Uit die Beek 2019. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Uit die Beek 2019 - Barend Vos

Скачать книгу

bloot “halle­luja!” sê.

      As jou woorde egter opraak of jou gemoed te vol is, dan help hierdie psalm baie. Ook as jy nie gewoond is aan dergelike jube­lende gebede nie.

      Hier hoor jy (of word jou vermoede bevestig) dat die Here se goedheid van lankal af kom. Van vér af. Dat die geslagte voor jou al daarvan geweet en daaroor gejubel het. Dat dit vir almal wat na Hom kyk vir hul volgende maaltyd, ’n troos is dat Hy hulle raaksien (vgl. v. 15) en dat Hy sy hand vir hulle oopmaak en oorvloedig gee (vgl. v. 16). Dat sy kinders se nood nie by Hom verbygaan nie. Dat Hy naby hulle én hul nood is (vgl. v. 18-19).

      Daarom, dankbare mens, lees hierdie psalm hardop. Doen dit weer en weer. Laat hierdie ou, ou woorde nuut word in jou gemoed. Pas die destydse besonderhede aan by jou eie gewaarwordinge. Laat die psalmdigter se “ek” gerus jou eie “ek” word.

      En laat sy digterlike vryheid ook jou emosies loslaat. Lag saam met hom. Waag dit om deur sy entoesiasme oorrompel te word. Werklike lof laat hom mos nie voorskryf nie, en dankbaarheid hoef tog nie brieke te hê nie.

      ____________________

      Here, hoor my: Halleluja! Halleluja! Halleluja!

      Dinsdag 22 JANUARIE 2019 Lees 1 Korintiërs 1:3-17

      Eensgesind

      Is Christus dan in stukke verdeel? (v. 13).

      Nou ja, verdeeldheid in die kerk is dus so oud soos die kerk. Hoe­kom verras dit niemand nie?

      Omdat ons weet: Ons, die gelowiges, is die kerk. Ons weet eerste­hands hoe verdeeldheid in die kerk lyk. In ons eie klein kring.

      Dit is maar die ding met mense, klaarblyklik van altyd af: soveel siele, soveel sinne. Boonop probeer ons lewenslank om ander na ons standpunt oor te haal; self is ons nie juis vatbaar vir oortuiging nie.

      Wanneer dit boonop by die navolging van leiers kom, is die kerk en die kerk se mense soos tipiese landsburgers behep met die klein­like politiek van hul tyd. Daarom sal die Korintiërs breëbors loop en verkondig: “Ek is ’n Paulusman!” Of: “Ons is Apollosmense.” ’n Ander sal uitroep: “Nee, Sefas is ons leier!” Daar is ook dié wat uit geestelike hoogtes op hierdie lotjie sal afkyk en beterweterig verklaar: “Ék volg Christus, nét vir Hom.”

      So teken ons punte teen mekaar aan. Hou ons telling van ons geestelike voorspoed en vergelyk dit gereeld met dié wat dieselfde Bybel as ons lees en dieselfde God as ons aanbid. En so maak ons teenstanders van hulle wat familie is. Vind ons die een of ander perverse genot daarin om mekaar te uitoorlê. Om wenners! wen­ners! wenners! te wees, ten koste van hulle wat ons in ons vroom oomblikke “broers en susters” noem.

      Op dié manier, raas ’n hartseer Paulus, kap ons Christus se lyf in stukke. Kruisig ons Hom opnuut op die wreedste moontlike manier. En dit kamma in sy Naam.

      Wat ’n prys betaal Christus se kerk nie vir sy lede se selfbehept­heid nie. Deur die eeue, tot vandag.

      ____________________

      Verlos u kerk, Here, elke dag van egoïsme. En U moet maar by my begin.

      Woensdag 23 JANUARIE 2019 Lees Lukas 5:33-39

      Gewoontes

      “En niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is goed” (v. 39).

      Die navolging van tradisie is ’n groot seëning. Dit anker jou aan iets wat groter en ouer en sterker is as jy.

