Die ewigheid in my hart. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos страница 17

Автор:
Серия:
Издательство:
Die ewigheid in my hart - Barend Vos

Скачать книгу

lig en my heil

      Here, omdat U my wegkruipplek is,

      omdat U vir my lig maak,

      is ek nie bang nie.

      Vir niemand en niks – hulle kan maar kóm!

      Daar was deur die jare heen ’n hele versameling

      ellendelinge wat my wou leed aandoen.

      Soms het hulle dit reggekry.

      Toe het dit seergemaak.

      Nou lag ek vir hulle.

      Hulle het mos hul eie moeilikheid;

      hulle val soms oor hul eie voete

      (of is dit U wat hulle pootjie?).

      Ek het my vrees vir hulle verloor.

      Ek het my Here – en dit is genoeg.

      U is genoeg.

      Dit sal vir my genoeg wees om in u huis te mag woon,

      om dag en nag in u teenwoordigheid te verkeer.

      Om eerstehands te kan sien wie U vir my is.

      Dat ek in stilte daaroor kan nadink

      en in die gewydheid hieroor besin:

      Die Here is my lig en my heil.

      Daarom vra ek, smeek ek U:

      Gooi u huis se deure vir my oop.

      Laat dit vir my die tuiste word

      waarna ek smag, die vastigheid

      waarsonder ek nie kán nie.

      Só sal ek kan neerkyk

      op hulle wat my haat.

      En van hier sal almal my kan hoor as ek dié noot

      met die onwrikbare suiwerheid van ’n kleuter vat:

      “Kinders van die Here het niks om voor bang te wees!”

      Lees Psalm 27:7-14 | 13 Februarie

      My Vader, my Moeder

      Here, U is vir my soos ’n pa.

      Dit is na U toe wat ek vlug as ek gedreig word,

      wanneer ek oor my skouer loer en op hulle skreeu:

      “Wag maar, ek gaan my pa sê! Hý sal julle kom regsien!”

      En, Here, U is vir my soos ’n ma.

      Wanneer ek skree-skree na U toe hardloop,

      raap U my op en druk my teen u bors vas, en dan sê U:

      Toemaar, toemaar, my kindjie!

      U sal my nooit wegwys nie,

      U sal nooit te besig wees vir my nood, my trane,

      my gekrenkte trots, my stukkende hart nie.

      U sal nooit so kwaad wees oor wat ek al weer

      aangevang het dat U u rug vir my draai nie.

      Nee, Here, u liefde is sonder voorwaarde,

      sonder verwyt. Altyd met ope arms, sagte oë.

      Dit is U wat my pad gelykmaak,

      dit is ook U – moet ek skaam-skaam sê –

      wat altyd die gemors agter my opruim.

      U klap vir my hande, U huil saam met my.

      U vou u arms soos ’n skans om my,

      U tel my op, sodat niks en niemand

      my kan bykom nie, hoog,

      dat ek ver kan sien en groot kan droom.

      Here, my Vader, my Moeder,

      sonder U is ek niks.

      Sonder U kry ek nie koers nie.

      Wag ek vergeefs op iemand

      wat hom oor my sal ontferm,

      een wat haar oor my sal bekommer.

      Wees asseblief áltyd ’n God vir my:

      Tel my op, Pappa!

      Hou my vas, Mamma!

      Lees Psalm 28 | 14 Februarie

      Dit is weer ek, Here

      Here, dit is weer ek hier,

      ék wat so knaend roep:

      Hoor U my nog?

      Sal U my asseblief antwoord?

      As U nie u oor na my toe draai nie,

      sal ek dit nie oorleef nie.

      Kyk, soos altyd steek ek my hande na U toe uit –

      neem dit, Here! Vou dit toe in u vaste greep.

      Ek het niks met daardie geraasmakers te doen nie;

      skeer my asseblief nie oor dieselfde kam nie.

      Wanneer U met hulle afreken, gaan maar by my verby.

      Hóór hulle, Here!

      Hoor hoe roep hulle “vrede, vrede” sodat die mense moet juig.

      Kyk hul soetlike glimlaggies, hul vrome kniebuigings.

      Maar hulle is vol venyn, hatig. In hul hart beplan hulle moord.

      Hulle het ’n eie agenda, Here. Hulle sal ook vir U probeer bluf.

      Maar U is nie hul speelmaat nie.

      U lag nie vir hul grappies nie,

      U het nie tyd vir hul bedrog nie.

      Stuit hulle, Here! Maak hul boosheid tot niet.

      Laat die ellende wat hulle beplan op hul eie kop afkom.

      Hulle het geen respek vir wat U doen nie –

      en daarom kan U maar met hulle maak soos U wil.

      As ék mag voorstel:

Скачать книгу