Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux страница 21
“Is jy seker? Is jy nie net beleef nie?”
Hy skud sy kop. “Glad nie. Dis baie lekker. Dankie.”
“Jy moes lankal gesê het. Is daar nog goed waarvoor jy lus is, maar wat jy verswyg uit beleefdheid?”
“Bredies,” sê hy, “noudat dit koud word. Mieta kan nie bredies kook nie.”
“Ek is die koningin van bredies,” sê sy ernstig. “Uit luiheid, sien. Ek was te lui om saans ’n hele spul kastrolle vuil te maak; dis soveel makliker om alles saam te gooi.”
“Dis nie nodig dat jy vir my kook nie,” sê hy dadelik. “Mieta doen haar bes.”
Sy kyk hom ’n ruk nadenkend aan. “Ek gee nie om nie. Terwyl ek hier is, kan jy netsowel van my talente gebruik maak.”
Die keer is dit sy beurt om haar met ’n verskerpte blik aan te kyk.
“Dis nie wat ek bedoel nie,” sê sy vinnig en sy voel hoe haar gesig rooi word. “Ek bedoel as daar ’n dis is wat ek kan maak en jy is toevallig lief daarvoor en …”
“Ek weet wat jy bedoel,” sê hy.
Afgesien daarvan dat sy al haar uithalerbredies begin kook en dan met onverklaarbare genot sit en kyk hoe hy dit geniet, maak sy ook die eerste keer kennis met die verwerking van vars geslagte vleis. Sy het verwag om haar dood te gril, maar vind dit nogal bevredigend, veral toe sy daarna die vrieskas kan oopmaak en kan kyk na die netjies verpakte vleis. Sy sien nie kans vir biltong maak nie, maar staan gefassineerd en kyk hoe hy dit doen.
“Volgende winter sal ek weet hoe om dit te doen,” sê sy voordat sy besef wat sy sê. “Ek bedoel, ek weet nou hoe.”
Hy kyk net na haar sonder om kommentaar te lewer, maar sy vind dat sy al hoe meer soos ’n eggenote begin optree. Dis iets wat sy rasioneel probeer wegdink en emosioneel nie kan keer nie. Met Wilhelm het sy die tradisionele vrouerol vervul, ten minste aan die begin, maar dit was voordat sy haar vingers verbrand het. Dit was soos ’n rol wat sy vertolk het, omdat dit vir hom belangrik was dat sy in die openbaar en voor hulle vriende as die onderdanige metgesel voorkom. Sy het hom jammer gekry; hy het die sekuriteit nodig gehad wat sy hom blykbaar gegee het. En die hele tyd het hy sy planne gesmee.
“Ons koop die huis en sit dit op ons albei se name,” het hy gesê. “Dan is jy beveilig. Wanneer ons getroud is … ’n Mens weet nooit nie, enigiets kan gebeur.”
Sy het hom geglo, waarom sou sy nie? Haar hande was vol genoeg met die nuwe onderneming wat sy en Sandra begin het. Sy het die papierwerk, die formaliteit in sy – soos sy gedink het – bekwame hande gelos. Sy was naïef, dit weet sy nou; sy het nooit eens gevra om na die kontrak te kyk nie. Gelukkig is soveel van hierdie planne voor vriende en selfs haar ouers bespreek; dit het sake vergemaklik tydens die hofsaak, maar dit was ’n lang en bitter geveg, so onsmaaklik dat sy nou nog rillings kry wanneer sy daaraan dink. Veral wanneer sy sy selfgenoegsame gesig onthou, die manier waarop hy triomfantlik na haar gesit en kyk het in die hof, doodseker dat hy alles wat sy besit het, netjies van haar gesteel het: die huis, die meubels, alles.
Maar sy het gewen, miskien bloot omdat die regter simpatiek was teenoor vroue wat hulle laat inloop deur gewetenlose mans. Wilhelm moes die huis teruggee en die hofonkoste betaal. Kaal uitgetrek, het Sandra gesê. Maar die wraak was bitter; niemand kon haar vergoed vir twee jaar se vertroue wat sy in ’n man gehad het en verloor het nie.
Sy weet nie of sy ooit oor die skok sal kom van daardie aand toe sy teruggekeer het na haar huis ná ’n langnaweek by haar ouers en haar sleutel nie die voordeur wou oopsluit nie.
