Skepelinge. Karel Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skepelinge - Karel Schoeman страница 20

Skepelinge - Karel  Schoeman

Скачать книгу

op vermakelykheid ingestel is, ’n woord wat by herhaling in sy aanbevelings voorkom, dra dit ten minste genoegsaam kennis van die minder idilliese aspekte van die somerlandskappe wat dit uitbeeld om aan te teken dat die paaie in die winter zeer ongemakkelyk en vuil is.

      So dus, en daarmee is dit afgehandel. Nou is daar net nog hiérdie land.

ONDERWEG

      DIE SPAANSE SEE

      ‘De vloote gaende uyt Nederland naar Indien,’ het die ‘Seynbrief’ van die VOC bepaal, ‘zal by den anderen blyven tot zy de Canaal gepasseert zyn, en in de Spaansche Zee omtrent 40 mylen buiten Engelands End ofte by gissing op de lengte van de Cabo Finisterre gekomen zullen zyn.’

      Skepe van Nederlandse hawes het uitgeseil in die Noordsee, wat vroeër as die Mare Germanicum of ‘Germaanse See’ bekend was. Op 29 Mei het Albrecht Herport op die Malakka hiervandaan vertrek, vroeg in Junie het hulle ’n aanval deur ’n ‘Turkse roofskip’ onder Franse vlag afgeweer, en op 10 Junie het hulle die ‘Spaanse See’ bereik, soos die Noord-Atlantiese Oseaan destyds aangedui is. Soos sy tydgenoot Johan Nieuhof opgemerk het, beteken die naam van Kaap Finisterre, die uitstekende hoek van Spanje, ‘einde van die wêreld’. Herport se reaksie was dat hulle ‘die Christendom’ nou geleidelik uit die oog verloor.

      Vervolgens het skepe op hul suidwaartse gang die Suid-Atlantiese Oseaan binnegeseil, die Mare Aethiopicum soos dit genoem is, die ‘See van Aethiopia’ of Afrika.

      Want de oude schrijvers hebben Africa afgedeelt in vier hooftdeelen, in Barbaryen, Numidien, Lybien, ende Æthiopien, ofte der Swarten landt, uytsluytende Ægypten ende Abexin, nu Priester Johans land.88

      Die See, met één naam die Oseaan genoem, wat die ganse aardbodem soos ’n windsel omvang, kry aan die hand van die vier gewestes van die wêreld of na sy verskeie eienskappe of na die lande wat hy bespoel verskeie benamings, soos die Onstuimige See rondom Afrika na die suide.

      Met die titel Etiopiese of Moorse See skei die Oseaan voor die kuste van Abessinië van die Rooi See af, krom rondom die uiterste punt van Afrika, Cabo de Bonae spei, na die noorde, en stoot byna teen Spanje aan voordat hy hierdie naam agterlaat. Tussen die engte van Gibraltar, waar hy die naam Etiopiese See verloor, kry hy ’n ander, naamlik die Spaanse See, na die Koninkryk Spanje.89

      GEVAAR

      Oor die jare het ’n totaal van 105 skepe van die VOC op die uitreis vergaan, terwyl Jaap Bruijn vir die agttiende eeu 64 alleen tydens die uitreis en 107 vir die retoerreis aangee, naas 41 skepe wat as gevolg van oorlogshandelinge verlore is.90 Oor die jare 1720–40 was verliese besonder groot: in 1721–23 het dit gegaan om 21 skepe op die uit- en 10 op die terugreis, terwyl die syfers vir die volgende dekade onderskeidelik 9 en 21 beloop het.91

      Vir die Kompanjie was hierdie verlies telkens beduidend, op die uitreis omdat die skepe dikwels groot bedrae goud en kontantgeld na die Ooste geneem het: so het die Vergulde Draak byvoorbeeld naby die kus van Australië vergaan met ’n lading ter waarde van 185 000 gulden. Op die retoerreis weer moes die waarde van die kosbare goedere waarin die Kompanjie op sulke groot skaal handel gedryf het in rekening gebring word. Toe die Arnhem en drie ander skepe saam in ’n storm in die Indiese Oseaan ondergaan, het die inkoopwaarde van die handelsware aan boord byna 2 miljoen gulden verteenwoordig, sonder om rekening te hou met die aansienlike wins wat tydens die jaarlikse veilings in Nederland verwag kon word.

      Soms het die voltallige bemanning saam met hul skip ondergegaan, soos die Prinses Maria met 250 man, die Liefde met 300 of die Hollandia met al 276 opvarendes; dog mans kon makliker vervang word as goedere, of selfs skepe.

      Wanneer mens uit die betreklike veiligheid en gerief van ’n later tyd die matroselewe in die era van seilskepe betrag, voel jy dat slegs besonder sterk nood of avontuurlus ’n man tot ’n bestaan sou kan drywe soos dié van ’n seeman uit Texel in ’n beroepskets wat in die resolusies van die Here XVII bewaar gebly het.