      Dit is dus ’n voorreg om jou in ’n bepaalde gewoonte of gebruik te verlustig, om mettertyd daarin tuis te kom, om uiteindelik te kan sê: Dit is óns manier dié, dit is my en my mense se eiegoed. Sulke dinge het kloukrag: Jy hou daaraan vas, en dit hou jou vas.

      Daarom is verandering nooit sonder meer ’n vreugde nie. In­teendeel: Daar word dikwels gefrons en gemompel en gemur­mureer wanneer iemand hardop iets sê oor “vernuwing”. Of uitroep: Ons leef in ánder tye! Of skimp dat jy en jou denke outyds is.

      Dis dus geen wonder dat Jesus en sy volgelinge se eet- en drink­gewoontes soveel aanstoot aan die tradisionaliste gegee het nie. Dit was vir hulle vreemd en selfs bedreigend. Hulle skroom nie om daaroor te mor nie.

      Jesus se antwoord maak hulle stil, vir eers. Hy vertel hulle ’n gelykenis (nuwe wyn; ou velsakke) waarvan die eenvoudige logika geen teenspraak duld nie.

      Toe gee Hy hul suur opmerkings boonop ’n doodskoot deur prontuit te sê hul ontevredenheid het nie ’n teologiese grondslag soos wat hulle wou voorgee nie. Nee, sê Hy, julle klou vas aan sinlose ou opvattings omdat julle verknog geraak het aan die voorspelbaar­heid daarvan. Julle is gewoond aan die “ou wyn” en daarom weier julle om daarvan af te sien. Julle maak dus van tradisie ’n wapen om verandering te beveg.

      Waarom sou mense so iets wou doen? En dit boonop kerkmense?

      ____________________

      Here, Verlosser, bevry my en my mense van ons krampagtigheid.

      Donderdag 24 JANUARIE 2019 Lees Romeine 7:1-6

      Moets en moenies

      Daarom moet ons nou ’n vrugbare lewe lei in diens van God (v. 4).

      Dit is nogal iets vir gelowiges uit alle geslagte om te weet: Die ou bedeling se soort diens is verby; in die nuwe bedeling is die diens anders. In die ou bedeling, skryf Paulus, “het ons vrugte gedra in diens van die dood” (v. 5). “Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees …” (v. 6).

      Terneerdrukkend en doods, teenoor opgewek en nuut. Wat ’n vreugde is hierdie huidige bedeling tog!

      En, nee, dit is nie juis nuus nie; dit is ou nuus. Die ou-ou tyding, die boodskap van God se heil: Toe Jesus gekom het, het alles ver­ander. Radikaal. Die nuwe bedeling wat só aangebreek het, het niks minder gedoen nie as om die gelowiges van die ou bedeling te bevry. Jesus heet immers ook “Verlosser”.

      Deur die eeue het dankbare gelowiges hierdie verlossing ge­reeld gevier. Christus se kerk maak ruim voorsiening vir dié soort viering – deur te sing en te bid, deur te eet en te drink. Deur mens te wees voor God se aangesig, volledig, verlos. En ons weet mos baie goed – prys Hom daarvoor! – waarvan ons verlos is.

      Paulus help ons nou ook om te leer waartoe ons verlos is. Hoe die nuwe bedeling in verlostes se lewe moet lyk. Ja, “moet” (v. 4).

      Dit is, aldus dié apostel-van-genade, ’n móét dat ons lewe vrug­baar verloop, in God se diens. Ons moenie toelaat dat ons vreug­defeeste ons tot ’n passiewe laat-maar-loop-houding verlei nie. Daar is wérk.

      Werklike godsdiens is tog ’n diens. ’n Dankbaarheidsdiens, ja, maar uit beginsel een wat met opgerolde moue moet plaasvind. Met ’n dankbare hart wat voortdurend moet vra: “Wat wil U hê moet ek doen, Here?”

      ____________________

      Hier is ek, Here, u verloste kind. Stuur my, wys my, gee my u opdragte.

      Vrydag 25 JANUARIE 2019 Lees Nehemia 2:1-10

      Aangename

Скачать книгу