Skepelinge. Karel Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skepelinge - Karel Schoeman страница 15

Skepelinge - Karel  Schoeman

Скачать книгу

officieren en matrozen uitgezonderd, de eerste keer dat zij met een zo verpletterend element als de zee in aanraking kwamen. Het grootste deel ervoer dus weldra de onaangenaamheden van het ondernemen van zulke reizen in een voor hen zo trieste situatie.73

      ‘Wat vir ’n domheid het ons begaan?’ het die Duitser Jänzsch se vriend retories uitgeroep. ‘Inderdaad, was my antwoord; dommer kon dit nie gewees het nie.’ ‘Uit wanhoop het vele van hulle die dag vervloek toe hulle gebore is, en nou eers (toe dit te laat was) besef in watter ongeluk en ramp hulle hul gestort het, en duisend maal gewens om weer in hul vaderland te wees.’

      ‘Ons het min ervare mense by ons gehad wat hierby kon aanpas,’ berig Albrecht Herport oor die situasie op die Malakka in stormweer, ‘sodat dit ’n groot skrik onder ons veroorsaak het.’ Die Wapen van Gouda waarop J.C. Hoffmann uitgeseil het, moes ná so ’n storm reeds oorlê in die Engelse hawe Cowes op die eiland Wight, wat hy met die ou Nederlandse name Kohe en Wicht aandui, en hier het ’n bootsgesel reeds gedros terwyl hy een nag wag staan.

      Waarskynlik het die meerderheid van hierdie mans nog nooit die see gesien nie, laat staan ’n skip, en die groot, hoë Oosindiëvaarders met maste wat tot 60 meter bo die watervlak opgerys het, moet vir hulle ’n ontsagwekkende gesig gewees het. Met die uitvaar van die skip is baie van die opseilendes bowendien ook onmiddellik deur seesiekte oorval, ‘en kon niks anders doen nie as hoes, braak en huil,’ soos David Tappe onthou het. ‘Die gesondes was egter vrolik en het hulle uitgelag.’

      ’n Paar dae nadat hulle uitgevaar het, berig Bolling op die Sticht van Utrecht,

      het ons ’n besonder hoë deining gekry. In hierdie dae was ’n deel van ons bemanning so verskriklik siek dat daar nie geglo is dat hulle aan die lewe sou bly nie, want hulle was so afgemat dat hulle nie kon beweeg nie; die aantal siekes, soldate en matrose, het 89 man bedra, wat die siekte gekry het deels deur die verandering van lug, deels deur die beweging van die skip wat heen en weer geslinger het. Baie van hulle het nooit tevore enige see gesien nie—maar die meeste het ná verloop van agt dae herstel.74

      In ’n vroeë stadium reeds was daar mans wat bedenkings gehad het oor wat hulle gedoen het en probeer dros het, terwyl andere opsetlik bedrog probeer pleeg het deur diens te aanvaar en nooit van plan was om aan te monster nie. Dit het so ’n ernstige en algemene probleem geword dat die Kompanjie toestemming gekry het om sy eie provoos aan te stel, ‘met magt om het scheepsvolk dat zich in dienst van de zelve Maatschappy begeven heeft, daartoe geld op hant ontfangen had en daermee weggeloopen was, te mogen vangen en in hegtenis te nemen’.75 Daar bestaan onder andere ’n verwysing na ’n droster wat aanvaar was vir diens as kwartiermeester, een van die laer skeepsoffisiere, maar opgespoor en tot geseling veroordeel is, en daarna geboeid op ’n skip van die Kompanjie gesit is om as gewone matroos te dien.

      As roetine-onderdeel van sy aanwysings vir vertrekkende skepe het die Kamer Amsterdam die bevelvoerders opdrag gegee om sodra hulle buitengaats kom ’n lys op te stel ‘van alle de absente persoonen, zo Officieren als matroosen en soldaten’, en dit met die loods vir die Bewindhebbers te stuur, sodat hulle opgespoor kon word.

      DIE VERSONKE WÊRELD

      En hier waar die mans op die uitseilende skepe op die punt staan om hul geboorteland te verlaat, of in elk geval die vasteland waar hulle gebore is, en in baie gevalle sonder enige waarneembare gevoelens van dankbaarheid, verbondenheid of geneentheid, inteendeel, dikwels eerder tot wedersydse verligting: hiér het die moeilikste oomblik aangebreek.

