Skepelinge. Karel Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skepelinge - Karel Schoeman страница 23

Skepelinge - Karel  Schoeman

Скачать книгу

ver in elk geval die teorie of beginsels van skeepvaart. Die bloedende praktyk van seemanskap word lewendig weergegee deur die anonieme ‘Amsterdammer’ waar hy beskryf hoe hy as onervare jong seeman tydens ’n storm die tuigasie of want moes uitklim om die seile aan die ra’s of dwarslatte van die maste vas te maak.

      Wy liepen dan in de maand van October 1757 in zee, ik schreef aan my ouders een uitloop brief, en dat ik het zo goed had als ik wenschen konde, want klaagen kon my dog niet helpen.

      Het ging met ons heel voorspoedig tot dat wy in de Spaanse Zee kwamen, daar kregen wy een vliegende storm, het was overal, ider moest na boven om de zeilen vast te maaken, ik was zo benauwt dat ik lilde als een juffrouws hontje in de kouw, maar wat zouw ik doen, ik moest. Ik kwam zo ver dat ik in de raa kwam, daar had ik genoeg te doen om my maar vast te houden, om niet van boven neer te vallen, het schip dat slingerde dan aan stuur en bakboord zyde, ik dagt dat er weer een zondvloed op aarde was. Ik dagt, had ik dat geweten, ik had gemaakt dat ik by myn moeders pot gebleven had, maar nu was ik er in, ik moest er ook door.

      Wy kregen de zeilen vast en kwamen weer beneden.102

      Met ‘het was overal’ bedoel hy dat die gebruiklike skeepsbevel ‘Overal!’ gegee is om álle matrose op te roep vir diens.

      Aangesien niks sonderling voorgeval het nie, slegs gewone gebeure en alledaagse skeepsdinge wat nie verdien om aan die lig gebring en in druk versprei te word nie, daar dit deur die veelvoudig gedrukte reisverhale reeds tot vervelens toe bekend is, sal ons hier niks voor die dag bring behalwe dit wat gedenkwaardig is nie.103

      OOP SEE

      Die kajuit was ’n groot vertrek wat op ’n seilskip die volle breedte van die agterskip beslaan het en was die normale woon- en werkplek van die Kommandeur van die vloot, die Onderkoopman en die skipper. Diegene wat ’n passaat op ’n Oosindiëvaarder bespreek, kon betaal om in de Cajuijt gelogeert en getracteerd te werden, alhoewel die konstabelskamer in ander gevalle gespesifiseer is.

      Predikante en sieketroosters het gewoonlik die voorreg van ’n klein kamertjie geniet wat hulle vir studiedoeleindes kon gebruik, en toe die Duitser Peter Kolb op die Unie uitseil, voorsien van aanbevelings en introduksiebriewe, was een van sy vele versoeke aan die VOC ‘dat ik een klein kamertje op het schip voor mij alleen mocht hebben, tot mijne studie, en dat ik in de kajuit met den Kapitein en andere Officieren mocht eten’. Hiervoor is hy aanvanklik 285 gulden gevra, alhoewel hy 50 gulden afslag gekry het.

      As voorbeeld van die gebruiklike kajuitgaste noem Nicolaus de Graaff mans met die rang van Koopman, Onderkoopman, Boekhouer, Assistent, Skipper, Opperstuurman, kommandant van die soldate, sieketrooster, ‘en soms ook die onderstuurmanne en derdewaak, as daar genoeg plek of ruimte is’.

      Die kajuit is dienooreenkomstig uitgerus, met ’n tafel waar 24 persone kon aansit en wat oordag skynbaar met ’n ‘groen gebloemd tafeelkleed’ bedek was, maar vir maaltye van ’n tafellaken voorsien was. By hierdie geleentheid kon dit gedek word met die tinware wat teen die agttiende eeu ouderwets begin raak het, maar waarskynlik as meer duursaam vir skeepsgebruik beskou is, naas borde en skottels van wit erdewerk; onder die tingerei val soutvate en mosterdpotte steeds op.

      Weerskante van die kajuit was daar langs die skip ’n uitbousel wat as die galery bekend was en soms ook rondom die agterkant van die skip geloop het. Hier was die ‘sekrete’ (gemakke of latrines) van die kajuitgaste, en ’n eietydse handleiding vir skeepsbou verwys na ‘2 secreten met haare deksels’.

      Geen film en geen foto’s bestaan van dit alles nie, en die moderne verbeelding is vir sy stimulusse afhanklik van die skilderkuns van die Nederlandse Goue Eeu met sy gestileerde realisme. Dog vir hierdie era, en op hierdie spesifieke gebied, is daar ook die aanvullende stimulus van meerdere handleidings by die skeepsboukuns, so belaai met sorgsame en noukeurige detail dat die sinne feitlik lewe kry, orent staan op die bladsy en driedimensioneel raak terwyl jy hulle lees, heeltemal los van enige illustrasies of diagramme wat moontlik ook aanwesig is.