Sy het in die donker gestaan en sukkel en oplaas die klokkie gelui sodat Wilhelm vir haar kon oopmaak. Sy kon dadelik sien iets is verkeerd; die atmosfeer was anders. In die sitkamer het ’n meisie gesit wat sy nog nooit vantevore gesien het nie. Maar dit was Wilhelm se gesig wat haar die meeste geskok het: die tevrede uitdrukking, soos dié van ’n kat wat die bak room voor die ander katte se neuse weggeraap het.
Hy het nooit die huis in haar naam geregistreer nie. Gedurende die maande toe sy gedink het hulle bou saam aan ’n toekoms, het hy sy planne gesmee, alles ingepalm vir die lewe wat hy saam met die onbekende meisietjie beplan het. Om al die slotte van hulle huis te verander, was net die laaste klein gebaar.
Gelukkig het woede haar deur die maande daarna gedra – ’n woede soos sy nie geken het nie, woede wat haat en wraak geword het sodat daar min tyd was om te wonder of sy verraad ook hartseer ingehou het. Miskien is dít waarom sy so maklik hierdie ooreenkoms met André gesluit het. Hou die verhouding saaklik, laat alles van die begin af deur prokureurs wettig neergeskryf word. ’n Transaksie, niks meer nie.
Waarom sy dus meer en meer toegeeflik word, verstaan sy nie eintlik nie. Sy sit selfs een aand André se uitgerafelde ou plaastrui en stop. Sy wou dit weggooi, maar hy is so lief vir die ou ding dat sy besluit het om dit liewer reg te maak. Nie eens vir Wilhelm het sy ooit so iets gedoen nie.
Dis omdat sy niks het om te verloor nie, stel sy haarself gerus. Wanneer sy aan die einde van die jaar vertrek, laat sy niks agter nie, veral nie haar hart nie.
Hoofstuk 8
Dis laatmiddag en Julia stap al langs die bykans droë rivierloop op na die berg se kant toe, na die nek waar die rivier uit die berg uitkom. Dis een van haar geliefkoosde wandelinge, veral gedurende die lang, warm somerdae. Noudat dit bedags koeler is en snags al goed koud word, stap sy nog graag hier. Dit voel vir haar asof sy in ’n tonnel loop, want die rivierloop word aan albei kante omring deur digte bosse. Sy en Radar kan ure hier deurbring. Wanneer sy moeg word, sit sy op die groot klippe en staar net voor haar uit terwyl die vreedsaamheid van die natuur haar vul. Sy luister na trekkers wat in die verte dreun, sonbesies wat skree, die geskarrel van klein diertjies, die voëls in die bome, Radar wat rondsnuffel.
Volgens André is dit droog en hy hou die lug elke dag dop vir die eerste tekens van reën. Sy is nie ’n kenner nie, maar vir haar lyk dit asof dit vandag gaan reën. Bokant die berg pak die wolke al van vroegmiddag af saam, en toe sy opstaan en verder stap, sien sy dat dit dreigend lyk. Toe sy tussen die bosse uitkom en afkyk na die plaashuis, lê die rooi dak nog in ’n kol sonskyn, maar oor die berg is die lug swart en weerligstrale skiet deur die wolke, gevolg deur ’n onheilspellende gedreun. Sy steur haar nie veel daaraan nie; sy wil nie nou al huis toe gaan nie. Die laatmiddae is lank omdat André eers teen donker huis toe kom; dis haar geliefkoosde staptyd.
Radar kom onrustig nader toe nog ’n donderslag van die berg aframmel. “Toe maar,” troos sy hom, “dis ver van ons af.” Sy tel hom op en stap aan, spring van klip tot klip in die droë rivierloop. “Ek wil net tot in die nek stap, dan draai ons om.”
Sy stap na die oorkant van die rivier omdat sy daar ’n rooi plantjie sien wat sy nie ken nie, en sy hurk nog gebukkend daarby toe sy ’n ongewone geluid hoor. Sy draai om en kyk.
In die sanderige bedding kom modderige water af, kompleet asof iemand êrens ’n kraan oopgedraai het, asof die rivier ’n leisloot geword het. Radar tjank benoud en Julia klim hoër op teen die klippe, verwonderd oor die gesig voor haar. Die dreuning word harder en vir die eerste keer voel sy ook reëndruppels op haar gesig.
Sy het al dikwels gehoor of gelees van ’n rivier wat afkom, maar dis die eerste keer dat sy dit self sien. Sy vind dit hoegenaamd nie vreesaanjaend nie; dis ’n grootse gesig. Die water rol in groter wordende golwe aan. Dit vul eers die droë bedding