Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux страница 26
“Ek weet.” Sy drink haar koffie en kyk verby hom.
“Waarom is jy dan nog steeds so boos?”
Sy haal haar skouers op. “Ek het jou al vantevore gesê: dis ’n oerreaksie. Ek kan dit self nie verklaar nie. Ek wil nie in ’n teekamer inloop en my man saam met ’n ander meisie sien sit nie. Dis so eenvoudig soos dit.”
Hy kyk vinnig na haar, ’n onleesbare emosie op sy gesig. “Ek is jammer. Ek het nie besef jy dink aan my as jou man nie.”
“Ek ook nie – nie my man in die gewone sin van die woord nie. Jy is eerder my goeie vriend, maar tog.” Sy kyk hom beskuldigend aan. “Sal jy daarvan hou as jy my saam met ’n ander man sien sit?”
“Nee,” sê hy dadelik.
“Nou ja? Daar is nie ’n verklaring vir die gevoel nie, dit is net so.”
Hy is nie so seker daarvan nie, maar sê dit nie.
“Hierdie Wilhelm,” sê hy dan versigtig. “Was jy e … lief vir hom?”
“Ek moet gewees het, waarom anders het ek gedoen wat ek gedoen het? Of meer korrek: ek het gedínk ek is lief vir hom.”
“En hy. Was hy lief vir jou?”
Sy skud haar kop. “Dit sal ek regtig nooit weet nie. Ek dink nie so nie. Ek dink Wilhelm was so gewoond daaraan om te kry wat hy wou hê dat hy nooit ernstige gevoelens gehad het nie. Ek dink nie hy weet wat liefde is nie.”
“Dis ’n algemene toestand.”
Sy kyk verbaas na hom. “Bedoelende?”
Hy lyk ongemaklik. “Ek dink mense verwar dit maklik met iets anders of … Dis ’n vaardigheid wat jy vroeg in jou lewe moet aanleer en as dit nie gebeur het nie, sal jy nooit weet nie.”
Sy antwoord nie, sit net na hom en kyk. Praat hy nou van homself? Kan hy niemand liefhê nie, omdat hy so liefdeloos grootgeword het? Voordat sy egter iets kan sê, staan hy op, baie doelgerig.
“Ons het ’n plaas wat vir ons wag,” sê hy. “Ek kan nie heelmiddag in kafees rondsit nie.”
“Dis nie my skuld as jy van een meisie na die ander beweeg nie,” sê sy kalm. “Ek weet nie wat jou kennisse van jou moet dink nie.”
Hy gee ’n skewe glimlag, begelei haar na haar motor, maan haar om versigtig te ry en stap dan terug na sy bakkie.
Julia dink die res van die middag aan wat hy gesê het en daardie aand roer sy die onderwerp weer aan.
“Was jy al ooit lief vir iemand?” vra sy. Omdat dit koud genoeg is, het hulle ’n vuur in die kaggel aangesteek en sy sit knus op die bank, haar bene onder haar ingevou, haar oë op die vlammende stompe.
Hy laat sak die koerant wat hy gelees het. “Is jy in ’n bui vir ontboeseminge? vra hy.
Sy kyk hom streng aan. “Ek het jou van Wilhelm vertel en wat jy vanmiddag gesê het, het my laat dink. Ek, wat grootgeword het met liefdevolle ouers en dus wat jy sou noem ’n kennis van liefde, het so ’n fout gemaak, my so misgis. Jy het nie. Wel, nie so ver ek weet nie.”
“Nee,” sê hy ontegemoetkomend.
Sy kyk hom gebelg aan. “Watse soort antwoord is dit? Nee wat?”
“Ek het nie so ’n fout gemaak nie.”
“Presies,” sê sy tevrede. “En ek wil weet waarom nie.”
“Omdat ek hoegenaamd geen kennis dra van liefde nie, afgesien van die eerste ses jaar van my lewe.”
“Was jy nooit verlief nie?” vra sy nuuskierig. “Toe jy ’n jong seun was?”
“Ek veronderstel so,” gee hy teësinnig toe. “Maar net op ’n afstand. Ek het nooit iets daaromtrent gedoen nie; ek was te bang.”
“Waarvoor? Die meisies?”
“Miskien.”
Sy dink ’n ruk lank hieroor na. “Maar was jy lief vir oom Septimus?”
“Dit was iets anders,” protesteer hy. “Hy was ’n vaderfiguur.”
“Ja, maar tog. As jy in staat was om een mens lief te hê, beteken dit jy is ook in staat tot die emosie.”
Hy rol sy oë. “Moet ons so diep delf?”
Sy lag. Wat sy eintlik wil weet, is presies hoe hy oor Wilma voel. Hy het al dikwels gesê sy is net ’n vriendin, maar sy is nie so seker daarvan nie. As sy wat Julia is, nie in sy lewe verskyn het nie, sou hy wel die een of ander tyd met Wilma getrou het, daarvan is sy seker.
“Was jy dikwels verlief?” vra hy skielik.
“Nee. Ja. Ek weet nie. Ek veronderstel so.”
“Dis vier antwoorde.”
Sy haal haar skouers op. “Ek het selfs vóór die gemors met Wilhelm ’n effens siniese uitkyk gehad,” erken sy. “Ek was skepties oor die maanskyn-en-rosegeur-storie. Liefde het vir my na die soort ding gelyk wat ’n mens jou kop laat verloor.”
“Waarom het jy dan toegelaat dat Wilhelm jou so manipuleer?”
Sy staar na die vlamme, haar gedagtes ver. As iemand anders hierdie vraag gevra het, was sy nou kwaad, juis omdat sy dit al soveel keer self gevra het.
“Hy was baie aantreklik,” erken sy. “Dit het my blind gemaak aan die begin. En baie sjarmant. Oordrewe manlik voor ander mense, maar nie regtig nie. Hy het my die indruk gegee dat hy eintlik onseker is van homself, dat my ondersteuning en liefde baie belangrik was.” Daar is ’n siniese trek om haar mond. “Ek was seker gevlei; ek het myself gesien as die een wat sy selfvertroue sal opbou. By my kon hy ontspan, homself wees.”
“En die hele tyd het hy jou verkul?”
Die lyne keep weer langs haar mond, haar oë word koud. “Ek veronderstel so. Maar genoeg nou hiervan.”
“Ek stem saam.” Hy tel weer die koerant op. “Wanneer kom jou ouers?”
“Volgende week.” Haar gesig verhelder. “Dit gaan so lekker wees. Gee jy nie om dat my mense so knaend kom kuier nie?”
“Knaend?” vra hy met geligte wenkbroue. “Dis die tweede besoek in ses maande. Dis nog net Sandra wat hier was.”
Sy vind dit nogal vreemd toe haar ouers ’n week later op die plaas aankom, want vir hulle is alles bekend, bekender as wat dit vir haar was toe sy daar aangekom het. Haar ma vertel hoe sy vir oom Septimus raad gegee het oor die kleurskema van die gastekamer, hoe hulle die modernisering van die kombuis bespreek het.
“Wel, Ma het goeie raad gegee,” erken Julia. “Alles is nes ek daarvan hou. Ma kan sien ek het niks verander nie.”
Die eerste aand sit hulle voor die kaggelvuur en haar pa vra André uit na