Die verdwyning van Mina Afrika. Zuretha Roos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die verdwyning van Mina Afrika - Zuretha Roos страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Die verdwyning van Mina Afrika - Zuretha Roos

Скачать книгу

– drie lang fluite; drie sekondes stilte, en weer drie langes. Erik glip uit sy warm slaapholte langs Sara.

      Op plase dwarsoor die vallei, in die nanagdonker, lui ou slaweklokke of blaas sirenes en fluite. Nou word die dae lank en uitputtend, want die druiwe moet af. Erik se trekkers en sleepwaens ry van oggenddonker tot skemeraand die wingerde in en weer terug met die rottangmandjies vol druiwe. In die stoor, wat na vertrapte korrels en mos ruik, sit die rye uitknippers en pakkers langs lang houttafels. Hul behendige vingers hanteer die pers en groen trosse vinnig maar lig, want die vaal blos op die korrels mag nie afvryf nie. Raak hande reik na die reuse-uitvoertrosse met hul toepaslike Afrika-fatsoen, draai hulle blitsig toe in sagte wit papier en lê hulle weg in die plankkissies in skoongewaste houtwol. ’n Laaste lagie houtwol bo-oor, en dan gaan die kissies na die kissieslaners verder agter in die skuur.

      “Doef-doef-doef-doef” spyker vernuftige hande heeldag die houtdeksels vas, en ander hande stapel hulle op mekaar. Teen die laatmiddag staan die Chev-lorrie langs die groot oop bek van die skuur en haastig word die vragmotor gelaai. Oom Tienie skakel die enjin aan sodra die lorrie hoog gelaai is, en wag vir die krete van “Reg, Ouwaas!” Dan ry die Chev dreunend met die pad langs die weikamp op, draai by die hoofstraat in, stasie toe. Agter op die vrag kissies sit ’n paar werkers. Met die einde van die lang dag in sig en met die son in die weste, lag hulle weer maklik, en skree langs die dorpstrate vir die bruin vrouens met hul swaaiende heupe: “Niks daa’ nie!”

      In die pakstoor werk die pakkers voort. In rottangmandjies by een van die oopskuifdeure staan die afvalkorrels en uitskottrossies en wag om na die wynkelder geneem te word.

      Soms brand die ligte in die skure tot tienuur, elfuur, om die eerste vrag van die volgende môre verpak te kry sodat dit vroeg-vroeg in die koelte kan weg na die enorme goedereloodse in die stasie, waarvandaan dit per trein na die koelkamers by die Kaapse dokke gaan.

      Party middae stap ou Tietser met haar groot lyf en met klein Mina aan die hand stadig in die plaaspad langs die weikamp op na die De Graaffs se huis. Sy bring ook Mina se wasgoed, sodat Baba dit in die wasmasjien kan was, en kan stryk.

      Soms sit Tietser en Sara buite langs die grasperk op rottangstoele en kyk hoe Mina, Sanet en Schoeman Oortzen jil en speel. Sara leer hulle speletjies soos “Ring-a-ring-a-rosy” en, as daar ander maatjies of bruin kinders van die plaas ook is, speel hulle onder groot gejil “Vroteier” of “Wolf, Wolf, hoe laat is dit?” Dis gewoonlik klein Schoeman wat die wolf wil wees, en met vreeslike geluide omdraai om die gillende kinders oor die grasperk te jaag wanneer hy “Twaalfuur!” roep. Sara en Tietser verkneukel hulle in die kinders se oorgawe.

      “Ek wens ek het ’n rolprentkamera!” sê Sara meer as een keer. “Kyk net die uitdrukkings op die gesiggies …!”

      Oor Mina word daar graag in die Vallei gepraat. “Ek het mos gesê dit sal gebeur. Noudat sy haar eie kind verwag, nou word die hotnoskind uitgeskuif, en tog maar goed ook so …”

      “Ag, dit was ’n dwase ding – skandalig – wat Erik en Sara aangevang het! Dit moes end kry. Net jammer die bruin kind is glo tot in “die afgrond bederf …”

      “… En wat as ou Tietser iets moet oorkom? Daardie kind sal mos nie meer in die lokasie aanpas nie! Klaar wit!”

      “En arme ou Tietser Meraai sit op haar oudag met ’n kleuter! Wys jou net: die kind moes van die begin af in die lokasie gebly het waar sy hoort.”

      Sara voel beter soos die maande van wag verbygaan, maar Erik belet haar om Mina weer voltyds in die huis te neem. Sy kom wel soms oorslaap wanneer Sara mooipraat, maar Erik is vasbeslote dat sy nie weer kan intrek nie.

