Die ewigheid in my hart. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos страница 19

Автор:
Серия:
Издательство:
Die ewigheid in my hart - Barend Vos

Скачать книгу

knoop hulle vas in hul verraderlikheid,

      Uiteindelik val hulle in hul eie strik.

      O Here, vergewe my, maar ek haat hulle.

      Daardie vrome kniebuigings voor hulle

      ou simpel godjies walg my.

      En dan sien hulle kans vir my –

      vir mý, wat uit ú hand lewe!

      Ál my vastigheid vind ek in U.

      U goddelike greep is my versekering

      teen alles wat die bose my toewens.

      Kyk tog nou, julle almal! Kyk, hier staan ek.

      Fier. Onbevrees. Ek kán nie anders nie:

      Ek staan my plek vol

      in die Here se hand.

      Lees Psalm 31:10-21 | 18 Februarie

      Kyk net hoe lyk ek!

      Here, ek skaam my oor hoe ek lyk.

      Ek kruip weg. As die bure my só sien,

      trek hulle die gordyne dig.

      Jy kan kinders bang maak met só ’n gesig.

      Ek is besig om uit te teer.

      As ek die luike saans toemaak

      en teësinnig in die spieël gaan kyk

      of dit steeds lyk soos gisteraand, dan skrik ek:

      My oë wat agter in my kop sit, die donker kringe.

      Die hol, ingevalle wange; die vel wat oor my skedel span.

      Dit is waarskynlik net Ú wat weet dat my uiterlike

      bloot die simptome wys. My gesig stal net my hart uit.

      Ja, die ellende lê veel dieper – en U weet dit.

      Net U.

      Ek wil nie eens probeer raai wat die mense sê nie.

      Daar is dié wat hulle verlekker in my opsigtelike leed.

      En ek kan my indink dat daar baie praatjies is,

      ’n aanhoudende gefluister op straat:

      Het jy gehoor …? Het jy gesien …?

      Daar is ook baie wat dit goed bedoel,

      hulle wat opreg bekommerd is.

      Dalk vermoed hulle die waarheid;

      waarskynlik is hulle bloot te ordentlik

      om uit te vra. Dalk gee hulle nie genoeg om nie.

      Ek is in elk geval te moeg om weerstand te bied,

      Here, te gebroke vir ’n geveg.

      Laat hulle dink en sê wat hulle wil.

      Laat dié wat op my wil trap

      terwyl ek lê, dit maar doen.

      Ek is volledig aan U oorgegee.

      As U wil, kan U dit alles keer.

      My tye is in u hand.

      Lees Psalm 31:22-25 | 19 Februarie

      Hou moed!

      Here, ek weet dit is ’n goedkoop troos

      om vir mense wat swaar kry en seer het,

      maklik-maklik toe te roep: “Hou net moed, hoor!”

      Wat weet een mens van ’n ander se seer en swaar?

      Hoe durf jy ligweg daaroor gaan?

      Miskien moet jy eerder stilbly; sê liewer niks.

      Oppervlakkige bemoediging is ’n belediging.

      Vergewe my daarom vir die baie kere dat ek niks

      gehad het om te sê nie en toe sommer gegryp het

      na die eerste goedkoop sêding –

      in die waan dat ek troos.

      En ek weet, Here, dat ek dikwels te maklik

      van mý belewenisse vertel. Dat ek

      – hoekom weet ek nie – ’n gesprek oorheers

      met anekdotes oor mý ervarings met die Here.

      (Ag, ek dink ek weet waarom ek dit doen. Erkenning.

      Eie eer. Dat mense kan dink: Wat ’n voorbeeld vir ons!)

      Ten spyte van alles, Here, hoop ek dat U weet

      hoe dankbaar ek is dat U my herhaaldelik

      uit slegte situasies red. Soos nou die dag weer,

      toe ek so bang was. Toe ek getwyfel het aan U.

      (Geen voortreflike voorbeeld hiér nie!)

      Toe ek gedink het U het my uit die oog verloor.

      Toe roep ek mos, ek skreeu: “Here, help!”

      En toe fluister U: “Hou moed!

      Ek is die hele tyd by jou.”

      U hoef nie bang te wees dat ek dié storie sal oorvertel nie.

      Ek sal nie weer ander mense probeer beïndruk

      deur verhale oor U waarin ek die hoofrol speel nie.

      Ek sal dalk net sê: “Hou moed!

      Die Here is by ons.”

      Lees Psalm 32:1-7 | 20 Februarie

      U het my skoongemaak

      Here, ek is skoon, omdat U my gewas het.

      Gesond, omdat U my genees het.

      Ek is geseënd, omdat U my seën.

      Vergewe my dat dit so baie tyd gekos het

      om dié waarheid te snap.

      U sê dit al só lank, aanhoudend …

      Maar

Скачать книгу