      So byvoorbeeld die Nederlandsche scheepsbouw-konst open gestelt van die skeepstimmerman Cornelis van Yk, ’n publikasie uit 1697, ‘vertoonende naar wat regel of evenredenheyd in Nederland meest alle scheepen worden gebouwd, mitsgaders masten, zeylen, ankers en touwen daar aan gepast’.

      Inderdaad word iets hier onthul, geopenbaar, blootgelê en ten toon gestel: die toneel staan leeg in die skynsel van die voetligte, agterdoek, coulisse en rekwisiete almal glansend uit die hand van hul vervaardigers, wagtend op die spelers om hul verskyning te maak van waar hulle nog besig is om hulle te grimeer. Die pruike, aangeplakte baarde en snorre, aangehegte lokke, vals neuse, gewatteerde baadjies en koturne.

      Het beschot voor de hut, 2 opslaande deuren en 7 tralien daarin, 2 banken daarvoor, aan ieder zyde 2 kamertjes, ieder met een venster en een kribbe, mitsgaders 4 kooyen in de voorhut, een gang om in de Schippers kamer te komen, aldaar een ledekant met een tafel te stellen; een luik om in de kajuit te treden, en aldaar al de ramen en blinden te maken; racken om tin en glasen op te setten, mitsgaders om geweer op te leggen; racken om pistolen op te hangen; nog 2 kasjes met schuiven daarvoor; 2 ledekanten in de kajuit. Alle de deuren te hangen, en met slot en grendel wel te sluiten.104

      Daar staan dit dan gereed, die hut met sy afskortings, traliewerk en rakke, en die eerste karakters tree op. Steek die kerse aan, skink die wyn: die drama of komedie kan begin. Skipper, Onderkoopman of Matroos; Salome, Judit of die koningin van Skeba. Klink daar miskien ook ’n klavesimbel op die agtergrond? Gou, kyk wat sê die toneelaanwysings, die rekwisietelys. Anderkant die klein ruite van die vensters, glas-in-lood, glans die see haas roerloos in die maanlig. Wat kan mens meer van die lewe verwag, verlang of eis?

      Sommige van die skeepsoffisiere wat in die kajuit geëet het, soos die chirurgyns, sieketroosters en die kommandant van die soldate, is ondergebring in hutte op die agterdek, bo die kajuit. Die Duitser Wurffbain verskaf die interessante inligting dat die kajuit 9 Schuh hoog was en die hutte 7 Schuh, maar ongelukkig het die Duitse Schuh, soos ander mate en gewigte in daardie tyd, volgens plek gewissel, en byvoorbeeld 28 sentimeter bedra in Sakse, 29 in Beiere, en 31 in Pruise. Mens kom by ongeveer 2,7 en 2,1 meter onderskeidelik uit.

      By gebrek aan genoeg ruimte moes skeepsoffisiere ook in die konstabelskamer slaap, agter op die oorloopdek, onder die kajuit, wat ’n ruim vertrek was waar passasiers ook dikwels ondergebring is. In een spesifieke geval was naas die konstabel en sy maat ook ’n predikant met sy swanger vrou en hul diensmeisie, die sersant en die opperbarbier hier gehuisves. ‘There are fifteen passengers,’ skryf Bernardin de Saint-Pierre oor die Franse skip waarmee hy na Mauritius uitgeseil het,

      most of whom are lodged in the Gun-room, the place where they keep the cartouches and ordnance stores. The Master Gunner has the care of this part, and lodges here, as do also the Secretary, Chaplain and Surgeon. Above this is the Great Cabin, where the passengers dine with the Captain.105

      Onder die halfdek het die skipper se hofmeester en kajuitwagters of -bediendes geslaap, saam met die trompetters, die mans wat die hoenderhokke aan boord versorg het, en die skeepsjongens.

      In die kajuit het hierdie bevoorregte opseilendes dus ook hul maaltye genuttig. ‘Wanneer die kajuitstafel met vrouens belemmer is,’ merk De Graaff op, ‘is daar ook nog ’n na- of tweede tafel, en ’n derde op die halfdek, waar die onderstuurmanne en ander geplaas word’. Ook is daar melding van ’n tafel met banke in die konstabelskamer waar die konstabel en sy onderhoriges geëet het.

      Op die Vrije Zee waarop Simon van der Stel, die nuwe Kommandeur van die Kaap, uitgeseil het, is twee tafels in die kajuit bedien, met aan die skipper se tafel die belangrikste van die passasiers, synde Van der Stel self met sy skoonsuster en sy twee oudste seuns, naas ’n boekhouer, ’n sersant, ’n chirurgyn, ’n sieketrooster

Скачать книгу