      Dit is naamlik nie die skeepsreis wat hier so uitvoerig bespreek word wat eintlik van belang is nie, al het dit die essensiële voorwaarde vir die koms van die immigrante uitgemaak, en die uitreis is trouens ál wat hulle gemeen het, daardie duisende en tienduisende mans van veelvoudige herkoms, die paar maande van hul uitreis en die gedeelde lewe van bakdek, oorloop en koebrug. Met die aankoms is hulle verstrooi, matrose, soldate, ambagsmanne en immigrante, versprei, elkeen na sy eie noodlot en bestemming, slegs nog gebind deur die feit dat hulle gesamentlik verantwoordelik gehou moet word vir die totstandkoming van hierdie land waar ek twee of drie eeue later wakker lê in die nag, wakker gehou deur die gewig, die las van hul nalatenskap of die bewussyn van wát daarvan oorgebly het: voetstukke van standbeelde, die herinnering aan ou plekname, koerantberigte oor feesvierings en gedenkdienste waaraan niemand meer herinner wil wees nie, die biografieë van politici, predikante en Boeregeneraals in naslaanwerke wat niemand meer raadpleeg nie.

      Wat die uitreis betref, kan mens met gerustheid veralgemeen, en met betrekking tot hul verblyf in hierdie land kan ten minste ’n buitelyn van elke afsonderlike bestaan gewoonlik met behulp van amptelike dokumentasie soos monsterrolle, boedeldokumente en die jaarlikse opgaaf geskets word. Die probleem kom by die Europese agtergrond, die wêreld waaruit hulle gekom het, die lewe waarin hul grootgeword het, want hieroor het min van hulle ooit iets prysgegee, en in baie gevalle seker ook nie sonder rede nie.

      Die Nederlandse kusprovinsie Zeeland, wat so ’n leidende rol in die sake van die VOC gespeel het, bestaan grotendeels uit eilande, en was verplig om oor die eeue ’n ononderbroke stryd teen die see te voer, in die loop waarvan groot stukke land, die sogenaamde ‘verdronke lande van Zeeland’, permanent onder die water verdwyn het:

      Het verdronken land in de provincie is heel verschillend. Sommige gebieden zijn helemaal verdwenen, zoals het Zuidland van Schouwen. Andere bestaan voort als schorren en slikken die bij vloed (gedeeltelijk) onderlopen, zoals het Verdronken Land van Saeftinghe in de Westerschelde. Weer andere zijn herdijkt en opgenomen in nieuw polderland—zoals Noord-Beveland.76

      Oor die eeue het meer as ’n honderd Zeeuwse dorpe onder die vloedwaters verdwyn, en so ook ’n enkele stad, Reimerswaal, op sy dag die derde stad in die provinsie. Met ingang van 1530 is die land rondom die stad in ’n reeks verwoestende storms en oorstromings heeltemal oorspoel, in 1557 het die stadsmure ingestort, en teen die begin van die agttiende eeu het ál wat nog oorgebly het, ’n eilandjie met ’n paar bouvalle, ook onder die golwe verdwyn. In 1978, berig Wikipedia, ‘bouwde Rijkswaterstaat een schutsluis (de Bergse Diepsluis) op een van de rijkste archeologische monumenten van Nederland, als onderdeel van de Oesterdam. De restanten liggen vanaf die tijd onder een laag asfalt.’77

      Maar mens kan in Zeeland verder teruggaan as dit, na die Romeinse nedersetting Ganuenta aan die suidelike oewer van die Schelde. Hier het daar ’n tempel ter ere van die godin Nehalennia bestaan waar talle seereisigers tussen die Ryngebied en Britannia vir ’n goeie reis kom bid het, totdat dit omstreeks 300, ná die Romeinse tyd, ook onder die golwe verdwyn het.

      In 1970 het ’n plaaslike visserman stukke van ’n Nehalennia-altaar in sy nette na die oppervlak gebring, en doelgerigte ondersoek op die plek het oor die volgende paar jaar ongeveer 240 altare, beelde, votiefstene en restante van bouwerk opgelewer; ’n ander bron verwys na 330 altare wat teen 2003 hier teruggevind is, ‘naast negen grote godinnenbeelden, waarvan drie bijna volledig’.78

      So, by wyse van spreke, lê die Europese verlede van elkeen van daardie Kaapse immigrante van weleer intak onder die water, altare, votiefstene, boufragmente en groot godinnebeelde, ingebed in modder, slik en gruis, onherwinbaar, onredbaar, vir alle praktiese doeleindes vir goed buite bereik.

      Instort, ineenstort, in duie stort, inkalwer. Waarom resoneer die woorde só in my verbeelding?

      Het volk dan juichte, als zij met de bazuinen bliezen; en het geschiedde, als het volk het geluid der bazuin hoorde, zo juichte het volk met een groot gejuich; en de muur viel onder zich, en het volk klom in de stad, een ieder tegenover zich, en zij namen de stad in.79

      Oorstroom, oorspoel; stortvloed, watervloed, oorstroming.

      dat die nag

      soos watermure oor my vloei …80

      ’n

Скачать книгу