n blik van oorwinning aan. Die eerste keer sien Rina ’n glimlag om sy mond, ’n glimlag wat haar verraderlike hart drie slae laat mis en toe skielik teen ’n gevaarlike tempo laat klop. Sy voel eintlik duiselig. Sy het altyd gedink hy is ’n aantreklike man. Maar nou dínk sy dit nie meer nie, sy is volkome oortuig daarvan. Sowaar, as hy weer vir haar glimlag, gaan sy flou word van skone ekstase.
Dis meteens asof Rina vir haar eie gedagtes skrik. Maar die volgende oomblik hoor sy die edelman met iets soos spot in sy stem sê: “Is jy seker jy sal alleen kan regkom, señorita?”
Rina vererg haar dadelik vir die openlike spot in sy stem, maar meer nog omdat sý die een is wat eerste die handdoek moes ingooi.
“Natuurlik kan ek alleen regkom!” roep sy kwaad en opstandig uit.
“Ek sien jy is nou kwaad omdat ek vasbeslote was om my dreigement uit te voer,” laat die edelman bedaard hoor onderwyl hy haar streng aankyk. “Dit sal jou leer om my nie weer uit te daag nie. Ek verkies gehoorsaamheid, absolute gehoorsaamheid. Ek is ook nie van plan om verdere uittarting van jou te duld nie. Ek hoop ons verstaan mekaar nou eens en vir altyd.” Hy kyk na sy polshorlosie en vervolg: “Ek gee jou tien minute, dan moet jy in die bed wees. Ek sal self kom seker maak dat jy wél in die bed is.”
Rina wag ook net totdat hy die kamerdeur agter hom op knip trek, toe begin sy haar haastig verklee. Met bitter ontevredenheid klim sy later in die bed, maar baie beslis nie met die doel om die hele dag in die bed te bly nie. O nee, die baasspelerige man het haar nog nie heeltemal uitoorlê nie. Sy wag maar net totdat hy vertrek, dan staan sy dadelik op. Nie hy en sy hele geslag gaan haar in die bed hou nie!
Daar is ’n opstandige blik in haar oë toe die edelman na tien minute haar kamer binnetree. Syne weerspieël slegs goedkeuring en tevredenheid.
“Ek het vir ons koffie bestel,” kondig hy terloops aan onderwyl hy vir hom ’n stoel langs die bed trek en plaasneem.
O, maggies, dink Rina paniekerig, hy moet nou nie lol om die hele dag hier langs my bed te sit nie! Dit sal ’n ramp wees. Ek durf nie die hele dag hier in die bed vertoef nie. Ek moet opstaan sodat ek aangetrek kan kom, anders sal ek nooit môre my motor kan gaan haal nie.
“Señorita,” gaan hy voort, “vertel my nou waarom jy jou vanoggend so pynlik mismaak het met daardie aaklige, uitspattige lipstiffie en naellak. Ek is dit nie van jou gewoond nie. Jou beskeidenheid tot dusver wat jou grimering betref, het nog altyd my respek afgedwing. Maar ek vrees jy het vanoggend skokkend gelyk, presies soos ’n goedkoop flerrie. Wat het in jou gevaar?”
“Ek kry maar soms sulke bevliegings, señor,” jok sy sonder om te blik of te bloos. “Ek dink weer ek het vanoggend besonder modieus gelyk.”
“Moenie jok nie, jy was glad nie so ’n mening toegedaan nie. Waarom het jy dit gedoen?” hou hy vol. Sy donker blik wyk ook nie ’n oomblik van haar bekoorlike gesig nie.
“Ek sê mos.”
“Wat jy gesê het, is nie die waarheid nie,” val hy haar bedaard in die rede. “Vertel my nou asseblief die waarheid.”
“O, nou goed, ek sal jou die waarheid vertel,” antwoord sy ontstoke. Die openlike woede op haar gesig laat die marquês se streng oë dadelik opflikker met ’n lig van tevredenheid. “Ek het opsetlik daardie uitspattige grimering aangewend om jou te skok, my geagte outokraat, en ek is bly dat ek daarin geslaag het. Onthou net een ding: ek is nie ’n lid van jou familie nie, gevolglik sal ek doen wat ek wil.”
“Jy is ’n vriendin van my familie,” herinner hy haar met steurende kalmte.
“Dit sê niks nie . . .”
“Dit sê baie. Wat sal ons vriende en familie daarvan sê as hulle die De Valcadas en De Moras in so ’n . . . e . . . modieuse dametjie se geselskap sien?”
“Jy het regtig niks te vrees nie, señor,” verseker Rina hom, nou ook bedaard. “Dit is nie my gewoonte om my aan mense op te dring nie. Ek maak ook nooit van mense se vriendskap misbruik nie. Jou vriende en familie sal dus nie die geleentheid kry om my in jul adellike teenwoordigheid te sien nie, in elk geval, nie in die De Valcadas en De Moras se geselskap nie.”
“Dit gaan nie daaroor nie, señorita,” weerspreek hy haar. “Die De Valcadas, De Moras en Peredas is baie lief vir jou.”
“Ek is self ook lief vir jou familie, señor. Maar as jy bang is dat ek dalk ’n uitnodiging