Uit die Beek 2019. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Uit die Beek 2019 - Barend Vos

Скачать книгу

hou my styf vas wanneer U my om die lyf het! Help my om die musiek te hoor, om die ritme te volg. Om van pure lekkerkry saam te sing.

      Sondag 6 JANUARIE 2019 Lees Jesaja 60:1-6

      Skyn!

      Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring (v. 1).

      Dit is nie ’n onbekende beeld vir gelowiges nie, dié van die lig wat hulle ontvang het en waarmee hulle nou hul wêreld moet verlig. Jesus gebruik dit ook in sy groot preek op die berg waar Hy aan sy volgelinge sê hulle is die lig vir die wêreld (vgl. Matt 5:14-16).

      Paulus sluit later hierby aan en sê mense wat deur God verander is, moet lewe as “mense van die lig” (Ef 5:8).

      Veel later sou kinders ’n Hallelujaliedjie leer wat hulle aanspoor om te skyn, selfs al is dit maar effentjies. So skraps soos “jy in jou klein hoekie, en ek in myn’ ”.

      Aan Jerusalem word belowe dat die donker dae verby is. Dat die Here se teenwoordigheid die duisternis verdryf het en ’n nuwe dag gekom het. En, soos motte na ’n kers, word almal nou na dié lig gelok: nasies en konings, seuns en dogters, rykdom en roem.

      So gee die Here alles wat nodig is aan hierdie eens verwoeste stad. En al wat gevra word, is: Laat skyn nou die lig wat jy ontvang het! Leef uit wat die Here jou gegee het. Wéés wat jy deur sy genade geword het. En kyk dan wat gebeur …

      Jesaja 60 bruis van belofte, van troos. Gelowiges kan dit gerus oorweeg om dit meer dikwels te lees en só te leer van die Here van alle tye. Sodat hulle in tye soos dié weer bewus kan word van Hom wat lig gee, wat Lig is. Die Een wat ’n skynbaar nimmereindigende donkerte verjaag.

      Hy wat alles gegee het sodat sy kinders in die lig van sy gawes kan leef.

      ____________________

      U is my Lig. Laat my tog skyn, skyn, skyn!

      Maandag 7 JANUARIE 2019 Lees Efesiërs 4:17–5:1

      Anders

      Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het … (v. 22).

      Dit is die kern van Paulus se pleidooi aan die gemeentemense in Efese: Julle is nou anders, omdat Christus julle anders gemaak het. Gaan lewe dus nou ánders. Anders as vroeër, anders as die heidene.

      Dit is nie maklik nie. Andersheid is om vreemd te wees. Anders­heid laat jou uitstaan, dit maak jou sigbaar. Nou sien mense jou raak, en hulle hou nie noodwendig van wat hulle sien nie. Want andersheid ontlok agterdog, selfs argwaan. Dalk ook jaloesie: Wie dink hy is hý? Dink sy dat sy beter is as ons?

      Die hartseer is dat laasgenoemde beskuldigings dikwels meer as ’n greintjie waarheid bevat. Mense wat in gehoorsaamheid anders begin lewe, is soms alte bewus van hierdie andersheid. En straks eerder trots daarop as dankbaar daarvoor. Dan bekyk hulle hul medemens deur ’n nuwe bril, eensklaps vol afkeuring. Leer hulle teregwysende taal aan. Help hulle graag ander mense reg en sê: Nie dat ons hulle veroordeel nie, maar …

      En so verloën gelowiges wat opgeroep word om anders te lewe die eerste beginsel van hul andersheid: Dit is Christus wat hulle anders gemaak het. Hul andersheid is nie ’n uitvloeisel van hul eie goeie keuses nie; dit is die genadige gevolg van God se harde werk in hul lewe.

      Daarom beklemtoon Paulus hier nederige solidariteit: “Ons is lede van dieselfde liggaam” (v. 25); “wees goedgesind en hartlik teen­oor mekaar” (v. 32). Sien, mense wat nou anders is, onthou hoe hulle vroeër was. En hoe onmoontlik dit is om sélf anders te word.