      Dit gaan om ene Lourens Teunissen of Laurens Teunis—want selfs in name bestaan daar geen sekerheid nie,

      wat op 29 Desember van verlede jaar met die skip Brandenburg as loods uit Tessel vertrek het na die Kaap en van daar met Langwijk weer teruggekom het, en ’n verhaal gedoen het eerstens van oorgroot ongemakke en gevare, en voorts siektes en sterftes wat hulle op die uitreis besonderlik ten noorde van Skotland gehad en uitgestaan het.92

      ‘Wat leyd een Zeeman al verdriet’, het ’n agttiende-eeuse seemansliedjie dit bondiger gestel, alhoewel die verdriet in hierdie spesifieke geval tot liefdesavonture beperk was.

      Een van die mees onmiddellike gevare wat die seeman bedreig het, was meestal natuurlik dat sy skip sou ondergaan, deur storm of strukturele skade, maar in elk geval alléén op die oop see buite bereik van hulp, en daar bestaan talle variasies op verhale van dramatiese skipbreuk, tragiese ondergang en wonderbaarlike ontkoming.

      ’n Goeie voorbeeld van die verlies van ’n skip is die Vlissingen, ’n kleiner vaartuig van die Kamer Zeeland, wat in 1747 saam met sy bemanning van 227 op die uitreis verdwyn het en nooit die Kaap bereik het nie. In die Atlantiese Oseaan was dit moeilik om te weet waar om te begin soek, en daar was ook geen nabygeleë kus waar oorlewendes ’n heenkome kon vind nie, sodat die Vlissingen waarskynlik taamlik gou afgeskryf is en vergete.

      Hierdie duistere verdwynings word vandag dikwels aan fratsgolwe toegeskryf, wat veral in die Indiese Oseaan voorkom, maar in die geval van die Vlissingen noem die maritieme argeoloog Bruno Werz ook die swak fisieke toestand van die skip, en die feit dat daar juis op hierdie tydstip ’n hoë siekte- en sterftesyfer op die skepe van die VOC was, wat ewe goed tot ’n ramp sou kon gelei het. Vir baie jare reeds word agttiende-eeuse Nederlandse munte verspreid aangetref op die strand by Meobbaai tussen Lüderitz en Walvisbaai aan die Namibiese kus, asook meer onlangs ’n groot fragment van ’n koperkoksketel. Dit lyk dus moontlik dat die oorblyfsels van die Vlissingen hier in die nabyheid gevind sal kan word.

      Interessant genoeg is dit ’n gebied waar daar volgens Werz ook ‘extensive middens’ as herinnering aan ’n ou, voorkoloniale kultuur voorkom, ‘containing potshards, bone, ostrich egg material and stone tools’.93 Nogmaals: niks is toeval nie.

      Onder die verdere gevare waarmee die seeman van die sewentiende en agttiende eeu as normale deel van sy werk te make gekry het, was veral aanvalle deur kapers en seerowers, wat generasies lank ’n werklike en wesenlike bedreiging uitgemaak het vir alle skepe op pad na of van die Kaap en Batavia.

      Kaperskepe is in oorlogstyd deur privaat persone uitgerus om jag op die vyand te maak en ‘pryse op te bring’, soos die gebruiklike formulier gelui het, synde buit in die vorm van koopvaardyskepe, met ander woorde om die vyand soveel moontlik skade te berokken en self materiële voordeel uit die transaksie te behaal. So is die Wes-Indiese Kompanjie, teenhanger van die VOC, vernaamlik gestig vir aanslae op Spaanse skepe in die Karibiese gebied.

      Wat kaapvaart van blote seeroof onderskei het, was dat dit deur die owerheid van die betrokke staat gemagtig moes word en volgens bepaalde reëls geskied het.

      In gevalle waar een van die groot seevarende nasies die mikpunt was, soos Nederland, Engeland of Frankryk, kon kaapvaart skouspelagtige resultate oplewer. In die vroeë sewentiende eeu het die besonder ywerige Duinkerkse kapers gemiddeld 229 skepe per jaar buitgemaak, ongeveer die helfte daarvan uit die Nederlandse Republiek, terwyl die bekende of berugte Jean Bart van Duinkerken eiehandig 81 Nederlandse handelskepe verower het, en Franse kapers in die enkele oorlogsjaar 1789 vir 4200 vreemde skepe verantwoordelik was. Aan die ander kant het ’n Nederlandse skeepskaptein uit Hoorn oor die jare 1665–67 nie minder as 32 skepe gekaap nie, en die Zeeuwe was veral aktief in die kaapvaart, wat vir Zeeland

Скачать книгу