Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman страница 25
Tasha … registreer Carmia. Sy onthou die nadenkende uitdrukking op die meisie se gesig toe Margo hulle voorgestel het. Sy moes geweet het Tasha sal nie gras onder haar voete laat groei om die situasie uit te buit nie. Die vroumens het haar visier op Deneys en sy sal nie toelaat dat ’n ander meisie hom inpalm nie.
Deneys sluit sy oë ’n oomblik en vryf met sy hand oor sy voorkop asof hy hoofpyn het. “En my ouma … Weet sy wie jy is?”
Carmia is met haar rug teen die muur. As sy dit ontken, is dit weer ’n leuen wat hy later teen haar kop kan gooi. En as sy erken Margo weet, betrek sy haar werkgewer by die komplot. Sy skuld dit aan Margo om haar te beskerm.
“Ek is agter met my werk,” sê Carmia met ’n kalmte wat sy van êrens opdiep. “Jy het nou jou sê gesê, en ek kan verstaan dat jy my kwalik neem. Jy het alle reg daartoe. Ek het gesê ek is jammer en probeer verduidelik wat die situasie was. Maar nou moet ek dringend hierdie hoofstuk klaarkry. Ons private vete sal moet wag tot later. Dit word laat … Moet jy nie ook gaan vlieg nie?”
Deneys kyk ergerlik op sy horlosie. “Ja, in my maai in gaan vlieg!”
Hy stap weg en klap die deur byna uit sy skarniere uit agter hom toe.
Carmia hoor dit skaars. Hoor ook nie toe die viertrek se deur klap en die gruis in alle rigtings spat soos hy wegtrek nie. Sy laat haar kop in haar hande sak terwyl hygende snikke haar skouers laat ruk.
10
Laatmiddag, toe Margo gaan rus het, bel sy vir Vita.
Dis nie hul gewone tyd nie en haar suster is verbaas. “Wat’s verkeerd?”
“Alles!”
“Hoe klink jou stem so vreemd? Is jy siek?”
“Nee …” Carmia neem ’n sluk van die sterk, swart koffie waarmee sy haar deur die dag aan die gang gehou het. “Ous, nou moet jy mooi luister, nie grappe maak nie en my eerlik antwoord … Oukei?”
“Oukei. Wat het gebeur?”
Carmia vertel van die rusie met Deneys, sy beskuldigings en haar vrees dat sy oor drie dae nie meer ’n werk gaan hê wanneer hy terugkom van die Kaap af nie.
“Jy werk mos nie vir hom nie, jy werk vir Margo,” stel Vita haar gerus.
Carmia is nie oortuig nie. “Vertel dit vir hóm. Hy wil my hier weg hê; hy gaan my agt en veertig uur kennis gee.”
“Wat sê Margo?”
“Sy weet nog nie van al die drama nie. Sy is van gister af nie lekker nie – sy slaap sleg en het chronies hoofpyn. Ek is bekommerd, maar sy wil nie dat ek haar dokter toe neem nie. Sy sê hulle snuffel kwale uit wat sy nie het nie en wil haar in die hospitaal sit, waar sy nie wil wees nie. Ek wil nie my probleme op haar laai nie; hierdie ding is tussen my en Deneys. Ek wil hê jy moet my presies vertel wat destyds tussen julle twee gebeur het.”
Vita stotter en praat bont, maar Carmia gee nie skiet nie. “Het hy jóú afgesê, of jy vir hom?”
“Wel, dis eintlik ’n lang storie …”
“Ek het tyd om te luister.”
Vita kom met ’n lang aanloop. “Jy sê jy het self ook boots en all vir hom geval?”
“Ja, maar dis nie ter sprake nie. Ons praat nie nou oor my nie, ons praat oor jou.”
“Ek noem dit net, sodat jy kan begryp hoe ek destyds gevoel het. Ek was gek oor hom, mal verlief … Dís die uitwerking wat Deneys op meisies het. As hy aan boord was, het die waardinne baklei oor wie die stuurkajuit bedien. Ek ook … Deneys was my alles. My trouman. Ek het al besluit hoe my rok gaan lyk en dat ons Rio toe gaan vir ons wittebrood …”
“Ek onthou. En toe?” por Carmia haar aan. “Wat het gebeur?”