      “Ek is tog nie lus dat die onaangenaamheid oor Mina weer begin nie, Sara. Een van die dae het jy die kinderkamer vir ons eie kind nodig …”

      Maar Sara se dokter se woorde bly haar by; maak haar meer vasberade om Mina nie aan haar lot oor te laat nie: “Ja, die mense praat, maar Mina is myns insiens die direkte rede dat jy swanger geraak het: met die kind in die huis, op wie jy jou liefde kon uitstort, het jy ontspan en siedaar! Dit gebeur nogal baie. ’n Kinderlose egpaar sal byvoorbeeld ’n kind aanneem, en dis nie lank nie dan vind die vrou uit sy is moeiteloos swanger!”

      In die stilligheid maak Sara planne, en een koue wintermiddag besluit sy dit is nou die geleentheid om te praat.

      “Tietser, ek bly by wat ek jou laas jaar gesê het oor Mina …” Hulle twee sit en tee drink en kyk hoe die kinders met Schoeman se karretjies speel. “As Mina so tien of elf is – dalk vroeër – wil ek haar terughê. Jou jare stap ook aan …”

      Sara en Julia de Graaff giggel oor die feit dat hulle albei daardie Desember van 1946 swanger geraak het. Julia, wat fyn en broos lyk, het egter ’n probleemlose swangerskap; die normaalweg gesonde, rooiwang-Sara is bleek en tam, en nege maande lank nooit haarself nie. In September word hul babas twee dae uit mekaar gebore. Julia se baba is weer ’n dogtertjie. Hulle noem haar Ansie. Erik en Sara het ’n fris en gesonde seun, en hulle vernoem hom na sy oupagrootjie: Sarel Johannes de Graaff. Die Vallei se mense lag goedig in die dorp, want Erik loop met ’n permanente glimlag op sy gesig rond. Hulle stuur stapels geskenke en arms vol blomme na die huis en die kraaminrigting. Die episode met Mina Afrika is vergewe. Tydelik.

      Tietser Meraai se tweevertrekhuisie staan alleen op ’n werf omring met wingerdblokke. Voor die agterdeur is ’n reusevyeboom. Daar is ’n ry verknotte ou kweperbome neffens die wingerde aan die oostekant, ’n grenadillaheining aan die spruit se kant, ’n woeste granaatbos, en opslaankappertjies al rondom die wit mure.

      In die kombuis staan ’n witgeskropte tafel waaroor Tietser soms ’n bont tafeldoek gooi, ’n dresser met haar beste breekgoed, ’n koskas met ogiesdraad in die deurtjies, vier kombuisstoele, twee veldstoeltjies met riempiesitplekke, en ’n Welcome Dover-stoof. Langs die stoof is die houtkas met fynhout en ou koerante. In die hoek naby die deur staan die werfbesem en ’n ingeduikte ou emmer met kole vir die stoof.

      Die ander vertrek is Tietser se slaapkamer. Haar groot dubbelbed het ’n kopstuk en voetenent van kopertralies. Die bed is altyd spierwit oorgetrek, en die gansdonskussings het valletjieslope. Teen die voetenent is ’n kanferkis waarin Tietser ekstra lakens en kussingslope en komberse bêre. Teen die een muur staan ’n hoë embuia-wardrobe wat ’n diep laai onderin het. Tietser se dreskas is langs die een venster. Voor die twee vensters hang gordyntjies van geel-en-wit ruitjiesgoed wat bol maak as die wind deur die vensters waai.

      Mina, nou ses jaar oud, is ’n vrolike babbelbekkie. Tietser, voel sy, luister goed na haar, amper asof sy ’n grootmens is. Mina weet ander grootmense luister nie regtig mooi wanneer kinders met hulle praat nie.

      Sy en Tietser bak vanmiddag pannekoek.

      “Gaan die Keurbosspruit weer hierdie somer afkom en in baas Erik se wingerde oorloop?”

      “Net as daar ’n groot donderstorm kom, en as dit baie bo in die kloof by Keurbos reën.”

      “Is Tietser bang vir donderweer?”

      “Nee. Hulle sê daar bo in die Transvaal word die weer vreeslik swaar, maar vir onse Vallei se donderweer hoef ’n mens nie bang te wees nie. Toe, roer beter; ek wil nie klonte in die mix hê nie!” Mina het aanvanklik ’n paar keer gevra wanneer sy teruggaan na Missara en baas Erik. Tietser se: “Nee, ek sal nie weet nie …” het haar nie juis gepla nie. Deesdae vra sy nie meer nie. “Ek het twee huise!” het sy self op ’n dag verklaar toe Sara se tweede baba pas gebore is.

      Sara se klein Sarel is nou al byna twee jaar oud. Aanvanklik was Mina jaloers op die baba, maar toe die tweede seun, Pieter,

Скачать книгу