      Hulle weet maar te goed wat dit hul Verlosser gekos het. En wat sy houding is teenoor diegene wat steeds vasgevang in eenders­heid lewe.

      ____________________

      Herinner my gereeld, Here, aan waar ek vandaan kom. Wat ek nou is, is net genade.

      Dinsdag 8 JANUARIE 2019 Lees Efesiërs 5:15-20

      Soek-soek

      Wees baie versigtig hoe julle lewe … soos verstandiges (v. 15).

      Ons lewe in ’n goddelose tyd, skryf Paulus amper twee duisend jaar gelede. Ook maar goed hy sien nie wat deesdae gebeur nie …

      As deel van sy uitgebreide vermaning dat diegene wat deur Christus verander is ook anders moet lewe, as “mense van die lig” (v. 8) moet lewe, voeg hy by: “Maak die beste gebruik van elke ge­leentheid …” (v. 16). Of, soos in die 1933/53-vertaling: “koop die tyd uit”. Carpe diem, sou die ou Romeine sê. Gryp die dag!

      Dit klink gevaarlik naby aan ’n selfweerspreking: Eers maan Paulus die Efese-gelowiges om “baie versigtig” te lewe (“nougeset”, lui die 1933/53-vertaling), maar moedig hulle daarna aan om elke geleentheid aan te gryp. Pasop … én gryp! Keer … én kom!

      Hoe verduidelik jy dit aan jouself?

      Seker maar soos dit met elke Bybelse uitspraak die geval is: soos ’n verstandige mens. Met die gawe van goeie oordeel wat die Here aan sy kinders gee. Met die vaste voorneme om die dinge te “onderskei waarop dit werklik aankom” (Fil 1:10).

      Dán sal jy weet – of ten minste begin leer – om in alle om­stan­dighede die Here se wil vir jou lewe te soek. Jy leer dat dit inderdaad ’n soektog is, ’n gedurige gevra: Is ek op die regte pad, Here? Hou ek nog die koers wat U vir my in gedagte het?

      Dan begin jy agterkom waar om te vat en waar om te los. Jy leer die kosbare kuns van tydsberekening aan. Jy gryp nie meer wat voorkom nie; jy neem dit wat Hy aan jou gee gretig aan. Jy leer om ja te sê, en nee. Jy doen dinge wat by die Here se begenadigdes pas; die res leer jy af.

      ____________________

      Net by U, Here, leer ek. Maak my ’n toegewyde, blymoedige student.

      Woensdag 9 JANUARIE 2019 Lees Numeri 24:15-19

      Nuutgemaak

      “… die openbaring aan ’n man wie se oë geopen is … wat die woorde van God hoor, wat sy kennis ontvang het van die Allerhoogste …” (v. 15-16).

      Bileam. Dit is die man wat hier aan die woord kom. Getroue Bybel­lesers sal verskoon word as hulle maar half teësinnig na dié man luister; hy is immers die een wat sy donkie so geslaan het dat dié luidkeels geprotesteer het (vgl. Num 22:22-35).

      Maar donkieslaners is net mense … Wat om verskoning kan vra (vgl. Num 22:34) en wat opnuut deur die Here in diens geneem word (vgl. Num 22:35) en wat dan, soos die Here hulle voorsê, op ’n ander manier begin optree.

      Én anders praat as wat hulle gewoond was om te praat. Tot die ontsteltenis van diegene wat daarop staatmaak dat die óú Bileam aan die woord kom. Die ontevrede Balak skel op Bileam: “Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek, en jy het hulle nou al drie keer geseën. Maak dat jy wegkom …” (Num 24:10-11).

      Só gaan dit maar met mense wat ’n ontmoeting (al was dit ook ’n hartseer konfrontasie) met die Here gehad het: Hulle is nie meer dieselfde mense as voorheen nie. En dikwels betaal hulle ook die prys daarvoor. Dit is nie

Скачать книгу