“Andy Hartwell het gebeur,” antwoord Vita eenvoudig. “Ek het nie daarna gesoek nie – Deneys was al wat ek in die lewe wou hê. Maar ’n mens se hart laat hom nie voorskryf nie. Dit was op ’n Perth-na-Brisbane-vlug, en toe die groot ou in die blokkieshemp en Stetson-cowboyhoed diep in my oë kyk en sê: ‘Howdy, girl!’, was ek verlore …”
Carmia raak ongeduldig. “Ek wil nie van Andy weet nie; ek ken die storie. Ek wil van jou en Deneys weet.”
“Deneys duld nie dat ’n meisie ander manspelle het nie, en hy het my soos ’n blompot behandel.”
“’n Blómpot?” herhaal Carmia. “Is dit goed of sleg?”
“Ander meisies sal seker gevlei voel, maar jy ken my. Ek wil my eie ding doen – nie in ’n glaskas gesit word omdat hy bang is ek breek nie. Andy is die teenoorgestelde. Ek kan doen wat ek wil: bietjie flirt met die klomp cowboys, op ’n brumby se rug klim, dingo’s jaag … Dis ekke – ’n tomboy, nie ’n blompot nie. Andy verstaan my, want ons is eenders. Die gevoel wat ek vir hom het, is opregte liefde. Rustig, soos ’n groot rivier se vloei. Nie net vol maalkolke en stroomversnellings soos ek met Deneys gehad het nie.”
“Het jy dit so aan Deneys verduidelik?”
Vita kug ongemaklik. “Dis waar die moeilikheid gekom het; ek het nie geweet hoe om hom te vertel nie. Ek was skaam en wou hom nie seermaak nie. Toe hou ek aan uitstel. Weke lank, ná ek al ’n keer op Toowoomba gaan kuier het. Ek het tien keer ’n brief begin waarin ek dit aan hom verduidelik het, en dit elf keer gedelete. Hom probeer bel, maar ons vlugte het nie oorvleuel nie en ek het hom elke keer gemis. Selfs eenkeer met ’n oornag-Durbanvlug laat die aand uitgery Skamanga toe, maar voor dooimansdeur gekom. Teen daardie tyd het die skinderstorie die hele lugdiens vol gelê, en op die ou end het Deneys dit by ander mense gehoor. Hy het deur die dak geklim. Ontplof. My uitgeskel en afgeskryf. Hy het my steeds nie vergewe nie, volgens Margo.”
“Nee. En nou dink hy ek is ook als wat sleg is, omdat ons susters is.”
“Ek is jammer. Ek het aangejaag en hom swak behandel. Agterna het ek Skamanga toe gebel en probeer verduidelik, maar hy het die foon neergesit. Ek het uiteindelik sover gekom om ’n lang e-pos te skryf om vergifnis te vra vir my gedrag, maar ek weet nie of hy dit ooit gekry of gelees het nie.”
“Hoekom het jy my laat glo dit was alles sy skuld omdat hy dwars en stroomop was?”
“Seker maar … om my gewete te sus, of om myself in ’n beter lig te stel. Dit was lelik van my en ek is baie jammer, Karrie. Maar dis te laat, nè?”
“Veels te laat, ja. Hy het vanoggend hier uitgestoom soos ’n lokomotief wat ’n berg soek om plat te ry. Ek dink ek moet solank my tasse uit die kas haal.”
“Daardie ou van die koerant het natuurlik die situasie vererger.”
“Ja. Deneys dink ek het stringe kêrels wat ek aan ’n lyntjie hou. Ek weet nie hoe om hom te hanteer nie.”
“Deneys is een uit ’n duisend – beter as wat ek hom geskets het. Maar hy is nie ’n absolute engel nie, sussie. Hy ís moeilik, dikwels onmoontlik. Die soort ou met wie jy mooi moet werk. As hy terugkom, wees geduldig. Vriendelik en lieftallig. Trek weer daardie nuwe sonrok aan, skink twee glasies wyn en nooi hom om dit saam met jou op die patio