Die ewigheid in my hart. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos страница 16

Автор:
Серия:
Издательство:
Die ewigheid in my hart - Barend Vos

Скачать книгу

my vrymaak om nuut te begin.

      Ek wil die nuwe weg nougeset bewandel.

      Ek weet dat dit ’n smal paadjie is

      en dat u aanwysings baie spesifiek is,

      met geen moontlikheid vir misverstand nie.

      Dit maak my bly, Here, want dit is juis

      by die grys gebiede waar ek so sukkel.

      By die onsekerheid wat keuses meebring.

      Sien, ek vertrou nie my eie oordeel nie –

      en U weet mos dat ek genoeg rede daartoe het.

      Daarom is u bepalings vir my ’n bevryding.

      Maar, Here, ek kan nie wegkom van die vrees

      dat juis dít my opnuut vasbind nie:

      my mikro-moraliteit téénoor u uitbundige liefde.

      Dat ek my so laat verstrengel deur “moet”

      en “moenie”, dat ek my sekerhede daar gaan soek,

      en gruwelik nalaat om lief te hê.

      Daarom, as ek weer mag vra:

      Neem my by die hand, Here, leer my.

      Wees asseblief geduldig met my

      en my oormoedigheid.

      Leer my om Ú te vertrou,

      en nie my idee oor U nie.

      Wys my nóg ’n keer die regte pad.

      Lees Psalm 25:15-22 | 10 Februarie

      My oë is op U

      Ek kyk op na U, o Here. My hulp kom van U af.

      Ja, ek kyk doelbewus óp, want wanneer ek afkyk,

      sien ek net die verraderlikheid van die paaie.

      En dit verwar my –

      die verskeidenheid moontlikhede.

      Dit konfronteer my weer

      met die soort keuses waarmee ek nie goed is nie.

      Daarom hou ek my oë op U gerig – dit is veiliger.

      En dit laat groei in my die sekerheid van u nabyheid.

      Dit vul my met entoesiasme, afwagting.

      Dit bring selfs ’n opgewonde vraag:

      Wát is die Here vir my aan ’t beplan?

      Daarom wil ek tog vra, Here, dat U onthou

      dat ek hierin alleen is. Dat daar niemand is

      wat my arms hoog hou nie. Ek het net vir U.

      Neem dan nou alles weg

      wat my van U kan skei.

      Help my in my magteloosheid.

      Gee my ’n nuwe asem,

      want hierdie dinge maak my nou benoud.

      My bekommernisse neem weer toe.

      Dit voel al minder na lewe;

      ek steier van die een krisis na die ander.

      Ag, Here, nou lyk dit boonop die ou vyande is terug;

      daar is eensklaps weer ’n opwelling van teenstand.

      Daar is steeds meer mense in wie se oë ek weersin sien.

      Ek krimp opnuut ineen.

      Maar my oë bly op U.

      Wanneer gaan U my help?

      Wanneer gaan U na my begin kyk?

      Lees Psalm 26 | 11 Februarie

      My nuwe kring

      Here, ek sweer: Dié keer het ek dinge reg gedoen!

      My beste. Ek het net op U vertrou.

      Ek hou my nie meer met kleinlikheid op nie,

      ek meng my nie met die semels nie –

      lankal nie meer nie.

      En ek wou nou sê:

      U kan maar kom kyk as U my nie glo nie …

      Maar toe onthou ek met wie ek praat –

      vergewe my!

      Vergewe my, want ek weet U sien deur my.

      U weet ook dat ek afskeid geneem het

      van daardie soort geselskap.

      Dat ek regtig nie meer daar wil wees nie.

      Dit is net … dat ek soms die kameraadskap mis.

      Die “kring van die spotters” – soos hulle laggend self sê –

      wil my steeds by hulle tel.

      En, Here, vergewe my,

      ek is maar net ’n mens –

      ek wil ook, iewers, getel word.

      Tel Ú my op, asseblief!

      Hou my by die water

      waar ek my hande kan was,

      sodat ek hulle na U kan ophef.

      Gee my ’n nuwe wysie, leer my die woorde,

      sodat ek ’n lied kan sing wat verklaar:

      “God is groot! God is goed!”

      Dalk hoor my gewese vriende dit.

      Dalk help dit hulle …

      Dit sal in elk geval my nuwe lied bly,

      nommerpas vir my nuwe tuiste

      hier by U en u ander kinders: my nuwe kring.

      Hier word ek gesien en gehoor, hier tel my stem.

      Hier bevind ek my op vaste grond.

      Lees Psalm 27:1-6 | 12 Februarie

Скачать книгу